Wieldiewe doenig in plotwêreld Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 22 February 2016 20:32
Untitled Document

‘n Groot skok het op Coenraad van der Merwe van Tierpoort gewag toe hy vroegoggend op
1 Februarie by die deur uitstap om werk toe te ry, net om sy bakkie op bakstene en sonder ‘n enkele wiel langs die huis te sien staan.

Diewe het in die nag die Hilux bakkie se wiele afgehaal en is daarmee fort sonder dat die huismense enige onraad gemerk het. Coenraad sê hulle het nogal die vermetelheid gehad om sy bakstene te gebruik om die bakkie hoog-en-droog en gestrand te laat.

Volgens die polisie was die wieldiewe in die twee weke voor die voorval erg bedrywig in die Bashewa/Tierpoort-gebied en is ses soortgelyke voorvalle aangemeld.

Kringtelevisie wys hoe die mans (dit lyk of hulle drie was) ewe rustig en tydsaam die wiele een vir een van die bakkie afhaal. Die vermoede is dat ‘n voertuig by die plothek gewag het en dat die wiele tot by die hek aangerol is.


Die bakkie se wiele is in die nag gesteel

Die spaarwiel is nie buitgemaak nie en Coenraad dink dis oor hulle bang was dit sou te veel geraas maak om dit af te haal.

Wat hom bekommer is die feit dat dit ’n werksbakkie is, wat nie gewoonlik op die hoewe staan nie. Hy het die bakkie toevallig die naweek daar gelos en iemand moes hulle fyn dopgehou het om daarvan te weet.

Dit blyk of die boewe ‘spesialiseer’ in motorwiele. Geen poging is in enige van die voorvalle aangewend om iets anders buit te maak nie.

“Dis glad nie lekker nie,” sê Coenraad, “maar ’n mens is tog dankbaar dat hulle net in wiele belanggestel het, en ons uitgelos het.”

 

© 2024 Die/The Bronberger