Propvol Rip van Winkel Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 25 June 2019 11:11
Untitled Document

Eus de Clerk van Cullinan skryf:
Na ‘n leeftyd van swoeg en sweet en werk en arbeid in die Grootstad, het ons sowat vier maande gelede in Cullinan kom aftree. En wat ‘n verrassing! Minder as 40 km vanaf Pretoria, ontdek ons ‘n dorpie wat, soos Rip van Winkel, steeds besig is met ‘n laaang slaap.

Hier groet die mense mekaar nog op straat; almal weet alles van mekaar se besigheid; die ooms is almal ekspert weervoorspellers en muhkênieks; die tannies kan nog jêm kook en brood bak; die winkeltjies verkoop goeters wat dateer uit die Eerste Wêreldoorlog; Afrikaans is die voertaal wat meestal gehoor word; die sonsondergange is skouspelagtig – en die lug is skoon.

Die dorpie is propvol karakter. Oor naweke hoor ’n mens die gebrul van kragtige mouterbaaiks van die brêkvis runners – manne en hulle meisies met leerbaadjies en krêsh helmits – ook manne soos Eric Rusty Pool wat ‘n doodskis agter sy ysterperd aansleep.


‘n Ou koekepan uit my Rip van Winkel-dorpie

By een plek word jou kos in ‘n skopgraaf bedien. By ‘n ander is daar die lekkerste vetkoek in die wêreld; by die gholfbaan is daar dosyne byevangers, kiewiete, tarentale en talle skaars voëlsoorte. (En ou toppies met boepense wat balletjies wegslaan en weer na hulle soek.)

Daar is so baie restourante – indien jy nie sterk van geloof is nie, sal jy jouself maklik kan dood-eet in dié dorpie waar die wêreld se grootste diamant gevind was. Jy kan selfs vars plaasmelk, botter, en room koop.

Dan is daar al die besienswaardighede uit vergange se dae: van plekke met goeters wat jy nie meer elders te sien kry nie; die museums; toere; en talle klein geboutjies uit die vroeë 1900’s.

Laaste, maar beslis nie die minste nie, is daar die Bronnie – Bronberger. Dié gratis, maandelikse tydskrif, het ons gou ontdek en geniet dit vreeslik – al die gebeure, plaaslike nuus, stories, artikels, foto’s en feeste.

Dankie Gerhard en Angie en die res van julle span. Julle het ons onmiddellik laat tuis voel in ons nuwe dorpie. Geluk met jul 200ste uitgawe van die Bronnie! Sterkte vorentoe.
Dankie, Eus! Brief verkort. – Red

 

© 2024 Die/The Bronberger