Sandmyn vir Mooiplaats beplan Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 August 2015 08:22
Untitled Document

‘n Sandmyn word vir Mooiplaats beplan. Inwoners sê dat die gebied se paaie nie die toename in swaar vragmotors, wat die sand gaan vervoer, sal kan hanteer nie en dat verkeer en stof ‘n probleem gaan wees.

Pieter Pretorius van plot 318 Mooiplaats 367-JR, naby die Max Stibbe Waldorfskool, beplan om bestaande uitgrawings op die plot uit te brei. Hy is besig om ‘n besproeiingsdam te bou en die sand wat met die uitgrawings vir die dam verwyder word, gaan vir die maak van plaveiblokke gebruik word. Wanneer sand verwyder en verkoop word, moet mynregte in plek wees.

Pieter het in 2013 met dié uitgrawings begin, maar het intussen besef dat daar ‘n mark vir sand en vullingsmateriaal is. Uitgrawings is gestop en sal aangaan as die mynpermit uitgereik is.

Volgens die agtergrondinligtingsdokument wat deur Index Edms Bpk opgestel is, sal die mynpermit vir ‘n beperkte gebied van vyf hektaar wees en sal dit vir twee jaar, wat vir ‘n maksimum van vyf jaar hernu kan word, geldig wees.


Die beplande sandmyn is links onder op die satellietfoto, naby Max Stibbe Waldorfskool

Vragmotors
Stofbesoedeling van vragmotors wat van en na die myngebied ry, kan bure beïnvloed. In die droë wintermaande waai die wind gewoonlik van die noorde en die weste.

Dit word beraam dat 6 000 m³ per kwartaal gemyn gaan word, wat 2 000 m³ per maand beteken, of omtrent 100 m³ per dag. Dit beteken dat ses daaglikse heen en weer togte per vragmotor afgelê sal word. Index se dokument sê dat remediërende maatreëls om die potensiële impak van die stof minder te maak, in werking gestel sal word.

Water
Daar is geen spruite of gedefinieerde dreineringslyne op die plot nie en die plan is dat die dam stormwater sal opvang wat vir besproeiingsdoeleindes gebruik sal word. Die stormwatervloei oor die plot word na die bodem van die uitgrawings herlei. Dié water is glo nie geskik vir menslike gebruik nie en sal aangewend word om stof in die mynproses onder beheer te hou.

Luidens Index se dokument het Pieter voorheen op twee plekke op die plot probeer boor en nie water gekry nie. Hy is afgeraai om weer te probeer. Die grond is glo vlak en rotsagtig en daarom nie geskik vir landboudoeleindes nie.

Die plot val in die Pienaarsrivier se opvangsgebied en volgens die agtergrondinligtingsdokument sal die mynproses nie ‘n impak op waterkwaliteit hê nie. Geen water sal in die mynproses gebruik word nie.

Tye
Die sand sal tussen 7 vm en 4 nm in die week gemyn word, tot 3 nm op sekere Saterdae en daar sal geen werk op Sondae wees nie.

Bestaande personeel sal gebruik word om die sand uit te grawe en slegs een of twee elementêre nuwe werksgeleenthede sal geskep word. Die enigste infrastruktuur wat nodig is, is ‘n hut vir die berging van verslae, wat kan dien as skuiling vir personeel, en ablusiegeriewe. Personeel sal nie oornag op die perseel bly nie.

Bestaande toegangspaaie na die plot gaan gebruik word en net een uitgrawer sal gebruik word.

Wanneer genoeg los sand geskep is, sal die uitgrawer onttrek word en ‘n laaigraaf sal gebruik word om die materiaal vanaf die hope op die vragmotors te laai.

Masjienerie sal in ‘n skuur gestoor word en geen olie, brandstof of ander moontlike besoedelingsmateriaal sal in die myngebied aangehou word nie.

Bure het tot 25 Augustus tyd om as belanghebbende partye in Index se studie te registreer. Skakel Index by 012-346-5307, 012-345-6447 of 082-553-3787.

 

© 2024 Die/The Bronberger