Barbara se skaapboud vir Kersfees Print E-mail
News - Mymerkos
Wednesday, 20 December 2023 08:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. In die gees van Kersfees, gee Esperance Grobler van Wapadrand vir ons die resep van haar ma, Barbara Schoonees, se skaapboud en vertel ook hoe haar ma kinderpartytjies iets so besonders gemaak het dat elkeen van haar ses kinders hulle s’n vandag nog onthou.

Esperance Grobler

Ek en my sussies is besig om ’n boek oor my ma, Barbara Magdalena Schoonees, ’n nooi Kelber, se lewe saam te stel ná sy op 1 Mei 2022 in die ouderdom van amper 79 jaar aan kanker oorlede is.

My ma het ses kinders gehad en grootgemaak en was ook ’n bedrywige predikantsvrou en remediëring-onderwyseres by die Martie Du Plessis Skool vir gestremde kinders in Bloemfontein. Sy was dus altyd besig en het daarvan gehou om vinnige, maklike disse te maak.


Barbara Magdalena Schoonees, ’n nooi Kelber
Foto: Verskaf

Haar gunsteling resep was:
Dadelbolletjies
Bestanddele:
1½ gekerfde dadels / 1 koppie suiker / 2 dessert-eetlepels vanielje / 2 geklitste eiers / ’n knippie
sout / 3 koppies rysvlokkies (Rice Crispies) / klapper.
Metode:
Kook alles, behalwe klapper en rysvlokkies saam vir 10 minute. Roer gedurig tot dik. Laat afkoel en voeg vlokkies by. Vorm klein balletjies en rol in klapper.

Ek onthou baie goed hoe ek en my sussies my ma hiermee gehelp het. Sy het altyd vir elkeen van ons ses kinders jaarliks met elkeen se verjaarsdag ’n kinderpartytjie gereël en al die eetgoed self gemaak.
Nog ’n liplekker gereg wat sy altyd gemaak het (en waarvan ons altyd klein blokkies uit die yskas gegaps het voor die geleentheid – ons kon net nie help nie) is:


Hier is ’n foto van hoe een van ons tipiese Kersfeeste in die 1970’s sou lyk. Voor van links na regs: Fanie Schoonees; Barbara Schoonees; Babrie Muir; Marieke Botha; Esperance Grobler; Nina Snyman; en Salome Neethling. Middel van links na regs: Mariaan (Nanna) Viljoen; Abrie Neethling; ouma Miemie Schoonees. Agter van links na regs: Stephan Neethling; oupa Staffie Schoonees;
en Thys Neethling
Foto: Verskaf

Marshmallow tert
Bestanddele:
2 pakke Cream Crackers / 2 blikkies kondensmelk / 6 eetlepels gesmelte botter / 1½ koppie versiersuiker / 2 teelepels vanielje / 1 pak marshmallows.
Metode:
Maak die Cream Crackers fyn. Voeg versiersuiker by. Sny die marshmallows fyn. Voeg botter en vanielje by die kondensmelk. Meng met Cream Crackers en versiersuiker. Sit in ’n gesmeerde vierkantige bak ’n laag van die mengsel, en dan ’n laag marshmallows om die beurt. Laat in die yskas vir ’n paar uur, en sny in blokkies. (Teen dié tyd het ons al ’n stuk skelm gegaps en opgeëet!)

My ma het altyd vir ons die keuse van ’n soort koek gegee en sy het dit dan keurig gemaak. Ek het byvoorbeeld op 10 jaar oud ’n klavierkoek gekry!


Die klavierkoek wat Esperance vir haar tiende verjaardag gekry het
Foto: Verskaf

Kersfees
Ons het altyd ’n yslike groot familie Kersfees gehad met niggies en nefies, tannies en ooms, oupas en oumas.

’n Tipiese Kersete sou bestaan uit koue vleis (skaapboud en hoender) en dan allerhande slaaie, soos aartappelslaai, wortelslaai, gemengde groenslaai, noedelslaai, en drie-bone slaai.
Die metode wat my ma gebruik het vir die skaapboud was baie eenvoudig:


’n Skaapboud ter illustrasie
Foto: watertandresepteviroudenjonk.com

Skaapboud
Vryf lekker sout en peper in jou skaapboud in. Druk gaatjies oral in die boud en steek vol knoffelhuisies en repies spek, so diep as wat jy wil.

Plaas in ’n lekker diep oondpan met ’n deksel. Gooi so twee koppies water, 1/4 koppie asyn en ’n klein bietjie olie by. Plaas so drie gesnyde heel uie rondom die boud asook wortels, seldery en aartappels.
Plaas in oond: 100 grade Celsius oornag.


Esperance Grobler en haar ma, Barbara Schoonees
Foto: Verskaf

Sousie
Verdik jou sous met ’n verdikmiddel soos ‘Bisto’ en jy kan ook ’n bietjie room byvoeg.

Ek het hierdie resep presies soos my ma verduidelik het, neergeskryf. Dis tipies hoe hulle daardie tyd gepraat het – nie in sulke formele terme soos vandag nie.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger