Outydse broodpoeding deur ’Oktobermaand’ se digter Print E-mail
News - Mymerkos
Friday, 20 October 2023 08:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

“Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!” Die gedig ‘Oktobermaand’ is waaraan die meeste mense dink as hulle die naam C Louis Leipoldt hoor. Tog was hy ook ’n opgeleide sjef en van die diep spore wat dié eiesoortige man getrap het, sluit ’n kosnalatenskap in met disse wat die oë vandag sal laat rek.

Hy het resepte verskaf vir disse soos duiwekerrie, korhaanbredie, gevulde flaminkbors, gebraaide likkewaan, gestoofde veldskilpad en pikkewyneierstruif. Hy het vir die aardigheid ook geskryf oor die bereiding van kwaggavleis en sy pogings om krokodiltong gaar te maak.


‘Kos vir die kenner’
Bron: abebooks.co.uk


‘Polfyntjies vir die proe’
Foto: kakkerlak.co.za

Dr Christian Frederik Louis Leipoldt was ’n mediese dokter, botanis, joernalis, skrywer, dramaturg, Hertzogpryswenner-digter, reisiger na eksotiese bestemmings en koskenner wat selfs op kere gehelp het om vir onthale in Buckingham-paleis te kook.

Christie, soos hy as kind bekend gestaan het, is op 28 Desember 1880 as die kind van dominee Christian Friedrich Leipoldt en Anna Meta Christina, ’n nooi Esselen, gebore. Sy ma en pa het albei uit sendelingfamilies gekom. Sy oupa, Johann Gottlieb Leipoldt, was in 1818 een van die grondleggers van die Rynse Sending in Suid-Afrika.


C Louis Leipoldt in 1910
Foto: hekint.org

Die jong Christie het as pastoriekind op Clanwilliam grootgeword en het tuisonderrig ontvang. Hulle huishulp het hom toegelaat om hand by te sit in die kombuis en daar het hy geleer van swaeltjie-stowe en pienangvleis, ’n Maleise fynvleis kerriegereg.

Hy was maar 16 jaar oud toe hy gereeld berigte vir koerante begin skryf het. Christie was vir ’n ruk aan die University of the Cape of Good Hope voor hy as verslaggewer vir plaaslike koerante en korrespondent vir Europese koerante gewerk het.

In 1902 vertrek hy na Londen om as dokter te studeer terwyl hy as joernalis werk en ook in die Carlton-hotel onder befaamde sjef, Auguste Escoffier, wat gereeld by die paleis gaan kook het en vir Christie saamgeneem het. Onder sy leiding het Christie ’n diploma in internasionale kookkuns voltooi.


‘300 years of Cape wine’
Foto: Chapter 1 Books

Hy het sy mediese studies in 1907 voltooi en deur die wêreld begin reis, eksotiese kookboeke versamel en ’n Fransman, André Louis Simon, wat meer as 150 boeke oor kos en wyn geskryf het, ontmoet. Dié vriendskap het uiteindelik na Christie se eie kookboeke gelei.

In 1914 keer hy na Suid-Afrika terug om as mediese skoolinspekteur en later as kinderspesialis te werk. Christie het nooit ophou skryf nie en het terselfdertyd as joernalis, rubriekskrywer (mediese en kosrubrieke), redakteur, digter en dramaturg gewerk.

Hy was glo ’n eksentrieke dokter wat graag onortodokse uitsprake gemaak het. Hy het onder andere gesê dat wyn gesonder is as melk vir kinders, dat pampoenpitte teen wurms help, dat donkiemelk die beste plaasvervanger vir moedersmelk is en dat alle pasgebore babas kan swem.


C Louis Leipoldt in die kombuis
Foto: foodroutes.co.za

Sy resepteboek, ‘Kos vir die kenner’, is in 1933 deur Tafelberg uitgegee en daarna weer in 1978. In 2011 verskyn die derde uitgawe by Human & Rousseau met meer as 2 000 van sy klassieke resepte.

C Louis Leipoldt is op 12 April 1947 in ’n Kaapstadse verpleeginrigting aan ’n hartaanval oorlede. Hy was nooit getroud nie. ‘Polfyntjies vir die proe’ is ná sy dood gepubliseer – ’n samestelling van sy ‘Huisgenoot’-rubrieke, genaamd ‘Kelder en kombuis’, wat hy onder die skuilnaam KAR Bonaat geskryf het. Dié is nie sodanig ’n resepteboek nie, maar meer ’n spitsvondige bespreking oor die herkoms van Kaapse kossoorte.


’n Broodpoeding ter illustrasie
Foto: In en om die huis blogspot

Ons kies sy resep vir ‘Outydse broodpoeding’ om met lesers te deel:

Outydse broodpoeding
Pak ’n pond (500 g) brood, in driehoeke gesny, in ’n bak, met die punte na bo. Gooi baie korente oor.

Kook 3 koppies volroom melk met 150 g botter in ’n pot, 100 g suiker en ’n knippie sout. Gooi oor die brood en gooi toe met ’n doek. Laat staan vir 1 uur.

Roer dan in vier goed geklitste eiers, ’n grepie neut en gerasperde skil van ’n suurlemoen. Gooi oor die brood. Bak by 180 grade C vir 30 minute.

 

© 2024 Die/The Bronberger