Drinkwater in Rayton met E.coli besmet Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 24 April 2016 18:51
Untitled Document

Hoë tellings van koliform-bakterieë en E. coli is in Rayton se drinkwater gevind. Inwoners is gewaarsku dat dié dorp se drinkwater nie vir menslike gebruik geskik is nie.

Rayton se inwoners kla al maande lank oor die dorp se water en sê dat dit glo al ’n geruime tyd soos ‘insekdoder’ ruik. Verlede maand het ons berig dat swart wurms in Rayton se drinkwater gekry is. Die gehalte van die drinkwater wat in April deur watertoetse bepaal is, hou glo nie verband met dié wurms in die water nie.


‘n Glas Rayton-water
.

Petro Bezuidenhoudt van Rayton het dié foto van haar badwater geneem

Die watertoetse is deur AfriForum se Rayton/Cullinan-tak by ʼn onafhanklike laboratorium gedoen. Watermonsters is by ʼn kraan langs die reservoir en by ʼn woonhuis geneem. Die heterotrofiese telling, wat hoër is as die aanvaarde telling, dui op die moontlike teenwoordigheid van patogene, mikroörganismes, bakterie, virusse of parasiete.

Cobus Ras, ‘n inwoner van Rayton, het op dié dorp se Facebook-blad gevra of die gereelde ‘maagvirusse’ waaronder baie mense in die gebied gebuk gaan, nie dalk deur die water veroorsaak word nie.

AfriForum het op 13 April ’n dringende brief aan die Tshwane Metroraad oorhandig waarin die munisipale bestuurder versoek word om inwoners onmiddellik te waarsku dat die water nie drinkbaar is nie en om die gemeenskap binne 24 uur van skoon drinkwater te voorsien. Opvolgtoetse sal gedoen word om die vordering te monitor.


Die ingang na Magalies Water in Cullinan

Intussen is Rayton se inwoners aangeraai om hulle water te kook voor hulle dit drink. Die winkels wat water op Rayton en Cullinan verkoop kan glo amper nie voorbly nie.

Cullinan-inwoners soos Anita Pieterse en Toni de Lange is bekommerd dat dié dorp se water ook besoedel is. Anita sê dat die water in Cullinan soms net so vuil is en ook stink. Toni sê hy vermoed die een munisipale pyplyn in Zonderwaterweg word ook deur die Raytonse opgaardam bedien.

Volgens Reline Badenhorst van AfriForum se Rayton/Cullinan-tak is dit net Rayton se opgaardam wat vuil is. Indien Cullinan-inwoners twyfel watter opgaardam hulle water voorsien, is dit beter om water te kook voor dit gedrink word. Altwee dorpies se water word deur Magalies Water voorsien.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger