Kabeldief swaar gestraf Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 22 February 2016 20:35
Untitled Document

‘n Kabeldief is aan die einde van Januarie tot 15 jaar tronkstraf in die Cullinanse landdroshof gevonnis.
Die dief het in Augustus 2014 saam met ‘n makker op Eskom se depot naby die dorp toegeslaan.

Hulle het ‘n veiligheidswag met ‘n vuurwapen aangehou en hom vasgebind voor hulle kabels, transformators en rekenaars op ‘n vragmotor gelaai het.

Die Cullinanse polisie het ‘n wenk gekry dat ‘n roof by Eskom se depot aan die gang is en het die boewe op heterdaad betrap waar hulle besig was om hulle buit op die vragmotor te laai. Die twee het probeer wegkom maar is op die toneel in hegtenis geneem.

Een van die rowers is blykbaar dood terwyl hy op parool uit was, voor die finale hofdatum. Die oorblywende rower is op Vrydag 29 Januarie in die hof skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Die speurhoof van Cullinan, kaptein Tselana, het polisielede, konstabel Tshepo Masetloa en speursersant Wonder Maseko, geprys vir hulle positiewe aandeel om die voorval te ondersoek en af te handel.

 

© 2024 Die/The Bronberger