Nuwe Cullinan-pad woel verby Oudorp Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 September 2016 19:21
Untitled Document

Die nuwe Cullinan-verbypad gaan vlak verby Oudorp se huise loop. Só het mense gehoor by ‘n opedag wat op 7 September deur JG Afrika by Cullinan Diamond Lodge gehou is.

In Augustus verlede jaar het ons berig dat Cullinan se toegangspad, wat verby die myn se oop put geloop het, toegemaak is omdat die afstand tussen die pad en die myn se oop put al hoe kleiner geword het en die pad ná grondstortings nie meer veilig was nie.

‘n Tydelike verbypad, ‘n grondpad van 1.9 km, herlei verkeer vanaf die noorde van Pretoria na dié dorp.

Die beraming was dat die grondpad vir ongeveer twee jaar gebruik sal word tot konstruksie aan ’n nuwe pad, die K14, wat aan Oudorp se suidekant gaan verby loop, klaar is.

‘n Servituut vir dié pad is reeds in die 1960/70’s in die ou PWV Roetebeplanning vir die Witwatersrand vasgelê en geregistreer. Die basiese roete is in 1978 goedgekeur.

Die tydelike grondpad loop vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) en sluit by Zonderwaterweg-wes aan wat verkeer by die landdroskantoor met die Rayton-pad (R515) laat aansluit.


Die groen roete links op die foto is die bestaande K14 (Zambeziweg-verlenging); die pienk roete is die voorgestelde K14-uitbreiding verby Cullinan se Oudorp; en die blou roete is die voorgestelde herleiding van Zonderwaterweg

JG Afrika Ingenieurs en Omgewingskonsultante is aangewys as die onafhanklike omgewingspraktisyns wat die omgewingsmagtigingsproses vir dié K14-padprojek doen.

Die plan is om ‘n gedeelte van Zonderwaterweg te verlê. Zonderwaterweg is ‘n provinsiale roete (S249) wat deur ‘n residensiële gebied loop wat Hotelstraat met die Rayton-pad (R515) verbind.

Die Cullinan Gekombineerde Skool is op dié roete en die herlei van verkeer verby die skool hou ‘n gevaar in. Daarom word ‘n gedeelte van Zonderwaterweg verlê om toegang slegs aan inwoners te bied.

Die uitbreiding van die K14-pad sal 2,2 km lank wees met ‘n padreserwe van 62 meter. Die pad gaan glo onderdeur die Transnet-spoorlyn loop.

JG Afrika is besig om ‘n basiese beramingsproses te doen, wat ‘n openbare deelnameproses insluit. Die konsep-beraming sal op hulle webtuiste, www.jgafrika.com, gelees kan word.

Vir meer inligting, bel Sonja van der Merwe by 011-231-2200, stuur ‘n faks na 011-807-1607 of ‘n e-pos na: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2024 Die/The Bronberger