Droogte teister Bronberg-gebied Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 24 November 2015 21:57
Untitled Document

Die ernstige droogte wat groot dele van die land sedert vroegsomer teister, is ook deeglik in die Bronberg-gebied gevoel. Sommige ouer inwoners van die kontrei meen die afgelope Oktober is die droogste en warmste wat hulle nog hier beleef het.

Net 16 mm is vir die hele Oktober by Kleinfontein gemeet en dit was in ander dele, soos Kameelzynkraal (14 mm) en Silver Lakes (15 mm), nog minder.

Syfers wat deur ds Lood van der Merwe bygehou is, wys dat dit by verre die minste reën is wat in die afgelope vyf jaar in Oktober in die gebied geval het. In 2011 is 114 mm in Oktober gemeet, in 2012 is 138 mm gemeet, in 2013, 146 mm en verlede jaar is 65 mm op Kleinfontein en 78 mm by Silver Lakes aangeteken.

Syfers van Henk Van de Graaf van Hartebeesfontein buite Rayton, toon dat dit by verre die droogste is wat dit die afgelope aantal jare was. Sedert Januarie vanjaar is 223 mm deur Henk gemeet. In 2013 is 487 mm vir dieselfde tydperk gemeet en in 2014 is 454 mm aangeteken.


Die verskroeide veld
Foto: Anna-marie Jonker

Die kwaai droogte word volgens weerkenners deur die El Nino verskynsel veroorsaak. El Nino gebeur sporadies as gevolg van die verwarming van dele van die Stille Oseaan. In Afrika veroorsaak dit kwaai droogtes in die suidelike gebiede soos Zimbabwe en Suid-Afrika en erge oorstromings in lande soos Malawi, die noorde van Mosambiek en Kenia.

Die huidige El Nino-verskynsel is die sterkste wat nog ervaar is.

In die Bronberg-gebied skarrel mense om voer vir hulle vee en perde aan te koop. Teen 12 November het mense gekla dat hulle nêrens meer grasbale te koop kry nie en dié wat wel in die hande kon kry, moes ten duurste daarvoor betaal.


Sterk winde sorg dat oorblywende weiding deur veldbrande verswelg word
Foto: De Waal Venter

Boorgate het oral begin opdroog en talle lesers het die Bronnie gebel om te hoor wie kan help om hulle boorgate weer ‘oop’ te kry of dieper te boor.

Om sake nog te vererger het sterk winde gesorg dat die karige weiding wat nog op verskeie plase en hoewes oor was, deur veldbrande vernietig is.

Bidbyeenkomste vir reën is in hoewegebiede en by verskillende kerke in die omgewing gehou.

Weerprofete voorspel dat die eerste ‘groot reën’ weens die El Nino-factor, eers in Maart 2016 verwag kan word.

 

© 2024 Die/The Bronberger