Grootskaalse vermorsing duur voort Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 18 June 2016 15:56
Untitled Document

Grootskaalse watervermorsing by ‘n brandkraan in Rayton duur die afgelope twee jaar onverpoosd voort, ondanks gereelde klagtes hieroor by die owerheid.

Kontrakteurs tap water by dié brandkraan langs ‘n onontwikkelde landgoedeiendom en ry dit aan na informele nedersettings. Derduisende liter dorpswater word daagliks vermors deur onverskillige vragmotorbestuurders en stukkende koppelstukke en pype.


Vragmotors wag op hulle morsbeurt by die brandkraan

Inwoners kon ook tot dusver geen bevredigende antwoord uit munisipale kringe kry oor wie vir die vermorste en aangeryde water betaal nie. Dit blyk dat die baie groot volumes water ingedeel word onder ‘waterverlies’ en dan deur ‘behuising’ gesubsidieer word. Geen duidelike antwoord kon verkry word op die vraag of dit beteken dat die koste tussen die inwoners verdeel word nie.

‘n Versoek van Tshwane se streekbestuur in die gebied aan die metroraad se departement van water en sanitasie om ‘n meter by die kraan aan te bring, het tot dusver op dowe ore geval.


Spuitfonteine uit stukkende toerusting

Willie Schmidt, wat op die grond aangrensend aan die leë landgoed woon, sê hy probeer al die afgelope 14 maande om iets aan die vermorsing en die modderbad wat eens sy toegangspad was, gedoen te kry.

Aan die begin van Junie is Willie vir die soveelste keer na die munisipale kantore om ‘n ‘herrie op te skop’ oor die gemors voor sy plaashek en op die pad dorp toe. ‘n Vergadering op die toneel tussen amptenary en die vragmotorbestuurders is toe vir die volgende dag gereël.


‘n Rivier vermorste drinkwater stroom die pad af

Willie sê hy het die vergadering as ‘n deurbraak en ‘ligte wonderwerk’ beskou en was vol moed dat dit sou vrugte afwerp. Twee munisipale amptenare, al die vragmotorbestuurders en ‘n aantal inwoners het dit bygewoon.

Volgens Willie was dit ‘n ‘goeie’ vergadering en die watertrokbestuurders is mooi laat verstaan dat hulle grootliks verantwoordelik is vir die vermorsing. Hulle is aangesê om die brandkraan toe te draai voor dit na ‘n ander tenk verskuif word en te sorg dat die tenks nie oorloop nie.

Op hulle beurt het die bestuurders die swak toerusting en koppelstukke die skuld gegee. Die munisipale verteenwoordigers het onderneem om die regte koppelstukke te voorsien. Hulle het ook onderneem om die pad te laat herstel.


Die vergadering ter plaatse wat ná agt dae nog geen verbetering gebring het nie

Willie het gevra wat die verskil is tussen die totale kiloliter water wat deur Magalieswater aan die dorp voorsien word en die totale verbruik deur die inwoners, wat dan die hoeveelheid vermorste en aangeryde water sal bepaal, en wie betaal daardie verskil? Die antwoord wat hy gekry het is dat dit ‘n vraag is wat net ‘op ‘n baie hoë vlak’ beantwoord kan word.

Agt dae ná die vergadering was daar volgens Willie geen verbetering nie, trouens die modderbadpad was in ‘n erger toestand en dit blyk aan die ‘damme’ dat selfs meer water as gewoonlik vermors is.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger