Vonke oor fietsryers spat weer Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 24 April 2016 19:19
Untitled Document

Die vonke spat weer behoorlik tussen motoriste en fietsryers in die Bronberg-gebied.

Motoriste wat soggens die Boschkop-teerpad en Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) gebruik, sê hulle is goed keelvol vir ‘arrogante’ fietsryers van die Velo-fietsryklub wat die paaie in spitstyd vir plesierritte gebruik.

Aan die ander kant is Velo se klublede ewe omgekrap oor die ‘onbedagsame en selfsugtige’ motoriste wat hulle ritte al hoe meer onaangenaam en selfs lewensgevaarlik maak.

‘n Groep inwoners van die gebied het saamgespan om ‘n amptelike klagte teen die klub by die sportsoort se beheerliggaam, Fietsry Suid-Afrika, te lê. Dié stap volg volgens die inwoners nadat gesprekke met die klub en selfs klagtes by die Boschkopse polisiestasie, geen verskil aan die toestand gemaak het nie.


'n Foto wat op Velo se webblad geplaas is

Uit ‘n onlangse bespreking op die Bronnie se Facebook-blad, blyk dit duidelik dat motoriste wat die Boschkoppad soggens in spitsverkeer moet gebruik, erg ontevrede is met die fietsryers van Velo.

Die kern van die motoriste se klagtes is dat Velo se lede in bondels langs mekaar ry eerder as in enkel gelid soos deur die padreëls bepaal. Motors kan nie verbysteek nie en moet noodgedwonge kilometers ver teen slakkepas agter die fietse aansukkel.

Die klublede ry op Dinsdae en Donderdae vroeg soggens in spitstyd as motoriste die pad moet gebruik om by die werk te kom en kinders betyds by die skool te kry. Motoriste moet dan kilometers ver teen slakkepas agter die bondel fietse aansukkel. Hulle wil weet hoekom die klub nie buite spitstye ry as die pad nie so besig is nie.

Klublede is glo ongeskik en raak beledigend, aggressief en dreigend as hulle aangespreek word of as iemand vir hulle toeter blaas.

Motoriste verstaan nie hoekom die klub juis die Boschkoppad en Lynnwoodweg vir hulle sport gebruik nie en nie ‘n pad wat breër is met ‘n padskouer of ‘n geel kantstreep waarbinne die fietse kan ry nie.

Veteraan fietsryer van Velo, Dario Siefe, sê dit is ‘n bekende feit dat Suid-Afrikaanse motoriste uiters aggressief en ongeduldig teenoor fietsryers is. Nie alle motoriste maak hulle hieraan skuldig nie, net soos alle fietsryers nie engeltjies is nie, sê Dario.

‘n Mens moet onthou dat die meeste fietsryers ook motoriste is, maar seker net een persent van die betrokke gebied se motoriste is ook fietsryers. Daarom het mense, volgens Dario, nie simpatie met of begrip vir fietsryers nie.


'n Plakker wat 'n inwoner van die omgewing op sy motorruit aangebring het

Op die Boschkoppad neig baie motoriste om teen ‘n baie hoë snelheid by fietsryers in enkel gelid verby te jaag, al is daar ‘n spoedbeperking van 80 kilometer per uur. Omdat die pad nie ‘n padskouer het nie en betreklik smal is, jaag motors vlak teenaan fietse in enkel gelid verby, wat ‘n skrikwekkende effek op fietsryers het en lewensgevaarlik is.

Dit is dalk een van die redes hoekom fietsryers hier nie in enkel gelid hou nie. Die ander is dat ‘n 35 stuks fietse wat agter mekaar ry, ‘n hindernis  van by die100 meter skep vir motoriste om by verby te steek en in spitsverkeer kan dit tot ernstige ongelukke lei.

Dario sê hy ry al baie lank fiets en gebruik die Boschkop-roete ook jare reeds. Vroeër was daar betreklik min verkeer en ook min probleme. Maar toe begin die gebied geweldig ontwikkel en die probleme begin ook. Die klub het al baie moeite gedoen om ‘n alternatiewe roete vir hulle ritte te probeer kry, maar dit bestaan volgens Dario eenvoudig nie.

Die lede van Velo is meestal werkende mense en baie is professionele mense soos dokters, prokureurs en sakemense. Hulle ry vroeg soggens sodat hulle daarna kan gaan werk, sê Dario.

Velo se mense vind dit moeilik om te begryp hoe dit is dat motoriste op die Boschkoppad byvoorbeeld geduldig agter ‘n stadigbewegende trekker sal wag tot daar verbykomkans is, maar nie bereid is om agter ‘n groep fietse dieselfde te doen nie. Hulle raak dan gewoonlik ongeduldig, woedend en aggressief en stel lewens in gevaar.

Dit is ook volgens Dario vreemd dat ‘n motoris sal stadiger ry as hulle ‘n kind of ‘n dier langs die pad sien loop, maar vlak teen ‘n fietsryer verby sal voortjaag  asof hy/sy nie bestaan nie.

