Mol–estering Print E-mail
News - Briewe
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

Eus de Klerk van Cullinan:
In ons grasperk is ’n mol – reeds sowat ses maande lank. Ek het omtrent alles probeer: peri-peri poeier, ‘anti-freeze’, motbolle (naphthalene), paraffien, asyn, Sta-soft, HTH en nog ’n lot ander onnoembare goeters.

Helaas! Tevergeefs. Die plaagbeheer-kontrakteur was al twee keer hier. Hulle waarborg ook niks nie. Toe, na ’n gesoek op Google, kom ek op ’n wonderlike uitvindsel af. ’n Ultrasoniese, sonkrag-aangedrewe, mol-afskrikmiddel.

Vrylik vertaal, word die produk as volg beskryf: “Vir optimale werkverrigting beveel ons aan dat die molafstotende middels elke 96 voet op jou grasperk geplaas word. Soniese pulse van drie tot vier sekondes word elke 30 sekondes uitgestuur, dit dring die grond binne en dwing ook plae om die area waardeur die klank beweeg, te ontruim.”


Die mol kraai koning

Nê? Ek koop toe twee van hierdie wonderlike uitvindsel en plaas hulle op strategiese plekke op die grasperk. Ha! Die mol ignoreer hulle soos die plaaslike taxi’s die verkeersligte ignoreer.

Ek het selfs een in die mol se gat gedruk (dis nou die gat wat hy in die gras gegrawe het, Sakkie). Tien minute later lê die ultrasoniese gemors dwars op die grond.

Laastens: Hierdie waarskuwing op die boksie: Verstikking-gevaar. Die produk bevat klein magnete. As hulle ingesluk word, kan hulle aan mekaar vassit in die derm en ernstige infeksies en dood veroorsaak.

Ek wonder nou of ek hierdie magneetjies moet uithaal en vir die mol voer?

Brief verkort. – Red

 

© 2024 Die/The Bronberger