Grondpad na Cullinan nog drie jaar in gebruik Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 January 2016 22:35
Untitled Document

Mense wat al keelvol is vir die tydelike grondpad wat Zambeziweg-verlenging met Cullinan verbind, sal nog jare lank met dié gevaarlike en ongerieflike pad moet saamlewe. Beramings dui daarop dat die grondpad vir minstens drie jaar nog in gebruik sal bly.

In vorige uitgawes het ons berig dat groot vragmotors wat die tydelike pad onwettig gebruik, een van die oorsake van die gereelde ongelukke op die pad is.

Die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Openbare paaie en vervoer, Dr Ismail Vadi, sê dat die departement nie begroot het vir die bou van ‘n nuwe toegangspad na Cullinan in die 2015/16 finansiële jaar nie.

Die geteerde toegangspad, wat verby die myn se oop put geloop het, is in Augustus toegemaak omdat die afstand tussen die pad en die myn se oop put al hoe kleiner geword het en die pad ná grondstortings nie meer veilig was nie.

Die tydelike verbypad van 1.9 km herlei verkeer vanaf die noorde van Pretoria na Cullinan. Dié grondpad loop vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) en sluit by Zonderwaterweg-wes aan waar dit verkeer na die Rayton-pad (R515) neem.


Die bord naby die landdroskantoor by die Rayton-pad (R515) wat die tydelike verbypad aandui

Die geteerde toegangspad wat vlak by die myn se gat toegemaak is

Begroting
Dr Ismail Vadi het gesê dat geen voorsiening in die begroting vir ‘n nuwe pad gemaak is nie, omdat fondse vir die konstruksie van die pad eers benodig sal word nadat die gedetailleerde ontwerpe en kontrak-dokumentasie voltooi is, omgewingstoestemming gegee is en die padreserwes bekom is.

Die Cullinan-diamantmyn het ingestem om op sy eie koste konsulterende ingenieurs aan te stel om die ontwerp te finaliseer en die konsep tenderdokumentasie op te stel vir die K14 (Cullinan verbypad) se verlenging tot die R515 Cullinan/Rayton-pad, wat nuwe toegang tot die dorp sal verleen.

Die opnames wat vereis word om die ontwerpe te doen, om die pad te proklameer en om die eiendom vir die konstruksie van die pad te bekom, het reeds begin.

Tyd
Volgens dr Vadi is die tyd wat benodig word om die ontwerpe en die tenderdokumentasie te voltooi en om die omgewingstoestemming te verkry ongeveer 24 maande. Die tendertoekenningstydperk kan ‘n verdere ses maande neem en die konstruksieproses kan 12 maande neem, sou fondse deur die provinsiale tesourie beskikbaar gestel word.

Die diamantmyn het onderneem om R10 miljoen tot die konstruksie van die 3,5 km lange K14-pad by te dra. Die myn se bydrae tot die konstruksie van die tydelike grondpad was R1 808 958 en die waarde van die eiendom wat geskenk is vir die konstruksie van die K14-pad is R368 759.


Die tydelike grondpad van 1.9 km

Spoor
Volgens dr Vadi sal die treinspoor in die gedetailleerde ontwerpfase bespreek word.

Die voorlopige ontwerp vir die nuwe K14 toegangspad voorsien dat ‘n brug oor die treinspoor gebou moet word, maar ‘n finale besluit sal in die ontwerpfase geneem word. Die beraamde koste van so ‘n treinbrug is omtrent R25 miljoen.

Dié spoorlyn word slegs deur Friends of The Rail se stoomtreine gebruik vir toeriste-uitstappies na Cullinan. Die dorp se sakelui maak op die inkomste van toerisme staat en is teen die sluiting van die spoorlyn gekant.

 

© 2024 Die/The Bronberger