Skok oor grondwerke by begraafplaas Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 22 February 2016 20:32
Untitled Document

Besoekers aan die Pretoria-Oos Begraafplaas was geskok toe stootskrapers die westelike deel van die begraafplaas op 3 Februarie ingevaar het. Wat gelyk het na ‘n grootskaalse platstoot van grafte, was volgens die metroraad glo bloot onderhoud.

Lindela Mashigo, woordvoerder vir die Tshwane Metroraad, het gesê dit is nie waar dat die grafte geskend is nie. Lindela sê dat werkers bloot die grond voorberei het vir die plant van gras en die installering van besproeiing.


Blompotte en versierings is voor die voet verwyder
Foto: Lex Middelberg

Volgens Lex Middelberg, raadslid vir wyk 91, is ‘n aantal grafstene en gedenktekens uitgeruk en eenkant toe gegooi. Lex sê dat vyf rye grafte aan die westelike deel van die begraafplaas, naby die kleedkamers, geskend is. Hy raai familielede wie se geliefdes daar begrawe is aan om self te gaan kyk na die skade aan die grafte.


Dié gedenkmerker is platgestoot
Foto: Lex Middelberg
.

Daar is weggemaak met graf-tuintjies, soos die een links bo
Foto: Ron Sibiya

Volgens die metroraad is geen kopstene beskadig nie en is net die onwettige grafversierings op die grasperk-gedeelte weggeskraap. Pretoria-Oos Begraafplaas laat glo net Berm-tipe grafstene toe – ‘n kopsteen op ‘n betonblad.

Oor die jare het mense egter versierings voor die kopstene begin aanbring, wat veroorsaak het dat die gras nie gesny kon word nie. Dit is volgens die raad glo net dié versierings wat verwyder is.


‘n Grafsteen is verwyder en teen ‘n boom staangemaak
Foto: Lex Middelberg

Foto’s wat Lex geneem het, wys egter dat kopstene en merkers ook verwyder is met die skoonmaakaksie. Hy sê dat die werk sonder sensitiwiteit of respek gedoen is deur jeugdige kontrakteurs, wat nie behoorlik opgelei is nie, sonder dat daar ervare toesighouers op die perseel was.

Volgens Lex het die metroraad Tshepo 10000-jeugwerkers ingespan vir die onderhoud van die begraafplaas. Tshepo 10000 is ‘n werkskeppingsinisiatief wat deur die burgemeester ingestel is. Lex sê dat Tshepo 10000-werkers glo bestaande kontrakteurs vervang wanneer kontrakte verval en dat geen tenders glo vir dié kontrakwerk ingedien word nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger