Bakkie in die ry van vullisvrag gestroop Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 21 March 2016 07:35
Untitled Document

Wetsgehoorsame Bronbergers word gewaarsku om op hulle hoede te wees as hulle vullis by die Mamelodi-stortingsterrein wil gaan aflaai. Hannes de Wet van Bashewa het ‘n nare ondervinding op pad na dié terrein gehad toe 30 mans op sy bakkie gespring het en alles daarop in die pad begin afgooi het.

Hannes sê dat die Mamelodi-stortingsterrein die enigste plek naby aan die Bronberg-gebied is waar ‘n mens rommel wat nié tuinrommel is nie, wettig kan gaan aflaai. Hy sê hy verstaan nou hoekom mense vullis langs die gebied se plotpaaie stort.

“Ek moes veg vir my lewe,” sê hy. “Ek en my werker kon onsself handhaaf, maar wat as ou mense dalk besluit om dié pad te vat om vullis te gaan aflaai?”

Hannes was op pad na die stortingsterrein vanaf Bashewa toe die eerste twee mans reeds by die kruising van Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) en die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) op sy bakkie gespring het.

‘n Entjie verder was daar reeds 30 mans op sy bakkie wat die plastiek, blikke, planke en ander vullis so vinnig soos hulle kan in die middel van die pad afgegooi het. Die vrag was met skadunet, wat hulle afgeruk het, toegemaak.

In die proses het hulle ook Hannes se spaarwiel en die vurk en besem waarmee hy sy bakkie ná die tyd wou skoonmaak, afgegooi. Sy werker het agter die spaarwiel aangehardloop en het hom met geweld teruggeneem.

Hannes sê dat die laaste vyf kilometer tot by die stortingsterrein met rommel besaai is, wat hom wys dat dié soort stropery gereeld gebeur. “Hulle is soos wilde diere,” sê Hannes. “Mense moet gewaarsku word om nie soontoe te gaan nie.”

 

© 2024 Die/The Bronberger