Verbypad ‘n nagmerrie vir motoriste Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 27 September 2015 17:31
Untitled Document

Cullinan se tydelike verbypad is lewensgevaarlik, sê padgebruikers. In die eerste paar weke van sy gebruik was daar bykans daagliks ongelukke op dié grondpad. Swaar voertuie, wat nie die verbypad mag gebruik nie, ry steeds dié kortpad in plaas van die voorgestelde langer teerpadroete buite om die dorp.

Verlede maand het ons berig dat Cullinan se toegangspad, wat verby die myn se oop put loop, toegemaak is omdat die afstand tussen die pad en die myn se oop put al hoe kleiner word en die pad ná grondstortings nie meer veilig is nie.

‘n Tydelike verbypad, ‘n grondpad van 1.9 km, herlei verkeer vanaf die noorde van Pretoria na dié dorp. Die grondpad sal vir ongeveer twee jaar gebruik word tot konstruksie aan ’n nuwe pad, die K14, wat aan die rand van Oudorp se suidekant gaan verby loop, klaar is.

Gautrans is besig met die omgewingsimpakstudies vir die bou van die nuwe pad op ‘n servituut wat reeds in die 1960/70’s in die ou PWV Roetebeplanning vir die Witwatersrand vasgelê en geregistreer is.

Die tydelike grondpad loop vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) en sluit by Zonderwaterweg-wes aan waar die geplaveide pad ‘n teerpad word en by die landdroskantoor by die Rayton-pad (R515) aansluit.


Die verbypad is ‘n kronkelende grondpad

Vragmotors
Die dorp se sakelui is verheug dat swaar voertuie ná jare uiteindelik nie meer deur die dorp se sakekern ry nie, maar dit blyk ‘n onbegonne taak te wees om die vragmotors van die verbypad af te hou.

Die verbypad is volgens provinsiale regulasies voltooi en vragmotors swaarder as vier ton word nie daarop toegelaat nie. Vragmotors en busse word herlei om die geteerde roete vanaf die Mamelodi-kruising verby R&R Slaghuis na Cullinan te volg.

Vandale het glo die ompad-pyl in Zambeziweg, wat dié roete aandui, toegeverf. Dit beteken dat swaar voertuie reguit Cullinan toe aanhou ry en teen die tyd wat hulle die verbypad bereik en die padtekens sien wat swaar voertuie verbied, wil hulle nie omdraai en terugry nie.


Die swaar vragmotor kon nie die bult opkom nie, toe steek die bus op ‘n blinde hoogte verby
Foto: Ansa Greyvensteyn

Onmoontlik
Motoriste wat die verbypad gebruik vra hoekom dit onmoontlik blyk te wees om die swaar voertuie van dié pad af te hou. Volgens Etienne Coetzee, president van die Cullinanse Kamer van Koophandel, wat ook verantwoordelik is vir die myn se regs- en eiendomsaangeleenthede, het die probleem ontstaan omdat die Gautengse Departement van Vervoer (Gautrans) se padtekens nie op datum was nie.

Hy sê dat daar onlangs ‘n vergadering tussen die Tshwane Metroraad se verkeersafdeling, gemeenskapsverteenwoordigers, die Cullinanse Kamer van Koophandel en Gautrans was waar 14 plekke geïdentifiseer is waar die padtekens óf nie reg is nie, óf ontbreek.

Die verkeersafdeling sê glo dat wetstoepassing nie moontlik is as die padtekens verkeerd is nie, omdat oortreders in die hof sal loskom as hulle ‘n boete kry. “Wetstoepassers kan nie hulle werk doen nie,” sê Etienne. “Provinsie moet eers hulle werk doen.”

Die korrekte padtekens sou in die middel van September opgesit word.


Die toegemaakte pad verby die Cullinan-myn se oop put het glad nie aangetoon waar ‘n alternatiewe roete gevind kan word nie

Ongelukke
Etienne verduidelik dat ongelukke op dié pad gebeur omdat die wet nie toegepas word nie. Hy sê dat die tydelike grondpad nie vir hoë spoed gebou is nie en dat daar padtekens op is wat aandui dat die spoedgrens 40 km per uur is.

Sommige motoriste sê dat die pad heeltemal te glad is omdat hy die heeltyd natgespuit word om stof te beheer. Volgens Etienne het die myn ‘n watertrok wat sewe dae ‘n week die pad nat hou en Gautrans se watertrokke help ook. Chemiese produkte wat stof beperk word ondersoek.

Motoriste sê dat swaar voertuie nie teen die steil bult op die grondpad kan uitkom nie en die verkeer ophou. Sommige van dié vragmotors probeer dan agteruit ry om van onder af weer die bult te probeer aandurf.

