Minder kat, meer hond Print
News - Ons Omgewing
Thursday, 27 February 2014 23:31
Untitled Document

Die ou boere het hom meerkat geroep, dié onnutsige kalant wat hoendereiers op die aardigste manier opbreek. Blykbaar hou hy die hoendereier tussen sy agterpote vas en begin homself teen ’n spoed agteruit dryf met sy voorpote totdat hy die hoendereier agter hom teen ’n harde voorwerp kraak. En dit, het die ou boere gesê, doen hy sonder omkyk.

Kuikendief
Die swartkwasmuishond het bekend geword as hoendereier- en kuikendief, maar hy hou baie voordele in vir mense. Hy help veral om insek- en knaagdierpeste onder beheer te kry. Dit is juis om dié rede dat baie van die muishond-spesies oral die wêreld oor losgelaat is. Tog fluister mense dat die loslatery net meer skade as goed gedoen het.

Die swartkwasmuishond se Latynse naam is Galerella sanguinea. Hy is een van die kleinste muishondspesies en is ’n opportunistiese voerder. Insekte maak die grootste deel van sy daaglikse dieet uit, wat hy aanvul met akkedisse, knaagdiere, slange, voëls, paddas en selfs vrugte.


Die swartkwasmuishond
Foto: Wikipedia

Dié brawe outjie sal terug baklei as hy in ’n hoek gedryf word en honde-eienaars moet maar versigtig wees, siende dat die swartkwasmuishond ’n draer is van hondsdolheid. Tog is daar ’n hele paar Bronbergers wat vertel wat ’n oulike troeteldier ’n swartkwasmuishond kan wees. Hy kry sy naam van die swart kwas aan sy stert se punt, maar sy lyf kan van ’n geelbruin tot ’n vos-oranje of rooibruin wees, afhangende van waar hy bly. Hy kan byna oral bly, van oop grasvelde tot koppies en digte boswêreld. Alhoewel hy op die grond bly, kan hy goed boomklim. Hy is tussen 50 en 65 cm lank, waarvan sy stert 23 tot 30 cm opmaak, en weeg tussen 370 tot 800 gram. Mannetjies is sowat 10 persent groter as die wyfies.

Swartkwasmuishonde is alleenlopers en die mannetjie speel geen rol in die grootmaak van kleintjies nie. Daar word gewoonlik twee kleintjies gebore wat so teen een of twee jaar oud volwassenheid bereik en tot tien jaar oud kan word.