Winteruitgawe is 200ste Bronnie Print
News - Kommentaar
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Die volgende uitgawe van Die Bronberger, in Junie, sal presies die 200ste Bronnie wees wat die lig sien. Dit verteenwoordig ‘n uitsonderlike (en hoendertandskaarse) mylpaal in die lewensloop van ‘n onafhanklike publikasie. ‘n Mylpaal wat ons met nederige dankbaarheid omvou.

Van daardie heel eerste Bronnie in 2002 af was dit duidelik dat die mense van die gebied honger vir hulle eie publikasie was. Ons het ons welkom gevoel en was opgewonde en geesdriftig optimisties oor ‘n droom wat waarheid sou word.

Sedertdien was ons oor ‘n hele 200 maande en uitgawes heen, deurgaans geseënd met die oorweldigende meelewing en ondersteuning van ons lesers. Die feit dat elke liewe Bronnie deeglik gelees en verwelkom word in duisende huishoudings van ons gebied, het ‘n direkte invloed op die baie gewaardeerde ondersteuning wat van ons adverteerders ervaar word. Want dit het gou geblyk dat ook elke advertensie raakgesien en met aandag gelees word. En dit het veral duidelik geword dat die Bronnie se getroue lesersvriende die adverteerders in hulle eie gemeenskapspublikasie met oorgawe ondersteun.

Vir ons wonderlike lesers en adverteerders wil ons 200 maal 200 keer dankie sê. Advertensies is die lewensbloed wat hierdie gratis glansblad nou al vir 199 uitgawes laat gedy.

In die verlede is die Bronnie se winteruitgawe in Junie baie goed ontvang en buitengewoon goed deur ons adverteerders ondersteun. Met volgende maand se 200ste Bronnie beoog ons weer ‘n baie spesiale winteruitgawe. En ons sien weer met afwagting uit na die wonderlike meelewing en ondersteuning wat telkens met opregte dankbaarheid ervaar word.

Adverteerders kan in dié winteruitgawe warm winskopies en uitnemende dienste vir die koue maande wat volg, uitlig en dit onder die blywende aandag van die Bronnie se derduisende lesers bring. Dit is ‘n bewese feit dat elke uitgawe van Die Bronberger in ons lesers se huise verwelkom word en oor baie maande heen gehou word om telkens weer-en-weer geraadpleeg te word.

Adverteerders en ook lesers wat dalk hulle Bronnie in ‘n bepaalde maand misgeloop het, kan nou besliste baat vind by die nuwe “Blaai deur die Bronnie” wat op ons webblad geplaas word. Hier kan die Bronnie blad-vir-blad deurgelees word, net soos sy gedrukte ouboet. Elke advertensie kry dus, teen geen ekstra koste nie, dubbeldoor blootstelling. Die trefteller wys dat goed oor die duisend mense daagliks die webblad besoek.

Ons sien daarna uit om jou advertensie en lesersbrief of bydrae in volgende maand se 200ste Bronnie te verwelkom.