Gemeenskap gryp in ná verwoestende tornado Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 August 2016 22:23
Untitled Document

Dele van Bapsfontein, Nestpark en die omliggende hoewegebiede is op 27 Julie deur ‘n tornado en haelstorm verwoes. Talle gesinne is dakloos en haweloos gelaat en Bapsfontein Helpende Hande en Welbekend Helpende Hande is gestig om die ergste nood te verlig.


‘n Houthuis in Nestpark is vernietig
Foto: Adele Bester

Baie huise se dakke is afgewaai, meubels en ander besittings is verwoes, grensmure en -heinings is omgewaai en paaie is deur bome geblokkeer. Adele Bester van Broodblik en Koffiepit het vir die Bronnie vertel hoe die tornado deur Nestpark getrek het. Haar buurman se houthuis is heeltemal vernietig.


Dakke is afgeruk
Foto: Welbekend Helpende Hande

“Ek kan nie vir jou vertel hoe het die Here ons bewaar nie want om en oorkant en langs ons lyk sleg,” sê Adele. “My kinders het ook gebid en Liewe Jesus gevra om ons te beskerm. Hy het ons gebed verhoor.”


Só lyk ‘n slaapkamer na die tornado
Foto: Welbekend Helpende Hande

Hulp
Vrywilligers het daardie aand uitgegaan om mense in nood by te staan, al het dit hard gereën en gehael. Reddingswerk moes teen 9.30 nm gestaak word omdat Eskom-kabels op die grond beland het en dit te gevaarlik geword het om in die donker rondom dié lewendige kabels te probeer werk.


Tekens van verwoesting
Foto: Verskaf

Van oral oor het mense die aand van 27 Julie laat weet dat hulle spaarkamers en ekstra beddens beskikbaar het vir dié wat dakloos gelaat is. Die krag was vir dae lank uit gewees, wat ook beteken het dat geen water gepomp kon word nie. Vrywilligers het bottels water ingesamel en gesorg dat dit by diegene wat dit nodig het uitkom.


Die motor is verwoes
Foto: Verskaf

Hulp uit die gemeenskap het sedertdien aanhou instroom en tientalle vrywilligers werk lang ure om klere, komberse en kospakkies te pak en te versprei, grensheinings te span, seile te span tot dakke en vensters herstel kan word en skryfbehoeftes aan skoolkinders te verskaf. Selfs ‘n woonwa is geskenk waarin een van die gebied se oudste inwoners nou woon tot sy huis, wat vernietig is, herbou kan word.


Vrywilligers het tot 9.30 die aand in die reën en hael gehelp
Foto: Verskaf

Oorde
Die hulp kom uit alle oorde, vanaf die Rynpark Ouetehuis se breiklub wat babakousies en musse gebrei het tot skoolkinders wat self ‘n groep gestig het om te help. Die Tiener Helpers word deur plaaslike tieners, Abigail Trumpelmann en Shane de Witt, gelei.

Tegan Catherine-Anne Smit en haar man gaan probeer om familie-foto’s wat in die storm beskadig is weer af te neem en in rame te sit vir mense. ‘n Ondersteuningsgroep genaamd Cornucopia het sop, pakkies met toiletware, komberse, kinderklere en troeteldierkos verskaf.


Dakplate lê tussen bome wat omgewaai is
Foto: Verskaf

Troeteldiere, plaasdiere en wilde diere in dié omgewing word ook gehelp. ‘n Groep diereliefhebbers, Mon Ami, het kontant geskenk om diere in die omgewing te voer en dit was selfs genoeg om ‘n skenking aan ‘Wild Life in Crisis’, wat hulle oor die beseerde wilde diere ontferm, te maak.

Mense van Interbuild het die ou seile van hulle vragmotors geskenk wat gebruik word in die openings waar eens vensters en deure was. Die tiener-helpers het dié seile gewas. Die gemeenskap, Shred Kaki Amman Mantir - Amman Prakash, het skryfbehoeftes, olie, rys en klere geskenk. Tientalle bondels heiningrolle, draad en pale is geskenk deur die Lions, met die hulp van Nick Mare.


Die tornado beweeg vanaf Thembisa in Bapsfontein se rigting
Foto: Uit ‘n video van DaNinjaMonk

Daar is steeds ‘n behoefte aan bydraes van kos, klere, komberse, lewensmiddele en boumateriaal. Die aflewerings- en versamelpunt vir hulpmiddele is by die MBT vulstasie op die hoek van Garstfonteinweg-verlenging en die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25).

Koördinering en verspreiding van hulpmiddele word gedoen deur Andea Steyn: 078-966-4058 en Lee-Anne de Wit: 084-694-4708.


Die grootte van die haelkorrels
Foto: Verskaf

Tornado
Die bestuurder vir Klimaatsinligting by die SA Weerdienste, Elsa de Jager, sê dat dié tornado die eerste een is wat Suid-Afrika in Julie tref. Sy het gesê dat tornado’s gewoonlik in die warm somermaande voorkom.

Duitse weerkundige, Alfred Wegener, het tornado’s in 1917 as ’n lugwerwel in die aarde se atmosfeer gedefinieer. Dié lugwerwel word deur ’n klein middellyn en ’n loodregte spil waarom die wind werwel, gekenmerk. So ‘n werwel strek vanaf die wolke se onderkant tot by die grond.


Die gesin is dakloos gelaat
Foto: Welbekend Helpende Hande

Daar moet ’n laag vogtige lug net bo-oor die grond en groot temperatuurverskille tussen die laer en hoër atmosfeer wees vir ‘n tornado om te vorm. Die temperatuur begin in die hoër lae daal, terwyl die verskillende atmosferiese lae effens onstabiel raak. Lug wat opstyg en afkoel kan nog steeds warmer wees as die lug van die omgewing, sodat dit steeds vinniger styg.

Die vogtige lug oor die grond lewer die energie vir dié soort vogtigheidskonveksie op. Sodra die lug begin kondenseer, word die warmte vrygestel. Die opstyging van vogtige lugmassas word deur sonstrale of die ontmoeting van warm en koue fronte veroorsaak.


Vrywilligers deel komberse en kos uit
Foto: Welbekend Helpende Hande

Buis
In ’n vroeë stadium is ’n tornado byna onsigbaar. Sodra die lugdruk in sy binneste begin daal en waterdamp as gevolg van afkoeling kondenseer of die tornado begin het om puin, stof of water te laat ronddwarrel, word die werwelwind as ‘n dun buis, wat vanuit die wolk tot by die grond strek, raakgesien. Tornado’s kan ook ‘n wyer tregter vorm.

‘n Tornado se gemiddelde lewensduur is minder as tien minute, maar kan tussen enkele sekondes en meer as 'n uur lank aanhou. ‘n Tornado bereik 'n gemiddelde spoed van vyftig kilometer per uur en sy voorwaartse beweging volg dié van sy moederwolk.


Ingesamelde hulpmiddels is die week ná die tornado deur vrywilligers versprei
Foto: Welbekend Helpende Hande

 

© 2024 Die/The Bronberger