Klopjag by Plastic View ná geweld lewens eis Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 18 June 2016 15:57
Untitled Document

Die polisie het ‘n massiewe klopjag by Plastic View-plakkerskamp uitgevoer. Lede van die polisie, sekuriteitsfirmas en gemeenskapspolisiëringsforums het vroegoggend op 27 Mei die kamp deursoek en op wapens, dwelms, dagga en drank by onwettige sjebiens beslag gelê.

Woodlane Village, beter bekend as Plastic View-plakkerskamp, is langs die NG Kerk Moreletapark, oorkant Woodlands Boulevard winkelsentrum. Daar woon ongeveer 3 000 mense in omtrent 1 000 huishoudings.

Dié klopjag kom ná geweld tussen Basoeto- en Zimbabwe-burgers in die kamp. Volgens kolonel Andrew Lesch, bevelvoerder van die Garsfonteinse Polisiestasie, was die doel van die klopjag om probleempunte, wat vroeër reeds deur die polisie geïdentifiseer is, te ondersoek en om te probeer vasstel hoekom die Basoeto’s en Zimbabwiërs mekaar aanval.

Twee mense is in aanvalle op 22 Mei met messe doodgesteek en baie buitelandse burgers het Plastic View daarna sak en pak in vrees vir hulle lewens verlaat.


Teen dagbreek het berede polisielede by die klopjag aangesluit

Vlug
Met die klopjag het baie inwoners uit hulle huise gevlug om in die veld te skuil. Volgens adjudant-offisier Dave Miller, woordvoerder vir die Garsfonteinse Polisiestasie, het die polisie rede om te glo dat diegene wat gevlug het, buitelandse burgers was. Hy sê dat die polisie meer sigbaar in die kamp gaan wees omdat geweld ‘n voortgesette kommer is vir mense wat in die omliggende gebiede woon.

Huiseienaarverenigings in die voorstede rondom Plastic View probeer al jare lank om die kamp geskuif te kry en blameer die plakkers vir misdaad in die gebied.

Skuif
Tshwane Metro se burgemeesterskomitee-woordvoerder, Blessing Manale, het gesê dat samesprekings oor die hervestiging van Plastic View se inwoners deurlopend gevoer word. Hy sê dat die grond waarop die plakkers woon onwettig beset word en dat die mense net daar is oor die hofbevel wat hulle toegelaat het om te bly, terwyl die metroraad, belastingbetalersverenigings en ander belanghebbendes ‘n oplossing probeer vind.

In Maart het Tshwane se plaaslike uitvoerende direkteur, Sello Chipu, gesê dat Plastic View se inwoners na Garsfontein geskuif gaan word. Vrae oor presies waar in Garsfontein die plakkers gaan bly, is nie beantwoord nie.

Regslui vir Menseregte staan namens die plakkers die hervestiging teë.


Daggabome en wapens waarop beslag gelê is

Veiling
In April verlede jaar het ons berig dat Plastic View se plakkers en hulle regsverteenwoordigers dit reggekry het om twee stukke grond uit die Tshwane Metroraad se eiendomsveiling op 24 Maart 2015 te hou. Plase 279 en 285 Garsfontein, wat 110 en 106 ha groot is, het ‘n reserweprys van R300 miljoen gehad.

Die plase, wat rofweg vanaf die hoek van De Villebois Mareuilrylaan en Garstfonteinweg-verlenging tot by Mooikloofrif strek, is nie opgeveil nie omdat die plakkers hulle tot die Pretoriase Hooggeregshof gewend het. Regter Legodi Pathudi het die dag voor die veiling, op 23 Maart, ’n tussentydse bevel uitgereik wat die metroraad verbied het om die grond te verkoop.

Regslui vir Menseregte het die aansoek namens die plakkers gebring. Hulle wou die veiling vertraag tot ’n hersieningshofaansoek oor die metroraad se besluit om eiendomme te verkoop, afgehandel is.


Inwoners staan voor hulle skuilings en kyk na die polisielede

Hof
Adv Myron Dewrance het die metroraad in die hooggeregshof verteenwoordig. Hy het gesê dat Plastic View-inwoners verskuif gaan word na ‘n terrein wat besig is om geproklameer te word. Hy het gesê dat hulle nie bloot van die grond afgesit sal word nie.

Indien daar ’n uitsettingsbevel kom, sal dit opgeskort word om dorpstigting in die nuwe gebied kans te gee om te ontwikkel. Gerugte lui dat die nuwe gebied ook naby die Woodlands Boulevard-winkelsentrum is.

Adv Rudolph Jansen SC het namens die plakkers aangevoer dat sekere inwoners nié gaan kwalifiseer om na die nuwe gebied te verskuif nie. In November 2014 het Joshua Ngonyama, die metroraad se burgemeesterskomiteelid vir behuising, gesê dat net Suid-Afrikaners hervestig sal word. Volgens hom is die meeste van die Plastic View-inwoners buitelanders.


Die klopjag by Plastic View
Foto’s: Gopolang Chawane

Burgers
Colin Dredge van Tswelopele Step by Step, wat jare reeds by dié inwoners betrokke is, het gesê dat die Plastic View-inwoners almal wettig in die land is. Hy het gesê dat die meeste van hulle Suid-Afrikaners is, sowat ’n derde van Lesotho kom en nog ’n derde van Zimbabwe, maar dat hulle wettige werkpermitte het en geregtig is om verskuif te word.

Ngonyama het egter gesê dat net 600 van die 3 000 inwoners hervestig moet word.

Hofsake oor Plastic View dateer terug na 2006 toe die polisie die inwoners se skuilings afgebrand het. Inwoners het ’n hofbevel gekry wat die metroraad gedwing het om weer vir hulle skuilings op te rig en ‘n alternatiewe plan vir hulle te maak.

Die metroraad sloer sedertdien om met ’n werkbare plan vorendag te kom om dié plakkers elders te huisves. Luidens ’n hofbevel in Augustus 2009 deur die hooggeregshof in Pretoria is die metro verplig om ’n langtermyn-alternatief aan die inwoners te bied.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger