Pienaarspoort word vir plakkers ontbos Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 July 2015 23:48
Untitled Document

‘n Enorme stuk grond word vir ‘n informele nedersetting in Pienaarspoort ontbos sonder dat ‘n omgewingsimpakstudie gedoen is. Die ongeveer 100 ha grond word deur die Tshwane Metroraad van inheemse bosse skoongemaak sodat ‘n paar duisend plakkers, wat volgens hofbevele elders uitgesit is, daar kan huise oprig.

Volgens Pienaarspoorter Petro Lemmer is daar ‘n bakleiery onder dié wat daar wil huise oprig. Sy sê daar is groot drama en die polisie moes rubberkoeëls gebruik om die struweling te stop. Volgens Petro weet diegene wat nog grond in Pienaarspoort besit dat hulle kleinhoewes nou niks werd is nie.

Die hoewes waar die skoongemakery in Junie begin het, is gedeelte 12 en 17 en die agterkant van gedeelte 45, Pienaarspoort 339 JR. Dit lê net noord van die ry plotte 30, 37, 38, 39 en 29 en grens aan die bruin pad (D771). Tshwane Metroraad is die eienaar van die grond.


Die kaart dui Pienaarspoort plot 66, in rooi aan; plot 45 plakkerskamp en Lethabong altwee in pienk, asook die N4 Industriële Park, Hazeldean en Magaliesberg

Inspeksie
Petro het die Groen Skerpioene ingekry om ‘n ondersoek te doen. Die ingenieur in beheer van die perseel het vir die inspekteur gesê dat ‘n omgewingsimpakstudie wel gedoen is, maar volgens Petro verwys hy na ‘n studie op die verkeerde stuk grond, naamlik gedeelte 66 wat aan die bestaande plakkerskamp op plot 45 grens.

Petro het aan Miyelani Baloyi, ‘n omgewingsbestuur-inspekteur van die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO), verduidelik dat die omgewingsimpakstudie gedoen is deur ‘n private maatskappy, Krysanthe development, wat die ontwikkelaars van gedeelte 66 is. Dié studie het niks met die gebied wat nou skoongemaak word, te doen nie en is oorkant die grondpad, D771.


Die bestaande plakkerskamp op gedeelte 45, Pienaarspoort, oos van die spoorlyn. Die pienk lyne toon die plot se grense en wys die huisies wat noord van gedeelte 45 op Krysanthe se
grond (gedeelte 66) gebou is

Krysanthe het ook aansoek gedoen om gedeelte 67 te ontwikkel, maar dit is deur GDLLO afgekeur weens die vleiland en die hang van die Magaliesberg.

Petro het vir Miyelani laat weet dat, nadat hy met die metroraad-opsigter in beheer van die skoonmaakproses gepraat het, hulle aangegaan het om bome tot teen die hang van die Magaliesberg af te kap en Miyelani se instruksies geïgnoreer het.


Gedeelte 12 en 17 lê net noord van die ry plotte 30, 37, 38, 39 en 29 en grens aan die bruin pad (D771)

Plakkers
Petro verduidelik dat die plakkers wat daar hervestig gaan word dié is wat in die spoorweg- en Eskom-serwitute gebou het, dié wat buite die bestaande plakkerskamp op plot 45 begin bou het, en mense wat onwettig deur onder andere onderverhuurdery, op die naburige Lethabong nedersetting op plotte drie en vier, Donkerhoek beland het.

Volgens Petro, wat op ‘n weeklikse basis opheffingswerk in die plaaslike plakkerskampe doen, is een- tot tweeduisend mense onwettig in Lethabong.


Huisies in die plakkerskamp op Pienaarspoort, gedeelte 45
Foto: Argiefmateriaal

Daar is onbevestigde gerugte dat Kanana se mense ook na Pienaarspoort geskuif gaan word. Kanana is ‘n informele nedersetting op gedeelte 34, Kameelzynkraal 547 JR naby Welbekend.

Wanneer daar ‘n uitsettingshofbevel kom, is die metroraad verplig om die huislose mense te hervestig.

Petro skat dat nog ‘n paar duisend mense nou in Pienaarspoort gaan begin strukture oprig.


Huisies in die plakkerskamp op Pienaarspoort, gedeelte 45
Foto: Argiefmateriaal

Bestaande
Die bestaande plakkerskamp is op die deel van plot 45 wat oos van die spoorlyn lê. Die huisies noord van gedeelte 45 is op Krysanthe se grond (gedeelte 66). Tshwane is ‘n jaar gelede ingevolge ‘n hoërhofbevel aangesê om vir die mense wat daar strukture opgerig het, alternatiewe behuising te verskaf.

Die deel van plot 45 wes (suidwes) van die spoorlyn is grond wat Abel Pienaar van plot 1 Pienaarspoort 338-JR by die metroraad vir sy aanloopbaan gehuur het. Hy is op kort kennisgewing aangesê om die grond te ontruim. Abel het ‘n hofbevel probeer kry om die metroraad te stop, maar dit is nie toegestaan nie, en Petro sê sy verstaan dat hulle reeds begin het om die terrein vir behuising voor te berei.

Die spoorwegbrug langs gedeelte 45, wat Transnet destyds vir die eienaar Ben van der Merwe gebou het en wat vir baie jare gesluit was, is nou weer oopgemaak vir die konstruksievoertuie.

Die stuk grond suid-oos van gedeelte 45, tussen die bruin pad en die spoorlyn, is ook onlangs skoongemaak en erwe is reeds uitgesit. Blykbaar is die eerste strukture reeds opgerig. Daar was glo rusie tussen die mense aan wie die erwe toegeken is en ander wat net wou kom plak.

 

© 2024 Die/The Bronberger