Koddige rituele kenmerk dié vlerkslepery Print
News - Ons Omgewing
Friday, 07 December 2018 08:10
Untitled Document

Het jy geweet dat rooikophoutkappers hulle gebied met gesinchroniseerde duette afbaken? En dat die duette met allerhande gekompliseerde seremonies gepaard gaan?

Rooikophoutkappers kom in groepe van tot ses volwassenes voor in ‘n gebied van 20 tot 50 hektaar. ‘n Broeipaar sal verskillende note saam roep, met die mannetjie se fluit laer as dié van die wyfie. Die geluid wat hulle maak word in voëlboeke as ‘n ‘whoep-doedoe’-klank, wat vier keer herhaal word, beskryf. Vir gewone mense klink dit kompleet asof dié voëls ‘kerkorrel-kerkorrel’ roep.

Die duet skop af met ‘n babbel-geluid, wat die groetseremonie genoem word, en die ‘kerkorrel’-roep kan verskeie variasies aanneem. Die deuntjie staan as ‘n antifonale duet bekend, wat beteken dat een voël in die paar die eerste noot sing, en die ander voël die tweede noot.

Die tyd wat verloop tussen wanneer een voël ophou sing en die ander een die deuntjie voortsit, word die ouditiewe reaksietyd vir die duet genoem. Die geskatte ouditiewe reaksietyd vir dié voëls is 178 ms. Dit klink daarom glad nie of die deuntjie deur twee verskillende voëls gesing word nie.


Die rooikophoutkapper vreet vrugte
Foto’s: Wikipedia

Rituele
Die duette word met ’n vlerkgeklap vergesel en die twee sangers draai na mekaar terwyl hulle fluit. Hulle leun dan vorentoe en buig plegtig voor mekaar. Dié voëls se gekompliseerde seremonies sluit ook swaaiende lywe en kort sprongetjies in.

Rooikophoutkappers gee ’n verskeidenheid van roepe, insluitende ’n grommende waarskuwingsroep en skril, harde gegons. Die duette neem toe hoe nader dit aan paringstyd kom, en die primêre mannetjie in die groep sal dan lugvertonings hou.

Die mannetjie en wyfie skuur hulle snawels teen mekaar en die mannetjie voer die wyfie. Hulle vreet verskeie soorte vrugte en groente en sal klein vrugte heel insluk en die pitte later uitbraak. Insekte soos termiete en kewers vorm ook deel van die dieet. Voëls sal vlieë in die lug vang en sal soms vrugte op die grond optel.


Sy snawel is kragtig genoeg om stompe uit te hol

Groep
Paartjies bly saam in ‘n groep wat mekaar help om eiers uit te broei en kuikens te voer. Die broeipaar hol egter alleen die droë stomp uit waarin hulle nesmaak.

Hulle lê gewoonlik drie tot vier eiers wat 18 tot 19 dae vat om uit te broei. Die kuikens broei kaal en blind uit en verlaat die nes na 33 tot 35 dae. Rooikophoutkappers kan tot vier keer ‘n jaar broei, maar die hoof broeiseisoen is van Desember tot Februarie.

Die rooikophoutkapper, Lybius torquatus, is ‘n bonkige voëltjie van 19–20 cm lank en 45–80 gram swaar. Hy het ‘n rooi voorkop, gesig en nek. Die rooi kleur strek tot aan die bokant van sy bors waar dit in ‘n breë swart kraag eindig.

Afwyking
Sommige rooikophoutkappers het ‘n kleurafwyking bekend as xantachromisme, die onvermoë om kleurpigmente soos rooi, oranje en geel wat uit voedsel geabsorbeer word, te verwerk.

Soos ander houtkappers is dié een se snawel kort, reguit en kragtig genoeg om stompe uit te hol. Sy snawel, voete en bene is swart.

Die rooikophoutkapper se onderste dele is geel-wit en sy stert is redelik kort. Sy rug en vlerke is bruin met geel veerpunte op sy vlerke.