Hoe weet jy jou drinkwater is skoon? Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 24 May 2016 10:34
Untitled Document

Rayton se onlangse waterkrisis het inwoners genoop om gebottelde water aan te koop. Hoe weet ‘n mens of dié water kiemvry is? Professor Koos de la Rey, van ‘n groep wat bottelwater hervul, gee hier basiese inligting wat mense kan help om veilige water te koop.

Verlede maand het ons berig dat hoë tellings van koliform-bakterieë en E. coli in Rayton se drinkwater gevind is. Inwoners is gewaarsku dat dié dorp se drinkwater nie vir menslike gebruik geskik was nie.
Beswaarskrifte is intussen by punte in Rayton en Cullinan neergesit waar mense hulle ontevredenheid met die drinkwater kon aanteken.

Met die April-waterkrisis is Rayton se inwoners aangeraai om hulle water te kook voor hulle dit drink en die winkels wat water op Rayton en Cullinan verkoop kon glo amper nie voorbly nie.

Diegene wat in die hoewegebied woon het veilig teen dié bedreiging gevoel. Prof De la Rey het egter gesê dat “die mees besoedelde water wat ek nog vir ‘n klant laat toets het, water vanaf ‘n plot was waar daar op die buurplaas ‘n groot hoeveelheid mense gewoon het, met ‘n swak rioolstelsel”.

Hy sê dit is nie noodwendig so dat water uit natuurlike bronne nie veilig is om te drink nie. Dit kan wel wees, maar ‘n mens weet nooit of daar nie dalk kieme in die water beland het nie. Die bron is vir al wat ’n mens weet, naby ‘n voerkraal of ‘n plakkerskamp. 


Prof Koos de la Rey

Chloor
Volgens prof De la Rey is daar twee basiese maniere om water kiemvry te maak wat algemeen gebruik word. Die een is die chloor-proses wat stadsrade en sekere botteleringsmaatskappye gebruik. Chloor, wat ‘n gifstof is, maak volgens navorsing so 67% van die bakteria dood. Chloor kan nie alle bakteria wat in menslike en dierlike afval voorkom, doodmaak nie. 

Prof De la Rey sê dat chloor oor die langtermyn nadelig is vir jou gesondheid, maar nie oor die kort termyn ‘n nadelige uitwerking het nie. 

Om water te kook maak die meeste kieme dood, maar het die nadeel dat van die skoon water in die proses as stoom verdamp en die water wat oorbly vuiler is as voor dit gekook is.


Hoe skoon is jou drinkwater regtig?

Suiwering
Die tweede metode wat algemeen gebruik word, is om suiweringstelsels te gebruik om alle vuilheid uit die water te haal. Goeie stelsels haal ook goed soos hormone en chloor uit die water. 

Om die water bakterievry te maak, word osoon saam met ‘n UV-lig gebruik. Dié metode vernietig 99% van alle bakterie in die water. Veral mense met nierprobleme, babas en mense met sekere hartprobleme behoort nie ander water te gebruik nie, sê prof De la Rey.

Van die mense wat ongesuiwerde water aan kliënte verkoop, sal dikwels sê dat gesuiwerde water te skoon is en nie minerale in het nie. Navorsing het egter bewys dat ’n mens se liggaam baie min minerale uit water verkry en meer uit groentes, vrugte en vleis.

As ’n mens water koop, behoort jy op die bottel te kyk wat die vuil deeltjie-telling, aangedui as “total dissolved solids” (TDS), van die water is. Die hoogste standaard water se TDS is kleiner as 20.

Water wat ge-osoneer is, sal op die bottel aangedui word as “reverse osmosis and ozonation”. As ’n mens getapte water koop, dring daarop aan dat die waterverskaffer vir jou ‘n sertifikaat kan toon wat bewys dat die water van die verskaffer op ‘n gereelde basis deur ‘n onafhanklike toetssentrum getoets word. 

As jy jou eie waterbottel na so ‘n verskaffer neem om te hervul, moenie die bottel uitspoel nie. Sit net die prop op en vra dat die bottel in die winkel gespoel word.

 

© 2024 Die/The Bronberger