’’Vergeet my nie,’’ sê Die Swaeltjies oor resepte van weleer Print E-mail
News - Mymerkos
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

“Graag wil ek my hartsprojek met julle deel. Ons is deesdae so in ’n stryd om te oorleef gewikkel, dat baie kosbare skatte verlore gaan sonder dat ons dit besef.”

So sê Trienie Botes, voorsitter van Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan se senior burger-groep, Die Swaeltjies. Sy sê sy het tot die besef gekom dat die ouer generasie met al hulle kennis graf toe gaan en dat daar geen platform is wat hierdie kennis van geslag tot geslag kan oordra nie.


Annette Erasmus by haar perskeslaai

“Die behoefte het by my ontstaan om dié kennis vas te vang en vir my kinders na te laat. Daarom het ek ’n resepteboek saamgestel met bydrae uit ons senior burger-geledere,” sê Trienie.

“Die doel is tweeledig, naamlik om ons kultuurerfenis te bewaar vir ons nasate asook om Die Swaeltjies se fondse te versterk, wat verskeie gate kan toestop. Dit was maande se harde werk en oorlaaide emosie toe ek met die eerste eksemplaar in my hande staan. Met groot dankbaarheid kan ek sê dat die boek, ‘Vergeet-my-nie Resepteboek’, nou beskikbaar is.”


‘Vergeet-my-nie Resepteboek’

Annette
Een van die resepte in dié boek is deur Annette Erasmus, wat vertel dat sy en haar man, Albertus, albei op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword het. Na hulle troue, het Annette en Albertus vir 48 jaar in die Vrystaat geboer: Eers ’n saaiboerdery en toe het Albertus na ’n Ngunibeesstoet oorgeskakel.

“Ons was baie lief daarvoor gewees om vriende te onthaal. Selfs onverwagte gaste is net vir ’n ligte, vinnige ete genooi. Ek was altyd op soek na vinnige disse se resepte; iets wat ek saam met ’n vleisdis kon voorsit.”

“Op ’n Vrystaatse plaas was vars produkte nie altyd beskikbaar nie, dus moes ek dikwels van gevriesde of gepreserveerde produkte gebruik maak. Op ’n dag het ek in ’n ou tydskrif op die kerrie perskeslaai-resep afgekom. Wat ’n uitkoms was dit nie gewees nie . . . ’n Blik op die rak en dan van blik tot bottel!”


Trienie Botes

“Dié slaai was by al ons vriende ’n treffer gewees. Ek wou dit nog vinniger maak en het die perskesnippers vir slegs een minuut in die kerriesous gekook en het dit in ’n gesteriliseerde bottel gepreserveer. Dit was ’n wenner,” sê Annette.

Sy vertel dat die slaai heerlik is saam met kouevleis, braaivleis en ’n smul kombinasie met boerewors en haar spesiale pap, waarvan die resep ook in Die Swaeltjie se resepteboek verskyn.


Die Swaeltjies van die Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan
Foto’s: Verskaf

Perskeslaai
(Lewer ses tot agt porsies)

Bestanddele
1 groot uit, gekap / 20 g (25 ml) botter of margarien / 125 ml wit asyn / 25 ml witsuiker / 25 ml mielieblom / 5 ml kerriepoeier / 5 ml borrie / 1 blik (825 g) perskeskywe.

Metode
Braai die ui in die botter / margarien tot sag. Meng die asyn, suiker, mielieblom, kerriepoeier en borrie deeglik. Meng hierdie mengsel nou met die stroop van die perskeskywe en gooi dit oor die uie.

Kook dit tot dik. Proe of die sous soet, suur of sout genoeg smaak en voeg nog suiker, asyn of sout by na gelang van wat kort. Laat die sous afkoel.

Sny die perskeskywe in kleiner repies en plaas dit in ’n slaaibak. Gooi die kerriesous oor en meng dit liggies.

 

© 2024 Die/The Bronberger