Raad se reuse riool-probleem ry omgewing bloots Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 October 2016 22:45
Untitled Document

Rou riool het in September weer langs Garstfonteinweg-verlenging neffens Mooikloofrif afgeloop. Dié stinkspul pla omliggende inwoners, ondernemings en selfs motoriste wat in Garstfonteinweg-verlenging verby ry, jare reeds.

In 2012 het ons berig dat niemand wou pa staan vir die rioolpompstasie wat Mooikloofrif bedien nie.

Mooikloofrif se landgoedbestuurder, Theo van Rensen, het destyds gesê dat dié pompstasie op ‘n servituut gebou is en dus nie Mooikloofrif se verantwoordelikheid is nie, alhoewel hulle aanhou om die pompe reg te maak.

Volgens munisipale amptenare het die landgoed se ontwikkelaars, M&T, destyds nooit die pompstasie aan Kungwini-munisipaliteit oorhandig nie en pogings om dié probleem uit die weg te ruim het jare geduur.


Die riool stroom uit ’n kompleks by Mooikloofrif
Foto: John Potgieter

Stasie
In April 2013 het ons berig dat Mooikloofrif se rioolprobleem uiteindelik opgelos is deur die bou van ‘n nuwe rioolpompstasie. By navraag het Theo verduidelik dat die rioolprobleme in September vanjaar niks met die nuwe rioolpompstasie te doen het nie.

Hy het gesê dat daar niks fout was met die stasie nie en dat die riooloorstroming deur ‘n vet-verstopping in die rioolpype van een van die komplekse in die landgoed veroorsaak is. Die vetverstopping is uitgesuig en die probleem is opgelos, sê hy.


Die riool dam op langs Garstfonteinweg-verlenging met Mooikloof Perde-landgoed in die agtergrond
Foto: John Potgieter

Theo sê hy wil dit duidelik maak dat slegs die riooloorstroming aan die oostekant van die landgoedontwikkeling, aan B-House se kant, van Mooikloofrif af gekom het. Die oorstroming aan die westekant van Mooikloofrif, aan Plastic View se kant, is volgens Theo Mooikloof Village-winkelsentrum se riool wat onderdeur Garstfonteinweg stroom. Hy het gesê dat dié riool al weke lank oorloop en dat hy die saak by die winkelsentrum aangemeld het.

Dié riool hou ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir duisende mense en diere in. Onbehandelde riool vloei al jare reeds in die Zwavelpoortspruit tot in die Pienaarsrivier.


Die pad wat Mooikloofrif se riool aan die oostekant van die landgoed-ontwikkeling geloop het. B-House kan in die agtergrond gesien word
Foto: John Potgieter

Skuld
In Januarie 2013 het ons berig dat destydse raadslid vir wyk 91, Lex Middelberg, bevestig het dat Mooikloofrif nie die enigste landgoedontwikkeling in die omgewing is wat ‘n riool-probleem het nie.

Verlede maand het ons berig dat van die besware wat teen nuwe ontwikkeling suid van die Bronberg ingebring is, die gebrekkige rioolstelsel in dié omgewing is. Louise Kritzinger van Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat het in ‘n skriftelike klag aan die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling gesê dat die munisipaliteit grootskaalse ontwikkeling suid van die Bronberg toegelaat het en dat die infrastruktuur oorlaai is.


Die pad wat die riool langs Garstfonteinweg-verlenging geloop het. Blesbokstraat se T-aansluiting is regs in die agtergrond
Foto: John Potgieter

Sy het gesê dat die bestaande rioolaansluitingspunt in dié gebied nie gebruik kan word nie, dat daar geen werkbare oplossing daarvoor is nie en dat daar beplan word om riool bo-oor die Bronberg te pomp.

Dié feit het aan die lig gekom in die openbare deelnameproses rondom die voorgestelde ontwikkeling van ‘n nuwe 100 ML water reservoir bo-op die Bronberg.


Dié rioolopdamming kom vanaf Mooikloof Village, volgens Theo van Rensen
Foto: Theo van Rensen

Probleem
Mike Strange, raadslid vir wyk 101 waar die bestaande en voorgestelde nuwe reservoirs is, sê dat hy nie bewus is van enige planne om riool bo-oor die Bronbergrif te pomp nie.

Hy het bevestig dat riool ‘n groot probleem in die eks-Kungwini gedeeltes van die metroraad se gebied is.

Volgens Mike is daar gereelde rioolprobleme in Olympus, wat deur bourommel op boupersele veroorsaak word. In baie gevalle moet duur en skaars toerusting ingebring word om dié bourommel uit die rioolstelsel te verwyder.

Konstruksiemaatskappye is bewus gemaak van die probleem, maar bourommel beland steeds in die stelsel. Mike sê hy is bekommerd dat dieselfde probleme in die stormwaterdreine sal opduik. Dit sal eers sigbaar word met die eerste groot reën.


Die riool wes van Mooikloofrif, aan Plastic View se kant
Foto: John Potgieter

Pyplyn
Mike het gesê dat hy bewus is van ‘n rioolpyplyn wat langs die Zwavelpoortspruit beplan word tot by die druiweplaas by die laagwaterbrug oor Achillesweg. Hy het gesê dat ‘n rioolpompstasie beplan word om massa-riool vanaf Achillesweg na die Olympus-rioolaansluiting te pomp, vanwaar swaartekrag dit na ‘n rioolbehandelingsaanleg sal voer.

In Mei 2015 het ons berig dat Zwavelpoorters omgekrap is oor dié beplande rioolpyplyn se roete wat deur hulle eiendomme gaan loop. Die rioolpyp gaan van The Hills residensiële landgoed in Garstfonteinweg-verlenging langs die Zwavelpoortspruit tot by Achillesweg afloop, waar daar op gedeelte 192 ’n vergaarbak, kragopwekker en pomp gebou gaan word. Die riool word van daar af langs Achillesweg opgepomp en gaan deel van ‘n nuwe munisipale rioolstelsel vorm.

Dié projek word deur Century Property Developments namens die metroraad behartig.

 

© 2024 Die/The Bronberger