Vang eers jou eland, sé Laurens oor Afrika–resepte Print E-mail
News - Mymerkos
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

Skrywer, ontdekkingsreisiger, boer, soldaat, filosoof, opvoeder, weldoener en bewaringsbewuste . . . dié is net ’n paar van die dinge wat Laurens van der Post genoem kan word.

Hy was bekend vir sy belangstelling in die Boesmans van die Kalahari, sy tyd as krygsgevangene in die Tweede Wêreldoorlog, sy vriendskap met die Switserse psigiater en psigoterapeut, Carl Gustav Jung, en sy invloed op die toekomstige koning Charles III en Britse eerste minister, Margaret Thatcher.

Laurens is op 13 Desember 1906 op Philippolis gebore as die 13e kind van Christiaan Willem Hendrik van der Post, ’n Hollander wat van Leiden na Suid-Afrika geïmmigreer het en in 1889 met Johanna (Lammie), ’n nooi Lubbe, getrou het.

Laurens se pa is in Augustus 1914 dood en hy het in 1918 op Grey-kollege, Bloemfontein begin skoolgaan. In 1925 het hy as verslaggewer vir ‘The Natal Advertiser’ begin werk.


‘African Cooking’ hardeband
Bron: amazon.com/

Hy het sy eerste vrou, Marjorie Edith Wendt (1905 – 1995), dogter van die stigter van die Kaapstad-orkes, in 1927 ontmoet. Hulle het Engeland toe gereis en is op 8 Maart 1928 in Dorset getroud. Hulle eerste kind, Jan Laurens, is op 26 Desember daardie jaar gebore.

Die gesinnetjie is in 1929 terug na Suid-Afrika waar Laurens vir die ‘Cape Times’ gewerk het. In 1931 is hulle terug na Engeland en in 1934 is Laurens se eerste boek gepubliseer. Dit was ook die jaar wat hy besluit het om te begin boer.


Dié spotprent is deur Laurens se neef, Tom Bedford, vir sy oom se 80ste verjaardag geteken
Bron: perfectmanage.eu

In 1936 het Laurens vyf keer na Suid-Afrika gereis en vir Ingaret Giffard (1902 – 1997) ontmoet en op haar verlief geraak. Net voor die Tweede Wêreldoorlog, in 1938, het hy sy gesin na Suid-Afrika terug gestuur en in Mei 1940 het hy by die Britse Weermag aangesluit.

Laurens het op 20 April 1942 ’n krygsgevangene in ’n Japannese kamp geword. Ná die oorlog het hy vir twee jaar in Java agtergebly om as middelaar tussen die Indonesiese nasionaliste en die Hollandse koloniale regering op te tree. Hy het later militêre attaché by die Britse konsulaat in Batavia geword, het in 1947 uit die weermag uitgetree en is tot ridder geslaan.


Outeursfoto in ‘Venture to the interior’, 1952

In Mei 1949 het Laurens die eerste van vele kommissies en toere deur Afrika begin. Rondom dié tyd het hy en Marjorie geskei en hy is op 13 Oktober 1949 met Ingaret Giffard getroud. Hulle is met wittebrood Switserland toe, waar Ingaret hom aan Jung voorgestel het.

In 1950 is Laurens vir die eerste keer Betsjoeanaland toe gestuur. Vele besoeke het oor die jare gevolg en Laurens het die Boesmans in sy boeke en televisieprogramme wêreldwyd bekendgemaak. Danksy dié werk is die Sentrale Kalahari Wildtuin in 1961 geskep om die Boesmans se bestaanswyse te help bewaar.


‘First Catch Your Eland’
Bron: booksforcooks.com

Laurens is op 15 Desember 1996, twee dae ná hy 90 jaar oud geword het, oorlede.

Sy boek, ‘First catch your eland’, is nie ’n kookboek nie, maar eerder ’n boek van herinneringe oor maaltye, kos en gasvryheid wat hy in dekades se toere deur Afrika beleef het. Van die teks in dié boek is soortgelyk aan sy boek, ‘African Cooking’, ’n groot koffietafelboek met teks en foto’s met ’n klein resepteboekie by. Hierin verskyn ’n resep vir Mtori, ’n bief en meelpiesang (‘plantain’) dis uit Oos-Afrika.


Laurens van der Post
Bron: elmundo.es

Mtori
(Lewer vier tot ses porsies)

Bestanddele: 3 pond bief kortrib in 3-duim stukkies gesny / 1/4 gallon water (0.95 liter) / 2 teelelpels sout / 3 medium-grootte ryp meelpiesangs, afgeskil en in ronde stukkies van omtrent ’n kwartduim dik gesny / 3 medium-grootte aartappels, geskil en in kwarte gesny in ’n bak koue water om verkleuring te verhoed / 2 medium-grootte uie, afgeskil en grof gekap / 1 eetlepel botter.

Metode: Sit die kortrib, water en sout in ’n groot swaar kastrol en laat dit vinnig kook terwyl jy die skuim wat boontoe kook, afskep. Stel die hitte laer en prut, gedeeltelik bedek, vir ’n uur en ’n half.


Laurens met die maak van die 1956 BBC-reeks, ‘The Lost World of the Kalahari’
Bron: Jonathan Stedall

Voeg die meelpiesangs, gedreineerde aartappels en uie by en laat vir nog 30 minute prut of tot die vleis sag is en die aartappels maklik met ’n vurk fyngedruk kan word.

Haal die kortrib met ’n tang uit en sit op ’n bord. Verwyder die bene, sny die vet en kraakbeen af en gooi dit weg. Sny die vleis in half-duim grootte stukkies.


Die Laurens van der Post Gedenksentrum op Philippolis
Bron: Wikipedia

Maak die vleis in ’n voedselmeul, wat jy oor ’n bakkie plaas, fyn en sit terug in die pot. Meng die botter in en prut vir ’n paar minute. Hierdie word ’n sop genoem, maar is eintlik ’n dik bredie wat in Oos-Afrika as ’n hoofgereg bedien word.

 

© 2024 Die/The Bronberger