Motoriste wat agter swaar voertuie sit raak ongeduldig en stel hulle self in gevaar deur verby te probeer jaag.

Volgens swaar voertuig-eienaar, Guillaume Cilliers, ry vragmotors teen gemiddeld 1,7 km per liter brandstof. Dit ruk die eienaars se sak om die ompad te ry. Guillaume sê hy betaal R23 000 per vragmotor per jaar aan lisensies.

Hy sê hy dink nie die departement het die verbypad goed deurdink nie en dat ‘n oplossing gevind sal moet word, want die probleem sal aanhou tot die nuwe pad klaar is.

Guillaume sê dat ‘n mens net na die gebruiksartikels rondom jou moet kyk. Alles is met vragmotors aangery. “Ja, trokke hou ‘n mens op en daar is roekelose drywers wat aangespreek moet word, maar sonder trokke het julle niks nie.”


Swaar voertuie gebruik die verbypad, alhoewel die padtekens sê hulle mag nie
Foto: Melodie Steyn

Stopstraat
Inwoners kla oor die verkeersopeenhoping waar die verbypad by Zonderwaterweg aansluit en waar Zonderwaterweg by die Raytonpad (R515) aansluit.

Etienne sê dat ‘n voorstel ingedien is om aanvraag te doen vir ‘n drierigting stopstraat by die verbypad se aansluiting. Daar is op die oomblik net ‘n stopstraat vir die verbypad se gebruikers.

Daar is ook ‘n langtermynplan om ‘n verkeerslig te beplan vir die aansluiting van Zonderwaterweg by die Raytonpad. Etienne sê dat hy dit nie kan bevestig nie, maar dat so iets dalk eers met die bou van die nuwe pad sal gebeur.


Een van vele ongelukke op die verbypad
Foto: Rayton/Cullinan buurtwag

Ompad
Motoriste kla ook dat daar geen borde in die dorp is wat wys waar die verbypad is nie. Die toegangspad is met sementblokke toegemaak sonder dat daar aangedui word hoe motoriste die noorde van Pretoria nou kan bereik.

Daar is grootskaalse verwarring wanneer swaar voertuie voor dié sementblokke probeer omdraai. Motorfietsryers glip langs die sementblokke verby en gebruik die toegemaakte pad wederregtelik.

Volgens Etienne is dié probleme ook met Gautrans bespreek en gaan die ompad-aanwysings binnekort opgesit word. Hy sê dat die myn die pad langs die oop put gaan toespan om die risiko te verminder dat motorfietsryers die pad gebruik en in gevaar gestel word.


Die ingang na die verbypad vanaf Zambeziweg-verlenging

Vulstasie
Ons het verlede maand berig dat die vulstasie op dié toegemaakte deel van die pad platgeslaan gaan word. Etienne sê dat die ondergrondse petroltenks nou verwyder word en dat die gebou daarna gesloop gaan word. Die gebou word as ‘n veiligheidsrisiko gesien – ‘n plek waar misdadigers kan skuil.

Die mees onlangse sywandbewegings van die myn se oop put was by die draai in die R513, naby die vulstasie. Die huurkontrak vir dié eiendom het aan die einde van verlede jaar verval en is nie hernu nie, omdat die myn verwag het dat die pad as ‘n korttermyn-oplossing verlê sal moet word.

Etienne sê dat die myn voorkomend optree en dat, behalwe die vulstasie, geen ander infrastruktuur in gevaar gestel word nie. Hy sê dat die myn se oop put nie die huise agter die vulstasie in gevaar stel nie.

Enige beweging van die oop put word deur elektroniese meters gemonitor. Die lesings word aan ’n raadgewende geotegniese ingenieur gestuur, wat dit ontleed om te bepaal wat die gat se terugbreeksone is.

Moeilikheid
In Mei het ons berig dat daar nog net 33 meter aarde tussen die myn se oop put en die toegangspad oor was. Die aanbeveling is dat daar 100 meter tussen ‘n openbare pad en ‘n gat moet wees.

Die wand van die Cullinan-myn se reuse gat het sedert November verlede jaar 40 meter nader aan die pad beweeg. In dié tyd was daar twee grondstortings – een in November toe ‘n paar krake oopgemaak het en ‘n sywandbeweging op 11 April.

Die probleem het glo met Augustus verlede jaar se aardbewing begin. Dié aardbewing by Orkney het 5,5 op die Richterskaal geregistreer en kon duidelik in Cullinan gevoel word.

 

© 2024 Die/The Bronberger