Lientjie onthou haar ma se knoffel-en-bierbredie Print E-mail
News - Mymerkos
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Bekende kunskok, Lientjie Wessels van Cullinan, gee vir ons die resep van haar ma, Louie Wessels, se knoffel-en-bierbredie en vertel ’n bietjie meer oor haar ma.

Lientjie Wessels

My ma. Louie Wessels. Ek dink so baie aan haar en mis haar en ons geselsies, veral oor kos, en om vir ure met kookboeke en kostydskrifte op die stoep te sit by die plaas. Ek mis dit om haar gou te kan vra wat sy dink van ’n spyskaart en wat sy sou doen, veral met die hoofmaal en vleisdisse, want sy was meesterlik met vleis.


Lientjie se ma, Louie, toe sy so 35 jaar oud was

My ma het in Florida, Johannesburg grootgeword en by Oranje Meisieskool in Bloemfontein gematrikuleer. Sy het daarna drama by die Universiteit van Pretoria geswot in die goue jare van Tuks Drama en Teater in Suid-Afrika.


Lientjie Wessels

My ma is van ’n jong ouderdom deur my oupa, ’n argitek en kosliefhebber, aan geure en smake van die kosmopolitaanse Johannesburg blootgestel. Dié kennis van kos en wonderlike geure en ’n liefde vir die eksotiese, is waaraan sy ons kinders van kleintyd af blootgestel het en sodoende by my ’n onblusbare honger vir kos en koskennis gekweek het.


Louie Wessels het in ’n film gespeel toe sy by Tuks drama studeer het

Ek dink en glo dit maak haar, waar sy haar nou ook al bevind, baie gelukkig om te sien dat ek gereeld oor kos skryf en ek weet die boek ‘Geure’, wat ek saam met my oorlede man, Robert Denton, geskryf het, sou haar onsettend trots gemaak het.

Ek is spyt sy kon nooit ’n boek skryf nie, want haar kennis was, soos sy, formidabel in alle opsigte. Die meeste wat ek kan doen is, waar ek wel kan, haar resepte soos wat sy dit neergeskryf het te deel of soos hierdie een van haar knoffel-en-bierbredie so na as moontlik te maak aan hoe ek onthou.


Louie, regs, en haar beste vriendinne, Francine Futter en Vivienne Wepener

Hierdie bredie het sy altyd vir my gemaak as ek gevra het en vir naweke op die plaas gaan kuier het by haar en die ander Louis. Dit is baie naby aan hare en wanneer ek dit maak en eet maak dit die verlange ’n bietjie minder. Dis vir my die verpersoonliking van trooskos.

Hoe gelukkig was ek om ’n ma te hê wat vir my gedemonstreer het hoe jy vir ander kan wys jy gee om met kos en kook.

Ma Louie se knoffel-en-bierbredie
Lewer vier porsies.

Bestanddele
800 g stowebeesvleis, ontbeen en in 3 cm-blokkies gesny; 20 knoffelhuisies (½ – 1/3 knoffelhuisie per blokkie vleis); 125 g meel. 60 ml (4 e) olyfolie; 3 uie, gekap; 90 g seldery, fyngesny; 140 g wortels, fyngesny; 5 ml droë tiemie; 50 ml Franse mosterd; 500 ml (2 k) Belgiese bier.

Ertjiepiekel
200 g vars of bevrore ertjies; 6 aspersies; 4 radyse, in blokkies gesny; 70 ml (14 t) ryswynasyn; 50 g suiker; sout en peper.


Die knoffel-en-bierbredie wat Lientjie se ma, Louie, altyd vir haar gemaak het

Om die knoffel-en-bierbredie te maak
Stop elke blokkie vleis met knoffel deur ’n snytjie in die middel van elke blokkie te maak en knoffel in die snytjie in te druk. Rol die vleisblokkies in die meel, skud die oortollige meel af en braai in ’n pan in die olyfolie tot bruin. Skep die vleisblokkies uit die pan en plaas eenkant.

Braai die groente saam met die tiemie en mosterd tot sag. Plaas die vleisblokkies terug in die pan. Giet die bier by en kook oor matige hitte tot sag.


Lientjie se kookboek, ‘Geure’
Foto’s: Verskaf

Om die ertjiepiekel te maak
Plaas al die groente in ’n metaalbak. Kook die ryswynasyn en suiker saam met die sout en peper tot die suiker opgelos is. Laat afkoel. Giet oor die groente en laat staan vir 15 minute.

Om voor te sit
Sit voor op fyngemaakte aartappels waarby roomkaas gevoeg is, piekels of zhoug.

 

© 2024 Die/The Bronberger