Aanval op Dawie een van tien in gebied Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 August 2015 08:16
Untitled Document

Die aanval op bekende ekonoom en Ontbytsake-aanbieder, Dawie Roodt en sy gesin was die tiende huisaanval in die Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort (MZT) gemeenskapsveiligheidsgroep se gebied vanjaar.

Daar was vyf sulke aanvalle in die gebied sedert 1 Junie. Dawie se geval was die vierde een in ‘n veiligheidslandgoed, met wagte, in die afgelope paar maande.

Dawie en sy gesin is op 23 Julie in hulle huis in die Luberon-veiligheidslandgoed in Achillesweg, Zwavelpoort aangeval.


Die ingang na die Luberon-veiligheidslandgoed in Achillesweg, Zwavelpoort
Foto: Theana Breugem

Rowers het Dawie se dogter, Danielle, teen ongeveer 8.30 nm by die gesin se huis ingewag en sy is by die huis ingedwing. Dawie, sy vrou, Marina, en hulle tweejarige tweelingdogters was in die huis.

Die rowers het die gesin se hande met kabelbinders vasgemaak en geld gesoek. Dawie het gesê daar is geld in sy motor. Hy het met sy vasgemaakte hande saam met twee rowers na buite gestap, terwyl die ander twee in die huis was. Dawie het hom teëgesit en het in die stoeiery diep steekwonde in sy linkerbo-arm opgedoen. In dié warboel het beurtkrag ingeskop en die rowers het weggehardloop. Dawie het daardie nag ’n operasie ondergaan.


Dawie-Roodt
Foto: Efficient Group

Volgens Mike Strange van die MZT Gemeenskapsveiligheidsgroep is daar ‘n verskil tussen huisroof en huisinbrake. Die 10 huisrooftogte in die gebied behels konfrontasie met die inwoners. ‘n Inbraak is waar daar geen konfrontasie was nie. Daar was ‘n verdere 24 inbrake in dié gebied vanjaar.

Ná twee operasies is die dokters positief dat hulle Dawie se armspiere, ligamente en senuwees goed kon heg. Die volgende ses maande sal intensiewe rehabilitasie behels om die volle gebruik van sy linkerarm en -hand terug te kry.

 

© 2024 Die/The Bronberger