Pad verby myn se gat gesluit Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 August 2015 08:17
Untitled Document

Cullinan se toegangspad, wat verby die myn se oop put loop, is toe. ‘n Tydelike verbypad, ‘n grondpad van 1.9 km, herlei verkeer vanaf die noorde van Pretoria na dié dorp.

Met saktyd het Gautrans bevestig dat die pad op Maandag 17 Augustus sou sluit. Die grondpad sal vir ongeveer twee jaar gebruik word tot konstruksie aan ’n nuwe pad, die K14, wat aan die rand van Oudorp se suidekant gaan verby loop, klaar is.

Die tydelike grondpad loop vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) en sluit by Zonderwaterweg-wes aan waar die geplaveide pad ‘n teerpad word en by die landdroskantoor by die Rayton-pad (R515) aansluit.

In Mei het ons berig dat daar nog net 33 meter aarde tussen die myn se oop put en die toegangspad oor is. Die aanbeveling is dat daar 100 meter tussen ‘n openbare pad en ‘n gat moet wees. Die wand van die Cullinan-myn se reuse gat het sedert November verlede jaar 40 meter nader aan die pad beweeg. In dié tyd was daar twee grondstortings – een in November toe ‘n paar krake oopgemaak het en ‘n sywandbeweging op 11 April.


Die toegangspad, wat verby die Cullinan-myn se oop put loop, is gesluit

Aardbewing
Die probleem het glo met Augustus verlede jaar se aardbewing begin. Dié aardbewing by Orkney het 5,5 op die Richterskaal geregistreer en kon duidelik in Cullinan gevoel word.

Volgens Etienne Coetzee, president van die Cullinan-Kamer van Koophandel, wat ook verantwoordelik is vir die myn se regs- en eiendomsaangeleenthede, was daar nie intussen verdere sywandbewegings nie.

Hy bevestig dat die myn voorkomend optree en dat enige beweging van die oop put deur elektroniese meters gemonitor word. Die lesings word aan ’n raadgewende geotegniese ingenieur gestuur, wat dit ontleed om te bepaal wat die gat se terugbreeksone is.

Die myn het die probleem onder die Gautengse Departement van Vervoer (Gautrans) se aandag gebring toe hulle besef het dat die pad in gevaar is. Werkers het in April staalrelings tussen die pad en die myn se draadheinings aangebring.

Die sywandbewegings in April was by die draai in die R513, naby die vulstasie. Die huurkontrak vir dié eiendom het aan die einde van verlede jaar verval en is nie hernu nie, omdat die myn verwag het dat die pad as ‘n korttermyn-oplossing verlê sal moet word. Die vulstasie-geboue word nou gesloop en die pad word met sementblokke toegemaak en sal opgekap word.


Die tydelike grondpad sluit by Zonderwaterweg-wes aan waar die geplaveide pad ‘n teerpad word en by die landdroskantoor by die Rayton-pad (R515) aansluit

Verbypad
Etienne sê dat verteenwoordigers van die Cullinan-myn, die Cullinan-Kamer van Koophandel en die Gautengse Toerisme-vereniging vroeër vanjaar die Departement van Vervoer gaan sien het en dat konsultasie oor ‘n tydelike verbypad toe begin het.

Die verbypad is volgens provinsiale regulasies voltooi en vragmotors swaarder as vier ton word nie daarop toegelaat nie. Vragmotors en busse word herlei om die geteerde roete vanaf die Mamelodi-kruising verby R&R Slaghuis na Cullinan te volg. Dit is die sakemense en gemeenskap van Cullinan se wens dat swaar voertuie in die toekoms nie deur die dorp moet ry nie.

Die tydelike verbypad sal in werking wees tot die K14 gebou is. ‘n Servituut vir die verlegging van die K14 is reeds in die 1960/70’s in die ou PWV Roetebeplanning vir die Witwatersrand vasgelê en geregistreer.


Etienne Coetzee

Nuwe
Etienne sê dat Gautrans besig is met die omgewingsimpakstudies vir die bou van die nuwe pad. Daar sal deur die rantreeks suid-oos van die dorp geskiet moet word en onderhandelings met Transnet moet gefinaliseer word.

Die nuwe pad moet die geskiedkundige Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) spoorlyn kruis, waarop die stoomtreine, wat ‘n groot bron van toerisme vir die dorp is, aankom.

Volgens Etienne wys studies dat, behalwe die vulstasie wat gesloop word, geen ander eiendom of infrastruktuur in Cullinan deur die myn se sywandbewegings in gevaar gestel word nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger