Rietvlei Natuurreservaat het weer die tuiste van jagluiperds geword. Die 18-maande-oue wyfie, Njozi, wat ‘drome’ in Swahili beteken, is op 27 Augustus daar vrygelaat. Sy gaan binnekort tydelik deur twee jong mannetjies vergesel word.
Vincent van der Merwe van Die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) het verduidelik dat twee jong jagluiperd-broers vanaf die Welgevonden Natuurreservaat in Limpopo na Rietvlei geskuif word om inteling in die Welgevonden-bevolking van sowat 20 jagluiperds te voorkom.
Die broers sal vir ses maande op Rietvlei woon sodat hulle kan aanpas voor hulle na ‘n reservaat buite Suid-Afrika geskuif word as deel van EWT se jagluiperd-uitbreidingsprojek, wat dié diere in ander lande hervestig.
Rietvlei is as tydelike vestiging gekies terwyl permitte vir hervestiging in Mosambiekse reservate verkry word. Die twee broers kan eers finaal hervestig word as die konvensie oor die handel in bedreigde fauna en flora (Cites) weer permitte kan uitreik. Dit sal eers op vlak een van inperking gedoen kan word, wat na raming in Februarie sal wees.

Njozi is in die Rietvlei Natuurreservaat vrygelaat
Foto: Garry Harris
Die broers sal aanvanklik vir drie weke in ‘n boma aangehou word om aan hulle nuwe omgewing gewoond te raak. Daarná gaan hulle in die 40 000 hektaar grootte reservaat vrygelaat word – ‘n groot genoeg ruimte om te verseker dat die jagluiperds fiks kan bly en hulle eie jagwerk kan doen.
Hulle hoef teen geen ander groot roofdiere in Rietvlei mee te ding nie en die reservaat het ‘n skenking van 250 blesbokke, springbokke, rooi hartebeeste, swart wildebeeste en sebras ontvang, wat sal verseker dat daar genoeg prooi vir die jagluiperds is.
Rietvlei was van 2003 tot 2013 die tuiste van jagluiperds. Twee mannetjies is in Maart 2003 na die reservaat geneem en hulle het altwee 15 jaar oud geword en is in 2012 en vroeg in 2013 aan ouderdom dood.
Daarná is ‘n nuwe groep jagluiperds van 2015 tot 2017 in die reservaat gevestig. Hulle het tot 14 jagluiperds aangeteel en is in 2018 na ander reservate geskuif. |