Mevrou Tulleken wou tuisgekookte konfyt laat uitvoer Print E-mail
News - Mymerkos
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

’n Mens wil dink dat blommetjies in slaai iets betreklik nuwerwets is. Tog was die gebruik van gesiggies en viooltjies in ’n gemengde slaai in 1937 nog deel van mevrou S Van H Tulleken se ‘Die Praktiese Kookboek vir Suid-Afrika’. 

Tot met die 1937-uitgawe was dit die gebruik onder Afrikaners om soet groente laaste te bedien. Soet groentedisse van pampoen, patats en aartappels val in die afdeling wat ‘dessert’ gemerk is, maar resepte vir gestoofde pere en perskes verskyn nog saam met die groenteresepte.


Mevrou Tulleken
Foto: bobshop.co.za

‘Die Praktiese Kookboek vir Suid-Afrika’, met ’n voorwoord deur Ouma Isie Smuts, gedateer Desember 1922, het in totaal nege uitgawes beleef. Die skrywer se woord is as wet aanvaar, want sy was lektrise, demonstratrise en beoordelares by menige landbouskoue en enige een wat al ooit só ’n skou besoek het, weet presies hoe kompeterend dit daar is. Sy het self jaar na jaar talle pryse vir konfyt, koeke, terte en konserf gewen. 

Susanna Johanna Elizabeth van Hoogenhouck Tulleken is op 12 Januarie 1872 by Bottelary gebore, die dogter van Jacob Izak Bosman en Anna Tobia Margaretha, ’n nooi Neethling. Sy is in Februarie 1872 op Stellenbosch gedoop. 


Makataan–jellie
Foto: Ben Rautenbach

Susanna is met Pieter Cornelis Grey, gebore 20 April 1874, getroud en hulle het een seun gehad, Jan Jacob Grey. Pieter is op 30 Desember 1905 in die ouderdom van 31 jaar oorlede.

Daarna is sy met Philip Lodewijk van Hoogenhouck Tulleken getroud en hulle het twee seuns gehad, Jan Gerhard en Philip Jean. Haar man Philip is op 13 Oktober 1954 in die ouderdom van 85 jaar oorlede (hy het haar met nege jaar oorleef).

Susanna het as die koskenner, mevrou Tulleken, in ‘Die Boerevrou’ bekendgestaan. Uit Jeanette van Rensburg se proefskrif, ‘Die Boerevrou 1919 – 1931: ’n Kultuurhistoriese studie oor die eerste Afrikaanse vrouetydskrif,’ blyk dit dat die naam ‘mevrou Tulleken’ vir lesers van die tydskrif sinoniem met kos en huishoudelike raad was.


Die Praktiese Kookboek vir Suid-Afrika
Foto: clasf.co.za

Jeanette skryf dat talle resepte van mevrou Tulleken deur die jare in die tydskrif verskyn het. Sy het ook artikels geskryf en daar was selfs een maal wenke vir die toilet, met raad vir mooi hande en resepte vir gesigroom.

In Desember 1924 het sy ook ’n brief aan die tydskrif gerig, waarop talle lesers volgens Jeanette reageer het. Sy was van mening dat die maak van seep, in plaas daarvan om dit in te voer, ’n inkomste vir armblankes kon verseker. Sy het voorgestel dat groepe vrouens saamwerk, seep kook en winkeleienaars nader om dit te verkoop. Sy het egter gemaan dat net die beste seep die mark sal bereik en dat daar ’n goeie naam vir die boervrou se seep opgebou moet word.

Jeanette skryf dat mevrou Tulleken dikwels in die ruilrubriek vir lesers gevra het om haar kookboek teen kommissie te help verkoop. Met die verskyning van die sesde uitgawe het sy een van die boeke aan ‘Die Boerevrou’ geskenk en die redaksie het dit aan die eerste leser wat vier nuwe opbetaalde intekenaars werf, beloof.

Later het mevrou Tulleken ook die uitvoer van tuisgekookte Suid-Afrikaanse konfyt in dié tydskrif bepleit. Sy is op 8 Mei 1945 in die ouderdom van 73 op Standerton oorlede.

Gegewe haar passie vir konfyt, is dit net reg om die resep vir haar makataan-jellie te deel. Ons deel ook haar maklike mieliepap-resep, haar roomslaaisous- en slaairesep.


Die boek se 1980 uitgawe met 384 bladsye
Foto: bobshop.co.za

Makataan-jellie 
Sny die vleis van die makataan op en ontpit dit. Bedek die vleis met water en kook tot pulp.

Voeg net genoeg suurlemoensap by die pulp om dit smaaklik te maak. Syg die pulp deur en weeg die hoeveelheid filtraat af. Gebruik 1 kg per 1 kg filtraat.

Verhit die suiker in die oond. Verhit terselfdertyd die filtraat tot kookpunt en kook dit ’n kwartier lank.

Voeg die suiker by die filtraat. Roer tot dit opgelos is.

Syg deur en was kastrol. Giet die filtraat in kastrol en kook dit matig vinnig tot ’n klein bietjie van die stroop jel wanneer dit in ’n koue piering verkoel word.

Skuim die jellie af, indien nodig. Bottel en verseel dit warm.


Makataan
Foto: herbgarden.co.za

Roomslaaisous
(Die spelling, soos ‘fijn’, ‘skotel’ en ‘knoflok’, is eg uit die boek se eerste uitgawe.)

1 koppie room / 2 eetlepels asyn / 2 eetlepels suiker / 1/4 teelepel sout. Opsioneel – fijn gekapte ui en pietersielie. Meng alles saam.

Dié sous word net voor opdiening oor die slaai gegooi. Kopslaai: sny baie fijn of trek aan stukkies met die vingers nadat dit gewas is. Om nou die slaai reg te maak, vryf die slaai-skotel met ’n stukkie deurgesnyde knoflok. Leg nou ’n laag in die skotel, sprinkel dit met 1 desertlepel fijngekapte uie en 1/2 fijngekapte groenrissie en dan skyfies radys en skyfies hard gekookte eier, en weer slaai en die ander benodighede.

Plaas die radys in sirkels, met fijn strepies gekapte ui daarom. Plaas bietjie fijngedrukte geel van ’n hardgekookte eier in die middel. Sit ringe gesny van die wit van die eier hier en daar, gooi gekookte stukkies beet in die wit eier ringetjies en plaas ’n rand van gekookte beet buite om, met ’n slaaisnyer gesny.


Vandag ken ons dié mieliepap as krummelpap
Foto: sa-austin.com – John Herber

Mieliepap
Kook 6 koppies water, voeg 1/2  teelepel sout by. Gooi nou 2 koppies meel so droog in die middel van die kokende water. Laat die droë meel so stil lê en kook dit vir ’n uur, roer dan totdat daar nie meer klontjies in is nie. Skuif na agter toe op die stoof en laat so stadigaan gaar word. Roer af en toe, pasop vir brand. Dit sal ’n bietjie droog en krummelrig wees. Roer ’n klont botter in.

 

© 2024 Die/The Bronberger