Koorsbome hoort nie daar nie Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

Carel Breytenbach van Kleinfontein:
In opvolging van ‘Koorsbome sneuwel voor padverbreding’, die artikel oor die koorsbome in Lynnwoodweg, wil ek graag die volgende enkele opmerkings maak.

  1. Naas die koorsbome is daar ook die vaderlandswilg, wat bekend staan as oewerbome wat normaalweg op rivier- en spruitwalle in groepe bymekaar groei om mekaar in ’n normale sanderige groeibodem te ondersteun.
  2. Horisontale wortels kan twee tot vier maal die potensiële hoogte van die boom in lengte vanaf die stam groei. As in ag geneem word dat die potensiële hoogte van ’n koorsboom 20 meter, en die van ’n vaderlandswilg 17 meter is, dan is die ses meter plantafstand vanaf ’n pad nie haalbaar nie.
  3. Die enigste rede hoekom die wortels skade aan die paaie se teeroppervlaktes, geplaveide parkeerterreine of paaie in sekuriteit- en aftreeoorde veroorsaak, is omdat daar baie vog akkumuleer aan die onderkant van die teer- of plaveiblad en dat die wortels dus nie nodig het om dieper na vog te soek nie. Neem in ag dat die meeste van die bome sulke lang slap dun stammetjie het en vertroetelde aan-’n-stok-vasgebinde boompies is wat miskien in ’n 20 liter sak staan. Daardie arme boompie het ook nie meer ’n penwortel waarmee die boom homself in die grond kan anker nie. Die resultaat is: die wind waai hom om as die boom groot is.
  4. Weens die omgewingsinperking van die bome wat grens aan ’n mensgemaakte woestyn, wat die boom aanbetref, en geensins aan sy normale groeihabitat voldoen nie, moet daar skade aan die direkte groei-omgewing plaasvind. Gaan plaas een van die manne/dames, wat die plant van die bome aanbeveel, in die middel van die Sahara of Namib-woestyn en kyk wat gebeur met hom of haar.
  5. Nee, hoekom word daar nie eerder gekyk na Suid-Afrika se rykdom van pragtige groot struike, twee tot vier meter hoog, soos die Van Wykshout, PomPom (Dais continifolia), lekkerbreek of katjiepiering nie, om enkeles te noem. Baie van die struike het ook nog die voordeel van ’n pragtige blomdrag.

Vergeet van enige groot bome, veral die wat buite hulle normale habitat geplant word; dit veroorsaak net probleme en kopsere. Koorsbome, vaderlandswilg, ens. behoort in groot (hektaar of meer) tuine en nie op sypaadjies, parkeerareas of huistuine nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger