Niemand wou ’Kook en Geniet’ uitgee nie en toe doen Ina dit self Print E-mail
News - Mymerkos
Saturday, 23 March 2024 08:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

Suid-Afrika noem haar tannie-kook-en-geniet – die vrou wat die land se ‘kookbybel’ geskryf het en toe geen uitgewer ’n kans op dié boek wou waag nie, het sy dit self gepubliseer. Teen die tyd van haar dood, is meer as ’n miljoen boeke in Afrikaans en Engels verkoop en was die boek nooit uit druk nie.

Stoffelina Johanna Adriana (Ina) van Schalkwyk is op 24 Februarie 1919 as die middelste van drie dogters op Boshof, Oranje-Vrystaat gebore. Haar ouer suster (Louisa Talia van der Spuy) is Talia genoem en die jonger suster was Elsa (Hester Eliza Fourie). Hulle ouers was Johannes Zacharias (Jan) van Schalkwyk en Eunice Mehetabeel, ’n nooi Ferreira.


Stoffelina Johanna Adriana (Ina) de Villiers
Foto: geni.com

Vernoem
Jan wou so graag ’n seun hê, dat hy Ina na haar oupa, Stoffel Johannes Adriaan, vernoem het. Haar ma, Eunice, was ’n huisvrou wat aan verskeie verenigings behoort het en haar pa, Jan, was ’n onderwyser wat later skoolinspekteur geword het.

Ina was ongeveer 12 jaar oud toe haar voet byna in ’n treinongeluk op pad na Suidwes vergruis is. Haar deursettingsvermoë het duidelik na vore gekom en sy het hard gewerk om, teen alle verwagtinge in, die gebruik van haar voet terug te kry.

Ina se ma is oorlede toe sy 20 jaar oud was. Haar pa wou graag hê dat Ina ’n dokter moes word, maar sy het net ná die begin van haar tweede jaar aan die Universiteit van Pretoria besluit om medies te los en haar hart te volg. In 1941 het sy ’n B.Sc. Huishoudkunde graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.


Die omslag van die 28ste druk
Bron: bobshop.co.za

Beampte
Ná universiteit het Ina vir ’n jaar lank by die Oranje Meisieskool in Bloemfontein skoolgehou en toe as uitbreidingsbeampte van die departement van landbou begin werk. Deel van haar pligte was om spin-en-weef kursusse, grootliks op die platteland, aan te bied.

Terwyl sy vir dié kursusse gereis het, het Ina ’n kosgids, ‘Kos en Kookkuns’, uitgedeel wat deur die landboudepartement se huishoudkundiges opgestel is, deur die staatsdrukker gedruk is en deur die regering versprei is.

Ina het gesien dat dié gids nie kon help met die gebrekkige kookvaardighede waarmee menige nuut getroude vroue gesit het nie. Sy wou self ’n boek saamstel met baie meer resepte, wat volgens spyskaarte georden moet word.


“Persmenings oor Kook en Geniet” in die 28ste druk
Bron: bobshop.co.za

Trou
Ina het haar aanstaande, dr Jacob Eliza (Japie) de Villiers van die Geologiese Opnamekantoor in Pretoria, op die tennisbaan ontmoet. Hulle is getroud en het in Maraisstraat, Brooklyn gewoon.

Ná hulle ’n baba verloor het, het Ina weer aan haar eie kookboek begin dink. Sy moes eers leer tik en ná al haar harde werk moes sy uitvind dat uitgewers nie in haar boek belangstel nie. Net daar en dan het Ina besluit om alle uitgewertake op haar self te neem. Dr Mattie Jooste, hoogleraar in huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, was haar raadgewer. En waar het die geld vandaan gekom om die boek te laat druk? Japie het sy goudaandele verkoop en ‘Kook en Geniet’ is in April 1951 uitgegee. Ina was die skrywer, uitgewer, verspreider en bemarker van haar eie boek.


Ina en haar dogter, Eunice van der Berg, op die agterblad van ‘Klein Kook en Geniet’
Bron: bidorbuy.co.za

Vertaal
Sy het haar boek begin vertaal en in 1961 is ‘Cook and Enjoy It’ uitgegee. Die onderwysdepartement het die boek vir kookkuns voorgeskryf. In 1961 het CNA die uitgewer van ‘Kook en Geniet’ geword en vanaf 1972 is die boek deur Human & Rosseau uitgegee. Human & Rosseau het in 1990 die regte verkry om die Afrikaanse weergawe te herproduseer en te bemark. Die resultaat was ’n volledig hersiene uitgawe van die Afrikaanse en Engelse weergawes in 1992.

Die nuwe uitgawe het die karakter van die oorspronklike boek se meer as 700 resepte en die basiese beginsels van kook behou, maar baie resepte is vir die gebruik van moderne kombuistoerusting aangepas.


Die omslag van die 30ste herdruk in 1973
Bron: bobshop.co.za

Dogter
Met die hulp van Ina se dogter, Eunice van der Berg, ’n opgeleide huishoudkundige, het Human & Rousseau in November 2009 ’n opgedateerde weergawe van die boek uitgegee.

Ina en Eunice het saam ook die ‘Klein Kook en Geniet’ – vir beginners van alle ouderdomme – geskryf.

Die ATKV het in Mei 2010 die Afrikroon-prys aan Ina toegeken. Sy is op 20 September 2010 in die ouderdom van 91 jaar in die versorgingseenheid van Azaleahof op Stellenbosch oorlede. Haar man, Japie, is reeds in 1990 oorlede en sy is oorleef deur haar twee dogters, Eunice en Heleen, en ses kleinkinders.

Ons gee graag die resep vir Ina se dadelvlatert uit haar elfde hersiene druk in 1961.


Binne-in die 30ste herdruk in 1973 sê dit “Uitgegee deur die skryfster”
Bron: bobshop.co.za

Brostertdeeg
Bestanddele:
1 k meelblom / 1/2 k botter of margarien / 1 t bakpoeier / 1 eier / ’n knippie sout / 2 tot 4 e yskoue water.

Metode: Sif die meelblom, die bakpoeier en die sout twee keer saam. Werk die botter of kunsbotter met die punte van die vingers of met twee messe daarin tot dit heeltemal gemeng is en soos growwe mieliemeel lyk.

Klits die eiers, voeg 2 e water by en sny dit met ’n mes in die meelmengsel tot dit net gemeng is, sonder om dit onnodig te knie. Voeg meer water by indien nodig.

Druk die mengsel vas op die boom en aan die kante van ’n gesmeerde tertbord sodat dit dun is op die boom en ’n dikker rand rondom het. Skulp die rand rondom deur dit met die duim en voorvinger te knyp.


Dadelvlatert
Foto: Kook en Geniet, 1961

Dadelvlatert
Bestanddele:
1 k melk / ’n knippie sout / 1/2 pd dadels / 1/4 t gerasperde neut / 2 eiers / brostertdeeg.

Metode: Kook die dadels, die sout en die neut omtrent 10 minute lank in die melk tot dit sag is.

Vryf dit met ’n houtlepel deur ’n draadsif. Klits die eiers goed en roer dit by.

Voer ’n tertbord met brostertdeeg uit wat dun uitgerol is. Gooi die dadelmengsel daarin.

Bak dit 35 tot 40 minute lank in ’n warm oond (400°F). Verminder die hitte na die eerste 15 minute.

 

© 2024 Die/The Bronberger