Tweedracht straks die teiken van moordbende Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 26 July 2016 05:18
Untitled Document

Die onlangse moord op Jan Hettema, die gewapende roof en aanval op Annelie du Toit en ander voorvalle in die Tweedracht-omgewing, is moontlik deur dieselfde moordbende gepleeg.

Die voorvalle was op hoewes naby die R515, wat Cullinan en Rayton en die N4 Witbank-snelweg met die Bronkhorstspruit-Bapsfontein-pad verbind.

Volgens AO Wynand van der Merwe van die landelike beveiligingsafdeling by die Boschkopse Polisiestasie word die moontlikheid ondersoek dat dieselfde bende vir verskillende misdade in die gebied verantwoordelik was.

Lede van die Welbekendse en Boschkopse polisiestasies doen volgens AO Van der Merwe alles binne hulle vermoë om die booswigte vas te trek. Nuwe leidrade is met die Bronnie se saktyd ondersoek.


Jan Hettema

Annelie
Annelie du Toit van Tweedracht is op 21 Junie deur vier gewapende aanvallers oorval, vasgebind, teen die oor geslaan, amper verwurg en gedreig dat sy verkrag en met ‘n warm strykyster gemartel gaan word. Hulle het ook gedreig om haar vingers af te saag, waarna hulle haar lyf in klein stukkies gaan opsaag. Nog ‘n dreigement was dat hulle ‘n swaar klip aan haar voete gaan vasbind en haar dan in die sementdam gaan gooi.

Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Marissa van der Merwe, was Annelie, wat in haar 60’s is, alleen by die huis. Die vier aanvallers het elk vuurwapens gehad en hulle het Annelie vasgebind, nadat hulle glo die plaaswerker wat buite die huis besig was, ook vasgebind en aangerand het.

Hulle het haar gedwing om die kluissleutel te oorhandig en het ‘n vuurwapen uit die kluis en ander huishoudelike items gesteel. Alles is in Annelie se Opel Astra, waarmee hulle op vlug geslaan het, gelaai. Die rowers het glo in die rigting van Ekangala, Bronkhorstspruit gejaag. Die motor is later verlate in Cullinan gevind.


Jan die kampioen

Jan
Die 82-jarige Jan Hettema, bekende oud-Springbok-fietsryer en tydrenjaer, is op 29 Junie doodgeskiet. Hy was die pa van sangeres, Helena Hettema. Jan en sy 68-jarige vrou Elsa het 41 jaar op hulle Tweedracht kleinhoewe gewoon. Volgens Helena het haar pa jare reeds probeer om die hoewe te verkoop omdat hy nie meer veilig daar gevoel het nie.

Jan is ongeveer 8 vm op sy kleinhoewe deur twee aanvallers oorval en doodgeskiet ná hy ondersoek gaan instel het oor die kapgeluid wat vanaf sy wattelbome gekom het.

In die huis is Elsa se hande vasgebind en sy moes die rowers gaan wys waar die vuurwapens en geld is. Daarna is Elsa se voete ook vasgebind, terwyl die huishulp en haar agt-maande-oue baba in ‘n kas toegesluit was.

Die boewe het die huis geplunder en het die buit, insluitende ‘n skootrekenaar, selfone en juweliersware, in ‘n motor gelaai waarmee hulle weg is. Die huishulp het die kasdeur oopgeskop en Elsa losgemaak. Elsa het haar man in die kombuis voor die stoof op sy rug in ‘n plas bloed gekry. Hy is in die gesig geskiet.


Jan Hettema se begrafnisdiens
Foto: Corlia Kruger

Kampioen
Jan het Suid-Afrika in 1955 by die wêreldfietsrykampioenskappe in Rome verteenwoordig en het met sy terugkeer Springbok-kleure verwerf. Hy is in 1956 gekies om aan drie fietsrygeleenthede as deel van die Olimpiese Spele in Australië deel te neem.

As tydrenjaer het Jan meer as 100 tydrenne gewen, vyf keer daarvan die Suid-Afrikaanse nasionale tydrenkampioenskap.

Jan se begrafnisdiens op 6 Julie was vanuit die Brooklyn Metodiste Kerk. ‘n Huldeblyk is op 8 Julie by die Kyalami renbaan gehou.

 

© 2024 Die/The Bronberger