Kind kry Cullinan se duurste diamant Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 December 2015 13:00
Untitled Document

Die duurste juweel ter wêreld, ‘n seldsame blou diamant wat in die Cullinan-diamantmyn gevind is, behoort nou aan ‘n sewejarige meisietjie. Haar pa, Hong Kongse biljoenêr Joseph Lau, het dié diamant vir R686 miljoen ($48.4 miljoen) by ‘n Sotheby-veiling in Genève, Switserland gekoop en na sy dogter vernoem, ‘Blou Maan van Josephine’.

Die 29.6 karaat blou diamant is in Januarie 2014 in die Cullinan-diamantmyn, wat Sotheby’s as die “enigste betroubare bron in die wêreld van blou diamante” beskou, gevind. Blou diamante ontstaan wanneer boor met koolstof meng terwyl die edelsteen gevorm word.


Hong Kongse biljoenêr, Joseph Lau, links, saam met sy vriendin, Chan Hoi Wan, en hulle dogter Josephine in Hong Kong verlede jaar
Foto: Apple Daily

Die geslypte diamant van 12.03 karaat is in ‘n ring geset en die veiling was op 11 November. Die verkoper was die New York-gebaseerde juwelier, Cora International. David Bennett, voorsitter van Sotheby se internasionale juwele-afdeling, het bevestig dat dié diamant teen $4 miljoen per karaat, die duurste juweel is wat nog ooit aangekoop is.


Die blou diamant van 29,6 karaat wat in Januarie 2014 in die Cullinan-diamantmyn gevind is
Foto: Petra Diamonds

Pienk
Die dag voor Joseph Lau dié ring vir sy dogter Josephine gekoop het, het hy vir haar ‘n 16.08 karaat seldsame pienk diamant vir $28.55 miljoen by Christie’s afslaers gekoop. Dit was ‘n wêreldprysrekord vir enige pienk diamant wat nog ooit op ‘n veiling aangebied is. Hy het dié diamant ‘Die dierbare Josephine’ genoem.

Joseph het glo ‘n gewoonte om peperduur edelstene vir sy kinders te koop. By ‘n Sotheby’s Genève-veiling in 2009 het hy ‘n 7.03 karaat blou diamant vir $9.5 miljoen gekoop en dit ‘Ster van Josephine’ genoem. Josephine is Joseph se dogter by sy vriendin Chan Hoi-wan. Hy het ook kinders by nog ‘n vriendin, Yvonne Lui.

Verlede jaar in November het hy twee edelstene vir sy 13-jarige dogter Zoe gekoop. Een was ‘n 9.75 karaat blou diamant wat hy die ‘Zoe Diamant’ gedoop het nadat hy dit vir $33 miljoen by Sotheby’s se veiling in New York gekoop het. Hy het ook 65 miljoen Hong Kongse dollars vir ‘n 10.1 karaat robyn en diamant borsspeld by Christie’s se Hong Kongse veiling betaal. Dié een is ‘Zoe Red’ genoem.


Die ‘Blou Maan van Josephine’ nadat hy geslyp en in ‘n ring geset is
Foto: Getty

Skuldig
Volgens Forbes is die 64-jarige Joseph die wêreld se 114de rykste mens. Hy is verlede jaar in ‘n Macause hof skuldig bevind aan omkopery en geldwassery en is tot meer as vyf jaar tronkstraf gevonnis. Joseph het egter nie die verhoor bygewoon nie en bly op vrye voet deur nie die vorige Portugese kolonie te besoek nie. Macau het nie ‘n uitleweringsverdrag met Hong Kong nie.

Joseph is een van die eerste mense om ‘n Boeing 787 Dreamliner vir private gebruik te besit. Hy het ‘n rooiwyn-versameling van 10 000 bottels en betaal gereeld rekordbedrae vir kunswerke.

 

© 2024 Die/The Bronberger