Mooiplaatsers skop teen dwelmsentrum Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 24 November 2015 22:30
Untitled Document

Mooiplaatsers vrees dat die dwelmherstelsentrum in hulle midde hoewebewoners se veiligheid sal bedreig en hulle eiendomswaarde sal laat daal. Life-Center word op gedeeltes 14 en 40 Mooiplaats bedryf.

Youth Against Drug Abuse (Yada) het dié projek aangepak om mense wat die herstelfase van onwettige dwelmgebruik deurgemaak het, te rehabiliteer, reïntegreer en vaardighede aan te leer.

Wim Fourie, stigter van Life-Center en voorsitter van Yada, sê dat hulle nie die vyand is nie, maar geestelike en emosionele paramedici wat alles wat hulle het op die spel plaas om diegene wat hulle self nie meer kan help nie, by te staan.

Yada is ‘n nie-winsgewende maatskappy, wat sedert 2004 aan die gang is en in terme van Artikel 21 van plaaslike regeringswetgewing geregistreer is.


Wim Fourie en Laura Brooks by die Yada en Life-Center banier op Mooiplaats

Sonering
Volgens Mooiplaatser Jaco Raubenheimer word die projek bedryf sonder dat die plot vir dié doel gehersoneer is en sonder dat infrastruktuur, soos veiliger omheinings, opgerig is.

Volgens ‘n e-pos van Mooiplaatser Riaan van Zyl word die plot by die eienaar, Fritz Spath, gehuur met die opsie om te koop. Hy skryf dat die huurders op gedeelte 14 ingetrek het en dat geen goedkeuring van die owerhede verkry is om so ‘n projek daar te bedryf nie.

“Die naasliggende plot-eienaars is nie in enige onderhandelinge geken nie, en keur die gebruik van die plot vir dié doel ten sterkste af,” sê Riaan. Hy sê dat die waarde van eiendom in die omgewing drasties geraak sal word en is ook bekommerd oor toenemende verkeer.


Madelein en Wim Fourie

“Ons sal graag die gebruik van die plot vir hierdie doel so spoedig moontlik wil stop,” skryf Riaan.

Wim Fourie het bevestig dat die sentrum die nodige prosesse vir hersonering met die Tshwane Metroraad aan die gang gesit het en dat alle dokumentasie ingehandig is. Hy sê dat ‘n mnr Fhelon van die metroraad vir hulle gesê het dat dié proses eers volgende jaar hoef te begin, maar dat die sentrum dit nou reeds aan die gang gesit het om die veranderings wat hulle wil aanbring wanneer die finale oordrag gedoen word, te versnel.


Laura en Steven Brooks

Program
Life-Center bied ‘Roots 2 Recovery’, ‘n program wat 12 maande duur en uit drie fases bestaan. Daar is ook vaardigheidsprogramme waar werkgerigte kursusse, met name soos Agri-Life, Auto-Life, Aqua-Life, Colored-Life, LifeBioFuel en Organic-Life, aangebied word.

Wim sê dat die meeste van dié vaardigheidsprogramme in die landbousektor val. Hy sê dit is waaroor hulle gemeenskap gaan en hulle beoog om, behalwe vir ‘n paar moontlike toevoegings, landbougerigte programme aan te bied.


Binne-in die Life-Center op Mooiplaats

Wim sê dat enigiemand welkom is om ‘n afspraak te maak en te gaan kyk wat hulle by die Life-Center doen en om die mense te ontmoet. Madelein Fourie, Laura Brooks, Steven Brooks en Gerald Borcherds is mede-stigterslede van die sentrum. Madelein is ondervoorsitter, Steven staan in beheer van bedrywighede, Laura kyk na die voedsel en Gerald na onderhoud.

Voorsitter Wim is ‘n wedergebore Christen wat op 27 Augustus 2000 besluit het om die Here te volg.

Hy het in 2001 ‘n jaar van Bybel-kollege bygewoon. As tiener was Wim ‘n satanis en dwelmverslaafde, wat later ‘n suksesvolle dwelmhandelaar geword het. Ná ‘n egskeiding het hy op straat geëindig voor hy sy ma gevra het om hom te help. Sy het hom na ‘n kerkdiens geneem, wat alles vir hom omgedraai het.


Die ligging van die dwelmherstelsentrum in Mooiplaats. Die sentrum is in Destinyweg, aan die Zwavelpoortspruit, naby die Boschkopse Polisiestasie

Vrees
Mooiplaatsers is egter bevrees dat mense nie suksesvol gerehabiliteer sal word nie. “Die ‘pasiënte’ het net een behoefte en dis nog dwelms,” skryf Jaco Raubenheimer in ‘n e-pos.

“Dit het die effek om daardie verskaffers na ons area te lok asook dat die pasiënte geld nodig het om nog dwelms te verkry. Diefstal kan toeneem. Niks positief vir ons kinders, jongmense, omgewing en eiendomme nie,” sê hy.

Wim sê dat geen van die Mooiplaats-bure die sentrum genader het om te gaan uitvind wat hulle daar doen, hoe en hoekom hulle dit doen nie. Hy rig ‘n ope uitnodiging aan alle lesers om die sentrum te besoek en sê dat hulle niks het om weg te steek nie.


Die Mooiplaats-huis waar die sentrum bedryf word

“Jy mag dalk nie deur onwettige dwelmgebruik in jou direkte familie geraak word nie, so jy sal dalk nie besef watter verwoesting dié pandemie saai nie. Vra jouself hoe jy Yada sou sien as jou eie kind ‘n dwelmverslaafde was en niemand anders die kind kon help nie,” sê Wim.

Bel die sentrum by 071-259-7565; WhatsApp: +27(0)82 558 3863; webblad: http://yada.org.za. Vir aanwysings, besoek: http://goo.gl/maps/vUmqs. Vir hulp met verslawing, besoek: https://m.facebook.com/profile.php?id=852440518137568.

 

© 2024 Die/The Bronberger