Groen lig vir rioolpyp loop ontwikkeling voor Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 25 January 2016 22:21
Untitled Document

Bouwerk aan die 5,4 km lange afvoerrioolpyp deur Mooiplaats en Zwartkoppies het die groen lig gekry. Dié pyp gaan die ontwikkeling van die N4 Industriële Park by die Boschkop/Donkerhoek-afrit van die N4 snelweg sowel as toekomstige ontwikkeling in die Hazeldean-node moontlik maak.

Toestemming is deur die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling aan Mag Truck Spares gegee om met die projek voort te gaan. Interdesign Landscape Architects (ILA), wat die openbare deelnameproses van die projek behartig, het belanghebbende party op 10 Desember verlede jaar laat weet dat omgewingstoestemming verleen is.

Die nuwe afvoerrioolpyp van 7,4 km lank gaan die rioolpyp op gedeelte 311 van die plaas Mooiplaats 367 JR met die bestaande Baviaanspoort Rioolwerke verbind. Die pyp se roete loop deur gedeeltes 2, 6 en 43 van Zwartkoppies 364 JR, en gedeeltes 27, 125, 126, 239, 240, 241, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 308, 309, 311 en 365 van Mooiplaats 367 JR.

In Maart verlede jaar het ons berig dat die N4 Industriële Park-ontwikkeling, wat 95,5 ha gaan beslaan, beplan is vir kommersiële-, kantoor-, voertuigdienssentrum-, monteersentrums-, huis-opgraderingsentrums- en verwante kleinhandel-geriewe. Die ontwikkeling gaan uit 196 ligte industriële erwe bestaan: 75 erwe in Barendshoek en 121 erwe in Mooiplaats.


Die N4 Industriële Park gaan by die Boschkop/Donkerhoek-afrit van die N4 snelweg wees

Die suidelike grens van dié ligte industriële park is die N4-Witbank-snelweg en die noordelike grens die Ou Bronkhorstspruitpad (R104). Die park gaan aan altwee kante van die Boschkop/Donkerhoek-afrit (K54) gebou word.

‘n Verkeersimpakstudie is deur Harm Schreurs gedoen vir die N4 Industriële Park se toegang tot die Ou Bronkhorstspruitpad, waar die hoofingang  gaan wees. Dit gaan omtrent 400 meter wes van die kruising met die Donkerhoek-afrit wees.

‘n Nuwe brug gaan oor die K54 gebou word om die twee kante van die ontwikkeling met mekaar te verbind. Dié brug, ontwerp deur Pieter Louw volgens Gautrans se standaarde, sal die hoofingang na die oostelike deel wees.

Daar sal noodtoegang aan altwee kante van die K54 wees, maar dié toegang se hekke sal gewoonlik gesluit bly. Die park gaan glo 24-uur toegangsbeheer hê.

Vir meer inligting, bel Mazolo Dube van Interdesign Landscape Architects by 012-348-1922 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger