Een van toeka se bekendste gasvrouens deel haar bobotie-resep Print E-mail
News - Mymerkos
Friday, 26 January 2024 22:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

’n Vrou wat ná ’n liefdesteleurstelling nooit getrou het nie, het een van die Kaap se bekendste gasvrouens geword en het in die 1800’s ’n bobotie-resep gepubliseer wat vandag nog gebruik word.

Hilda Duckitt is op 21 Februarie 1839 op die familieplaas, Groote Post, gebore en is op 28 Augustus daardie jaar in die Groenekloof (later as die Darling-distrik bekend) as Hillegonda Johanna Duckitt gedoop.

Sy was die kleindogter van William Duckitt, ’n landboupionier wat op 11 September 1800 in die Kaapkolonie aangekom het. William se seun Frederick het met Hillegonda Johanna Versfeld van Claasenbosch, Constantia getrou en hulle derde dogter en sesde van 14 kinders is na haar ma vernoem. Later, met die publikasie van haar boeke, het sy die naam ‘Hildagonda’ gebruik.


Hilda in haar laat 30’s
Bron: Carol Hardijzer

Boek
Hilda is deur goewernantes opgevoed en as kind reeds was haar stokperdjie die versameling van tradisionele Kaapse resepte, wat in 1891 in haar eerste boek, ‘Hilda’s “Where is it?”’, gepubliseer is. Die boek bevat praktiese resepte wat deeglik uitgetoets is, maar sluit ook ’n paar obskure disse in, soos wateruintjiebredie en skilpadpastei bedek met perlemoen. Daar word noukeurig aangedui wat die bron van elke resep is.


Hilda toe sy ongeveer 60 jaar oud was
Bron: Carol Hardijzer

Die boek bevat ook riglyne oor hoe om politoer aan meubels te smeer, hoe om sy skoon te maak (Hilda was ’n baie goeie kleremaker) en hoe om tuismedisynes vir allerhande siektes te maak. Verskeie lekkernye vir invalides en siek kinders is ook ingesluit.

In haar inleiding skryf sy dat daar ’n paar skoon bladsye aan die einde van elke letter van die alfabet gelaat is sodat ’n mens jou eie resepte daar kan neerskryf.


Hilda’s “Where is it?”
Bron: Quagga Rare Books & Art

Verloof
Hilda het graag by haar oom, Jacob Cloete, op sy bekende wynplaas, Groot Constantia, oorgebly. By die talle funksies wat daar gehou is, het sy Franse, Britse en selfs Russiese vlootoffisiere ontmoet. Sy het op 21-jarige ouderdom aan luitenant William Brown verloof geraak. Die verlowing het sewe lange jare geduur en Hilda se tasse en trousseau is reeds gepak om in Engeland met hom te gaan trou, toe hy haar hart gebreek het.


’n Latere Maskew Miller-uitgawe van 650 resepte uit ‘Hilda’s “Where is it?”’
Bron: catawiki.com

Hy het glo in kwetsende woorde vir haar gesê dat hy wel met haar sal trou, maar dat hulle kinders weens ’n gebrek aan geld in ellendige omstandighede sal grootword. William het toe met ’n ryk weduwee getrou, wat later in ’n gestig vir sielsiekes opgeneem is. Hilda het nooit hieroor gepraat nie. Eers op haar sterfbed het sy gesê dat William haar lewe verwoes het.

Ná die verlowing verbreek is, is Hilda terug na Groote Post waar sy as ’n bekende gasvrou beskryf is, iemand wat met beroemdes en koninklikes skouers geskuur het en wat die plaas met ’n ysterhand regeer het.


Bobotie
Bron: foodandhome.co.za

Kaap
Sy het meer as die helfte van haar lewe op Groote Post gewoon en het menige feestelikhede, pieknieks, danse en jagtogte gereël. Sy is daar weg toe haar broer, Jacob, getrou het. Hilda het dié huwelik nie goedgekeur nie. Sy en haar jonger sussie, Bessie, het Kaap toe getrek, waar hulle eers by hulle oom Van Reenen gebly het en later hulle eie kothuis, Nemesia, in Wynberg aangeskaf het. Van daar het hulle na St Lucia in Waterloo Green, Wynberg getrek.

Hilda was ’n goeie perderuiter, maar ’n slegte val in haar kinderjare het haar later ’n invalide gemaak. Sy het haar tweede boek, ‘Hilda’s Diary of a Cape Housekeeper’, geskryf terwyl sy grootliks bedlêend was. Die boek is in Oktober 1901 gepubliseer en spog met ’n skets van Groote Post deur Mary Frere aan die binne-voorkant.

Die boek is ’n uitbeelding van die daaglikse lewe op ’n goed georganiseerde plaas en bied resepte wat aandui watter vrugte en groente elke maand in seisoen is, asook notas oor tuinmaak, die versorging van pluimvee, die maak van potpourri en herinneringe oor al die partytjies en byeenkomste op Groote Post.


Hilda as ’n tiener
Bron: geni.com – Duckitt-familie

Hilda is op 5 Januarie 1905 in haar huis in Wynberg oorlede. Ons deel haar bekende bobotie-resep:

Bobotie
Bestanddele: ’n Groot sny witbrood; 100 ml melk; 15 g botter, 2 uie; 30 ml kerriepoeier; 15 ml bruinsuiker, 10 ml sout; die sap van een lemoen; wit asyn; 6 tot 8 gekapte amandels; 1 kg maalvleis (bees); 2 eiers; 250 ml melk; ’n handvol vars lourierblare; gestoomde wit rys.

Metode: Voorverhit die oond tot 180°C. Week die brood in 100 ml melk en druk uit tot gedreineer. Smelt die botter in ’n pan oor medium hitte en sauté die uie tot deurskynend.

Meng die kerriepoeier, suiker, sout, lemoensap, asyn en amandels met die gebraaide uie. Voeg die maalvleis by en meng met die brood. Voeg een eier by die maalvleismengsel en meng deeglik.


‘Hilda’s Diary of a Cape Housekeeper’ met die skets van Groote Post
Bron: bobshop.co.za

Klits die ander eier met 250 ml melk. Sit die maalvleis in ’n gesmeerde bak of ses klein koppies. Gooi die eier en melkmengsel bo-oor en druk die lourierblare in die maalvleis of sit een op elke koppie. Bak tot goudbruin, een uur.

Bedien warm bo-oor die gestoomde rys.

 

© 2024 Die/The Bronberger