Vaal diva het kleurvolle stem Print
News - Ons Omgewing
Tuesday, 29 January 2013 17:33
Untitled Document

Die bergkanarie is ‘n klein vaal voëltjie wat jy maklik sal miskyk as hy tjoepstil bly. As hy eers begin sing gaan jy beslis na die oorsprong van dié mooi geluide soek. Ongelukkig is die singery juis die rede hoekom hulle veral in Botswana gevang word vir die uitvoer kouvoël-bedryf.

Die bergkanarie, Serinus atrogularis, is ‘n algemene standvoël wat in doringveld, droë breëblaarboswêreld en naby watergate in droë streke voorkom.

Die 11 cm lange, liggrys kanarie het digte donkerbruin strepe op sy bodele, ‘n diagnostiese helder suurlemoengeel kruis en wit stertpunte wat kontrasteer met sy andersins vaal verekleed. Die swart keel kan wissel en is die opvallendste in die broeiseisoen. Die wyfie het minder swart op die keel en onvolwassenes het spikkels op die keel.

Dié groeplewende voëltjies vreet sade, blomme, nektar van aalwyne, die gom van doringbome en insekte soos termiete en selfs plantluise. Hulle soek meestal na prooi op die grond en in die blare van struike en klein boompies, maar sal vlieënde termiete uit die lug uit vang.


Die bergkanarie
Foto: Max Holdt; Finchpolis

Die broeiseisoen is van September tot Maart, met die hoogtepunt in Januarie. Aan die begin van die broeiseisoen sal die mannetjie en wyfie mekaar volg terwyl hulle soos vlinders dartel en hulle geel kruisvere duidelik tentoonstel.

Dié voëltjies kies gewoonlik net een maat, alhoewel daar al gemerk is dat tot vier voëls saam aan een nessie bou. Die koppievormige nessie word deur beide mannetjie en wyfie gebou en dit neem ongeveer ses dae om te voltooi. Die struktuur word van droë gras en fyn takkies gebou wat uitgevoer word met sagte materiaal; meestal plantmateriaal, maar hulle gebruik ook hare, wol en vere. Die nessie word tipies in ‘n regop vurk van ‘n boomtak of in die basis van palmblare geplaas.

Die wyfie lê twee tot vier eiers wat sy vir 12 tot 15 dae alleen uitbroei. Beide ouers voer die kleintjies wat die nessie na 15 tot 17 dae verlaat.