Hulle sou baie  graag ‘n goeie verhouding met mede-gebruikers van die pad wou handhaaf. Velo sal gesprekvoering met die inwoners van die gebied, mense wat die pad gebruik en die owerheid verwelkom om ‘n oplossing vir die probleme te probeer vind, sê Dario. 

Maar dan moet motoriste nie sommer in die begin van die vergadering Velo se lede as ‘morone’ uitkryt, soos wat redelik onlangs gebeur het nie. Wedersydse respek is ‘n noodsaaklike voorvereiste, sê hy.

“Die kort en die lank van die storie, is dat Velo die wet oortree,” sê Wynand Kruger. Wynand het ‘n video op Die Bronberger se Facebook-blad geplaas wat wys hoe ‘n wit bakkie op ‘n blinde draai ‘n string motors verby steek wat agter ‘n bondel fietse aankruie. Die video wys dat ‘n botsing met ‘n aankomende voertuig rakelings vermy is.

Volgens Wynand raak mense wie se kinders om 7.20 vm by die skool moet wees, ongeduldig om teen 20 km per uur agter fietse aan te piekel en dan vat hulle kanse. Wynand sê hy en sy gesin was verskeie kere amper in ongelukke betrokke weens fietsryers wat langs mekaar ry.


Pieter du Preez het dié foto in spitsverkeer op die Boschkoppad geneem

Regulasie 311 van die padverkeersreëls maak dit duidelik dat in enkel gelid gery moet word. Miskien moet hulle die regulasie groot op borde laat druk en dit orals langs die pad opsit, sê hy.

Pieter du Preez sê die probleme met Velo se fietsryers loop al jare saam met hulle. “Ek dink ek praat nie net namens myself nie as ek aanbied dat van ons gemeenskapslede meer as bereid is om om 'n tafel saam met verteenwoordigers van Velo, Boschkop se polisie asook lede van Tshwane Metropolisie te vergader en 'n vreedsame oplossing te probeer vind. Ons hoor graag van Velo se bestuur,” sê Pieter.

Hulle het al verskeie kere met Velo kontak gemaak en daarvan het net mooi niks gekom nie, sê Trix van den Berg van die MZT (Mooiplaats, Zwavelpoort, Tierpoort) gemeenskapsorganisasie. Hulle het ook al gesprekke met die polisie en die metropolisie gehad oor die probleem.

“Verstaan my goed. Ons as gemeenskap is gatvol vir die fietsryers se houding op die paaie van ons area,” sê Trix.

“Waar is die wetstoepassers? Hulle behoort vervolg te word vir oortredings van die padreëls, of geld padreëls nie ook vir fietstrappers nie,” vra Buks Barnard. “As die fietsryers net die motoriste ook 'n plekkie op die pad wil gun,” sê Buks.

Dis regtig belaglik, meen Damien Engelbrecht. Damien sê ‘n mens gaan moet ingryp dat Velo nie in spitstye mag ry nie. Of hulle moet op ander veiliger paaie gaan ry. Hulle is besig om letterlik mense se lewens in gevaar te stel, sê hy.

Helena Naudé Potgieter vra, hoekom in tye ry wat mense werk toe gaan? Dit lyk vir haar of die fietsryers nie werk nie. Dan kan hulle mos ry as die ander al by die werk swoeg. Gun die werkendes dit darem, sê Helena.

“Daardie pad het ook nie 'n skouer nie, wat beteken dat selfs al ry hulle soos beskaafde mense met maniere, hou hulle steeds 'n risiko vir hulleself en ander padgebruikers in,” sê Ben Geldenhuys.

“Het ons al ooit daaraan gedink hoe selfsugtig mense oor die algemeen is? Hetsy dit nou motoriste of fietsryers is. Almal wil net altyd kla. As ons meer geduldig is sal almal beter oor die weg kom, ” sê Maria van der Merwe.


Die fietse wat eindelose frustrasie vir motoriste veroorsaak
Foto: Antoinette Coetzee

Kobus Rudolf sê dit gaan nie oor geduld met mekaar of selfsugtig wees nie, maar doodgewoon oor padreëls. Daar is ‘n arrogansie oral by fietsryers. Hulle dink die motoriste moet vir hulle uitdraai en as jy toeter blaas moet jy sien watter tekens wys hulle vir jou, het Koos gesê.

“Die padreël is dat hulle agter mekaar moet ry in enkel gelid. Dan staan motoriste nog 'n kans om veilig vir alle partye verby te kan kom,” sê Juanita Anderson Kruger.

“Ongelukkig hou hulle nog nooit by die reëls nie. Hulle stop nie eers by die stopteken by Star Trading nie. Motoriste op Lynnwoodweg moet dan vir hulle padgee. Ek en my man ry ook fiets, maar nie so nie. En, dit gebeur nie elke dag nie, maar met hierdie groep gebeur dit elke liewe week,” sê Juanita.

“Hier by ons is hulle erg ongeskik. Veral as hulle verby jou ry terwyl jy perdry. Ek het gisteraand amper een doodgery, want hy het in die middel van die pad gery in skemerlig sonder weerkaatsers,” sê Nadine Bennet.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger