Klein boompie dra swaar aan stink name Print
News - Ons Omgewing
Friday, 04 December 2020 15:58
Untitled Document

Daar is ’n boom in ons kontrei wat swaar dra aan ’n hele paar aardige volksname – die soort woorde wat kinders geleer is om nie sommer hardop voor Oom-dominee te sê nie.

Dié boompie, wat mense maklik in Moreletakloof Natuurreservaat te siene kan kry, se name strek van hondepis, hondepisboom, hondepishout, perdepisbessie en perdebessie tot Kamdeboo-stinkhout, seerkeelboom en blinkblaar.

Sy wetenskaplike naam is Rhamnus prinoides, en hy behoort aan die Rhamnacaceae, die blinkblaar-wag-’n-bietjie, familie. Hy is die enigste spesie van die genus Rhamus in suidelike Afrika.


Die blinkblaar kan vier tot ses meter hoog word
Foto: Plantbook

Sy genusnaam ‘Rhamnus’ is die klassieke Griekse naam vir ’n verskeidenheid doringagtige struike. Sy spesienaam ‘prinoides’ is van die Griekse woord ‘prinos’, wat na die ooreenkoms met die immergroen steen-eik met sy blink blare verwys.

Waar die volksname van dié arme boompie vandaan kom, is nie baie duidelik nie. ’n Mens kan maar aanneem dat hulle meestal op die stink-tema gebaseer is, maar kom ons luister eerder na die antieke Grieke en noem hom in hierdie skrywe die blinkblaar.


Die blink blare
Foto: Wikipedia

Medisyne
Baie dele van die plant word in tradisionele medisyne gebruik, en hy word waarskynlik seerkeelboom genoem omdat daar met sy aftreksels gegorrel word. ’n Aftreksel van sy gekookte blare word gedrink om die bloed te suiwer en ’n aftreksel van sy wortels om longontsteking en respiratoriese probleme te behandel.

’n Salf word van sy blare gemaak om verstuitings en rumatiek te behandel en die blare word ook gebruik teen maagpyn en velprobleme. Dele van die plant het glo beskermingsmag teen donderweer, hou bose geeste van huise en landerye weg en bring geluk wanneer daar gejag word.

Bier en wyn word van dié plant gemaak. Sy stamme word gekook en die ekstrak word met heuning gemeng sodat dit kan gis. Blare word ook uitgedroog en fyngemaal tot ’n soort meel, wat met garsmout gemeng word en vir drie tot vyf dae laat staan word om te gis.


Die onopvallende groenerige blommetjies
Foto: Wikipedia

Slordig
Die blinkblaar word in meeste dele van die land vier tot ses meter hoog. Hy kan ’n bosagtige boompie word, maar neig om ’n slordige, yl meerstammige struik te wees in die Magaliesberg. Hy kom hoër in die berg in klowe naby water voor.

Sy hout is wit tot geel, wat baie keer bruin, pienk, rooi of groen strepe het. Dit is hard en swaar, maar te klein om vir iets anders as kieries gebruik te word. Die bas is liggrys, glad en oortrek met lentiselle.

Groot en klein blaartjies kom gereeld op dieselfde takkie voor. Sy blare is eiervormig tot ellipties of enkelvoudig, en is afwisselend en spiraalgewys om die takkies gerangskik. Die blaarbasis is spitstoelopend tot rond en die blaarpunt is spitstoelopend. Die blaarrandjies is getand en na onder gevou en die blaarsteel is ongeveer 10 mm lank.

Die blare se bokant is blinkgroen en hulle onderkant dofgroen. Hulle is haarloos, maar sou jy ’n vergrootglas nadertrek, sal jy sien dat harige holtes in die blaaroksels kan voorkom.


Die vruggies is rooi as hulle nog nie ryp is nie
Foto: Wikipedia

Blomme
Die groenerige blomme is onopvallend en word tussen November en Januarie in klein trossies van twee tot tien in die blaaroksels gedra. Hulle lok bye, skoenlappers en insekte, wat dan insekvretende voëls lok. Die blomsteel is ongeveer 7 mm lank.

Die vruggie is eiervormig tot amper rond en so groot soos ’n ertjie – omtrent 5 mm in deursnee. Elke vruggie is in drie kompartemente opgedeel en is aanvanklik groen, dan rooibruin en verkleur pers tot swart as hulle vanaf Desember tot Junie ryp word. Hulle is smaaklik en lok vrugtevretende voëls.

Die blinkblaar is ’n stadig-groeiende boompie en kan as ’n immergroen heining aangeplant word. Hy groei maklik van saad, maar die vleesagtige deel van die vrug belemmer groei en moet eers verwyder word.

Dié boom is redelik koue- en ryp-bestand en doen goed in die meeste grondsoorte. Hy het nie ’n aggressiewe wortelstelsel nie en kan ook as ’n potplant aard.


Ryp vrugte
Foto: Wikipedia