Rommel by ‘eienaar’ afgelaai Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 August 2016 21:59
Untitled Document

Inwoners van Elandshoek en Nooitgedacht, naby Rayton, is keelvol verby vir dorpenaars wat rommel goedsmoeds langs die grondpaaie van die hoewegebied stort.

Toe een Elandshoeker onlangs sien hoe die eienaar van ‘n rooi bakkie sy rommel langs die pad aflaai, het hy ‘n foto geneem en die bakkie tot op die dorp agtervolg. Die rommeleienaar het glo ‘verwoed’ probeer wegjaag, maar hy is tot by sy huis agtervolg.


Die vrag gemors wat afgelaai is

Lede van die gemeenskap van Elandshoek het saamgespan om die ongewenste gemors te gaan oplaai en het dit toe net na 6 nm op 8 Augustus voor die hek van die rommelstorter se huis gaan aflaai.


Die rommel is opgelaai en gereed vir aflewering

Die rommelstorter was glo verstom toe die Elandshoekers hom roep en meedeel dat hulle sy gemors vir hom teruggebring het. Hy het beweer hy het nie beheer oor waar sy ‘werker’ die rommel aflaai nie en wou weet of dit nodig was om die hoop voor sy motorhek af te laai, omdat hy later daar wou uitry.


Die hoop gemors veilig voor die regmatige eienaar se motorhek

Volgens een van die mense wat die rommel na die regmatige eienaar teruggeneem het, het die einste rooi bakkie met ‘n vorige geleentheid ‘n vrag bourommel in Nooitgedacht ‘verloor’.

 

© 2024 Die/The Bronberger