Simba kry operasie ná fietsvoorval Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 27 October 2015 09:48
Untitled Document

Simba Masvino, die Tierpoortse hoewewerker wat erg beseer is toe hy deur vier jong mans in ’n bewegende voertuig van sy fiets afgeruk is, moes op 16 Oktober ’n operasie aan sy gebreekte wangbeen ondergaan.

Die jong mans se families het aangebied om al Simba se mediese kostes te betaal. Volgens Simba se werkgewer, Rudie Britz, was die moontlikheid sterk dat die saak teen drie van die 19-jarige mans wat weens aanranding aangekla is, buite die hof geskik sou word. Die jongelinge en hulle ouers het vir Rudie en Simba om verskoning kom vra.


Só het Simba se gesig ná die voorval gelyk
Foto: Valeska Abreu

Die voorval waarin Simba beseer is, was op Sondag 4 Oktober. Die vier het blykbaar by die Nkwe-ontspanningsoord gekuier en net buite die oord se ingang het hulle vir Simba op sy fiets raakgeloop. Een of meer het vir Simba in die verbyry deur die oop motorruit gegryp en hom saamgesleep.

Simba het baie hard geval en is erg beseer. Die jong mans het weggejaag en ’n soektog is op tou gesit om hulle op te spoor. Die ouers van een van die vier mans wat in die voertuig was, het na vore gekom en die ander drie is aangekeer. Hulle het het later in die hof verskyn en die saak is na November uitgestel.

Die jong mans woon nie in die Bronberg-gebied nie en was vir die dag by Nkwe. Die hoewe waar Simba werk is naby aan die oord.

 

© 2024 Die/The Bronberger