Waardeer die klein dingetjies Print E-mail
News - Briewe
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

Buks Dom Boer Barnard van Elandshoek:
Dom Boer se koel verkwikking vir die dag:

Die ou lewe is darem nog propvol lekkerkry as ’n mens net soms wil stop en dit waardeer: Boeke, diere, kleinkinders, musiek, skoon beddegoed, ou rolprente, groentebeddings, slaap . . .

En partykeer dien die swaarkry daartoe om die lekkerkry lekkerder te maak.

Soos om op ’n snikhete hittegolfmiddag soos vanmiddag ’n trossie koel, vars, katôbadruiwe van jou eie prieel af uit jou yskas te haal en jou gestel daarmee te vertroetel en verkwik.

Dom Boer het die grootste respek en waardering – selfs bewondering – vir ons land se tafeldruifboere wat so hard moet werk en aan soveel risiko’s blootgestel is om ’n produk te lewer en ’n bestaan te maak – veral die vasbyters van die Benede-Oranje wat elke paar jaar van voor af moet begin as die rivier hulle wingerde verwoes en hulle toerusting see toe meesleur.

Dom Boer haal sy hoed af vir daardie boere wat noodgedwonge ter wille van geldelike oorlewing allerhande soorte druiwe met snaakse, vreemde name moet produseer . . . maar ’n trossie koue katôbas hier uit Vierkleur se eie goeie grond bly maar vir hom sy allereerstekeusedruif.

Daar is talle groot dinge om oor dankbaar te wees, maar laat ons nie die klein dingetjies ongewaardeerd laat verbygaan nie. Eendag sal ons nog daarna terugverlang.

En ek wed daar is op hierdie oomblik iewers iemand wat wens vir so ’n trossie katôbadruiwe.

 

© 2024 Die/The Bronberger