Stoomtrein saai verwoesting met veldbrande Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 September 2016 19:21
Untitled Document

Friends of the Rail se treinuitstappie na Cullinan op 4 September het die mense van Rooikoppies en Elandshoek se Sondag in 'n nagmerrie laat ontaard.

Volgens Henri Combrink, voorsitter van die Cullinan Boere-Unie, het die stoomtrein die veld langs die treinspoor op vier plekke op pad na Rayton aan die brand gesteek.

Die vuur, aangejaag deur ’n sterk wind, het vinnig deur die aangrensende eiendom versprei en wild, perde, vee en eiendom bedreig.


Die vasgekeerde trop perde is gehelp om van die vlamme te ontsnap
Foto: Henri Combrink

Friends of the Rail het op die betrokke Sondag nie van hulle eie lokomotiewe gebruik gemaak nie, maar van een wat hulle by ‘n ander instansie geleen het.

Henri sê dat terwyl die publiek hulle treinuitstappie na Cullinan geniet het, dit die lede van die Cullinanse Boerevereniging, gemeenskap en die brandweer sewe ure geneem het om die veldbrand onder beheer te kry. Honderde hektaar weiding is afgebrand met groot verliese vir grondeienaars.

Volgens Dewaal Venter van die Cullinan Bewarea was daar massiewe vernietiging en verlies en chaos is veroorsaak toe veldbrande langs die treinspoor uitgebreek het.


Brandslaners takel verwoestende vlamme
Foto: Dewaal Venter

“Mooi so aan almal wat gehelp het met die nood koördinering en om water by die brandvegters uit te kry. Daar is ‘n spesiale groep mense wat ‘n trop vasgekeerde perde, ‘n donkie en ‘n paar ou waghonde van ‘n eiendom in Elandshoek gered het en na hulle omgesien het,” sê Dewaal.

Hy sê dat dié diere nie die vlamme sou oorleef het as dit nie vir die span se hulp was nie.

“Maak seker jou diere is veilig as daar ‘n brand uitbreek,” sê Dewaal. “Bevestig met jou bure of hulle tuis is en hoor of hulle hulp nodig het om hulle diere uit die pad uit te kry.”


Boere staar die verwoesting in die oë
Foto: Henri Combrink

Henri sê Transnet kom nie hulle verantwoordelikheid na om hulle servituut langs die spoorlyn skoon te hou en te voldoen aan die wet op veldbrande nie.

“Cullinan val binne die Dinokeng-toerismegebied en is ekonomies baie afhanklik van toerisme, maar daar rus ook ’n groot verantwoordelikheid op operateurs soos Friends of the Rail om uitstappies met groot omsigtigheid en veiligheid te bedryf,” sê Henri.

Daar is baie landbou-aktiwiteite in die omgewing aangrensend aan die spoorlyn. Brande het ’n groot negatiewe ekonomiese impak op boerdery-aktiwiteite, veral in hierdie droogtetyd wanneer daar ernstige tekorte aan voer en weiding is.


Die vlamme verorber die veld
Foto: Dewaal Venter

“Hierdie brand kos die gemeenskap ontsettend baie aan tyd, uitgawes en skade, terwyl hulle geen bystand of ondersteuning van enige instansie vir onkoste en verliese ontvang nie,” sê Henri.

Cullinan Boere-Unie (TLU SA), die Cullinanse Boerevereniging en die gemeenskap doen ’n ernstige beroep dat mense uiters versigtig moet wees om nie veldbrande te veroorsaak nie, omdat dit ’n enorme negatiewe impak op die omgewing het.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger