Bouwerk aan Hazeldean-N4-afrit op hande Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 December 2015 13:04
Untitled Document

Die Hazeldean-afrit van die N4 word hier aangedui. Dié afrit sluit aan by die beplande PWV17 deurpad, wat na die Delmaspad loop. Curro College is nommer agt op die kaart

Bouwerk aan ‘n nuwe afrit van die N4-Oos snelweg by Hazeldean gaan volgende jaar begin.

So sê Hendrik van Zyl, ontwikkelingsbestuurder vir die Hazeldean-dorpsgebied langs Silver Lakes. Hendrik verteenwoordig Abland en Sable Homes.

Hendrik het Die Bronberger gekontak nadat hy verlede maand se berig oor die PWV17, ‘Deurpad sal gebied vir ewig verander’, gelees het.

Die berig lui dat die PWV17 die gebied suid van die N4-Oos snelweg met die Delmas-pad gaan verbind.

Volgens Bokamoso landskapargitekte en omgewingskonsultante, wat deur die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer aangestel is om die omgewingsimpakstudies vir die PWV17 te behartig, gaan die deurpad nie by die N4 aansluit nie, maar sal in die toekoms by ‘n beplande PWV-pad aansluit wat parallel aan die N4-snelweg gaan loop.

Hendrik sê egter dat dié inligting verkeerd is. Hy sê dat hy as ontwikkelingsbestuurder vir die Hazeldean-dorpsgebied sonder twyfel kan bevestig dat die PWV17 by die N4 gaan aansluit.

Hazeldean se ontwikkelingspan het reeds al die omgewingsgoedkeurings vir dié proses gekry. Die pad is al klaar ontwerp en verskeie goedkeurings van al die relevante padowerhede is gegee.

Hendrik sê dat hy en sy span besig is om met die plaaslike owerhede te gesels oor ‘n befondsingstruktuur vir die PWV17 komponent in Hazeldean, wat by die res van die beplande deurpad gaan aansluit.

As die befondsing- en die onteieningsprosesse volgens plan verloop, gaan bouwerk aan die Hazeldean-afrit van die N4-Oos snelweg in die derde kwartaal van volgende jaar begin.

Volgens Bokamosa se inligtingsdokumente gaan die PWV17 by die beplande PWV5-pad aansluit by ‘n punt suid van die Delmaspad en oos van Elandsfonteinweg op die plaas Elandsfontein 412 JR, gedeelte 75. Die pad strek van daar af noordwaarts en gaan Garstfonteinweg óf op Grootfontein 394 JR of Tiegerpoort 371 JR, gedeeltes 2, 28, 245 en 235, kruis.

PWV17 gaan Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) kruis op Zwavelpoort 373 JR, gedeeltes 299 en RE/250. Dit gaan die Boschkoppad kruis op Zwavelpoort 373 JR, gedeeltes 43 en 34 en gaan tot ‘n einde kom op ‘n punt oos van Silver Lakes-rylaan op die plaas Zwartkoppies 364 JR.

Die PWV17 gaan deur die volgende gebiede loop: Tweefontein 19 JR; Hatherly 331 JR; Zwartkoppies 364 JR; Mooiplaats 367 JR; Tierpoort 371 JR; Zwavelpoort 373 JR; Grootfontein 394 JR; Elandsfontein 412 JR; Tweefontein 413 JR; Bashewa Holdings nommer 1 en 2; en Tweefontein 413 JR.

 

© 2024 Die/The Bronberger