Gemeenskapshulp groei in Rayton-projek Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 August 2016 22:01
Untitled Document

Meer behoeftiges bly dié jaar warm in ons kontrei. In Junie het ons berig dat Rayton- en Cullinan Apteek ’n projek afskop waar houers voorsien word waarin komberse, klere, skoene en kos vir die behoeftige mense in die gemeenskap afgelaai kan word.

Hulle werk saam met die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se tak in die gebied en daar is ook houers by Pick n Pay Rayton, Spar Cullinan, en verskeie kerke in die omgewing.

Sandra Pollock, klinieksuster by Rayton Apteek, sê die mense is baie vrygewig en dit word opreg gewaardeer. 

“Nedbank Cullinan het ’n klomp klere en kos kom afgee, terwyl die mediese verteenwoordigers van Mylan kouse geskenk het. Nativa se verteenwoordiger het ’n kombers gegee en Hennie Malan van Helplift Rayton het baie komberse hier aangebring,” sê Sandra.

Sandra het ook gesê dat hulpmiddele nie buite die gebied gebruik word nie en dat die maatskaplike werkers van die CMR sorg dat skenkings by mense wat dit nodig het uitkom.

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng Oos, wys daarop dat armoede in die gebiede wat deur die organisasie se 13 satellietkantore bedien word, beslis nie verminder het nie.


Nóg ingesamelde winter hulpmiddele

“Mense kan gerus die vooropgestelde opvatting dat dit net sekere bevolkingsgroepe raak, by die venster uitgooi. Armoede kan enigeen raak,” sê Henda. “So byvoorbeeld is daar ‘n man wat elke dag langs die pad staan en fudge verkoop. Baie mense sal sommer aanneem dat sy eie verkeerde besluite hom daar laat beland het, maar sy omstandighede vertel die werklike storie: Sy vrou het ‘n uitmergelende siekte gekry en alles wat hulle besit het, is aan haar versorging bestee.”

“So het hy hulle huis en motor en sy werk verloor. Nou staan hy daar, self met Parkinsons gediagnoseer, en sy enigste inkomste is van sy verkope. Nie sy ras of sy eie besluite het hom tot daar gebring nie,” sê Henda.

Henda verduidelik dat die fokus van armoedeverligting deesdae nie net op uitdeel is nie, maar dat mense gevra word om by te dra deur byvoorbeeld in die klerestoor te werk. Dit help dat mense hulle menswaardigheid behou en bestry ook die opvatting dat daar maar net uitgedeel sal word.

CMR Gauteng-Oos het onlangs hulle Pasella Pakkies projek geloods – die meeste van die kantore het ‘n voedselprojek, sopkombuis of pakkies wat aan behoeftiges verskaf word.

Skakel die CMR hoofkantoor by 012-361-4619.

Vir meer inligting oor Rayton Apteek se projek, skakel 012-734-4800.

 

© 2024 Die/The Bronberger