Bronnie se lesers praat oor vakansie in die jaar van die virus Print
News - Artikels
Friday, 04 December 2020 16:06
Untitled Document

Ons het ’n aantal Bronnie-lesers genader oor hulle planne vir die Kersvakansie. Ons wou weet of hulle beplan om weg te gaan en of die virus-uitbraak en die gevolge daarvan enige invloed op hulle planne gehad het: Ons het gevra waar hulle gewoonlik of gereeld vakansie hou en wou hoor, as hulle enige vakansiebestemming kon kies, waar dit sou wees. ‘Kan jy besondere vakansies uit jou kinderdae of later onthou wat vir jou uitstaan as van die lekkerste (beste) ooit?’ wou ons weet.


Johan Pretorius, die man wat dié Kersuitgawe se voorbladfoto geneem het, was sommer dadelik baie seker oor sy antwoorde. Johan woon in die Stillbosch Wildreservaat naby Klipkop en hy is “baie lief vir die bos, die natuurskoon, die voëls en diere en pragtige bome,” sê Johan.

Hy bly die vakansie by die huis. “Want dis waar ’n mens die heel lekkerste rus.” Die virus het geen invloed op sy besluit gehad nie.

Die Kruger Wildtuin is die plek waar hulle gereeld vakansie hou en as hy enige plek kon kies om te gaan vakansie hou, sal dit ook die Kruger Wildtuin wees. Die heel beste vakansie wat hy uit sy kinderdae onthou, was ook in die Kruger Wildtuin gewees.


Renette Els van Pretoria vertel dat die virus en die gevolglike inperking met ’n draai gesorg het dat hulle hierdie vakansie tuis bly.

Die reisbeperkings het veroorsaak dat hulle vir baie lank nie by hulle huis in Stellenbosch kon uitkom nie. Gevolglik was hulle ná die opheffing twee keer kort na mekaar Kaap se kant toe, waar hulle gewoonlik vakansie hou.

Die familie, kinders en kleinkinders sou saam Kaap toe gegaan het en in hulle woonstel in die Strand gebly het – “dan was ons almal lekker naby aan mekaar”. Maar dit is besluit om dié vakansie net hier in Pretoria te bly.

As Renette enige bestemming kon kies vir ’n somervakansie sou dit ‘weer’ Mauritius wees.
Vakansies uit haar kindertyd wat haar bybly, is as hulle gesin, haar ma en pa en twee broers, op Swakopmund vakansie gaan hou het. Sy onthou hoe hulle altyd ‘trekkerspore’ met hulle knieë in die strandsand gemaak het.


Koos Reyneke
is ’n ervare argitek en woon al 36 jaar op die Bronberg bokant Wapadrand. Hy skryf vir ons uit Suidwes (Namibië) en dit het alles met die virus-uitbraak te make. Ons laat Koos in sy eie woorde vertel:

“Kinderdae se Kersfees in die bosveld, oorkant die grens, in Betsjoeanaland (Botswana) was die hoogtepunt om saam met Pa te ry in die Willys Jeep stasiewa, op soek na ’n mooi donkergroen Mopipiboom met fyn blaartjies vir ’n Kersfeesboom.”

“Vir ons kinders was dit groot opgewondenheid om Ma se twee koekblikke te kon oopmaak, waarbinne al die Kersboomversierings was, veral die pragtige gekleurde glas balle, wat in watte toegedraai was. Ook die glas engeltjie met die blink ster op die punt van haar towerstaffie.”

“Vir die hele maand vooraf, het ons gereeld deur die draadhekkie na Suid-Afrika gestap, aan die anderkant van Derdepoortkoppie, na dokter Teichler se huis, om elke dag te sien hoe hulle agt kinders een of ander deurtjie of venstertjie van hulle Kersfeeskalender oopmaak, altyd met ’n spesiale boodskappie daaragter, op pad na hulle Weinachtzeit. Óns het nie so iets gehad nie.”

“Die blik kersblakertjies het knypers aan gehad om, amper soos ’n wasgoedpennetjie, aan die Mopipiboomtakkies vas te kon knyp! Dié kersblakertjies moes met ’n nuwe lang kersie getoets word, sodat daar genoeg oop plek bo die kersie was, dat die vlammetjie nie dalk Kersaand ’n takkie of blaartjies daarbo aan die brand sou steek nie.”


Koos en sy katte in Wapadrand

“Bokant Wapadrand, skuins teen die hang van die Bronberg, het Paulette en ek, vanaf 1983, ook elke jaar ’n Kersboom gehad . . . eers vir 11 jaar vir ons eie kinders in Kierieklapperkop, maar later ook hoër op in die berg, in die Klipberghuis, bokant Rotspas, vir nóg 22 jaar. Uiteindelik, ook vir ons kleinkinders.”

“Op 23 Maart 2020 drink Paulette en ek ’n glasie borreltjie-doepa om ons 53-ste huweliksherdenking te vier, kort na die Sjinese-pes uitgebreek het. Ons hoor oor die oggendnuus dat die president die land se inwoners die middag hieromtrent gaan toespreek. Daar is sterk gerugte oor inperking en reisbeperking.”

“Met jou baie werk in Suidwes, moet jy dalk sorg dat jy gou uit Suid-Afrika uit kom, sommer nou oppak en ry, sê sy tydens ontbyt.”

“Ek moes klomp goed doen maar twaalfuur begin ek huis toe jaag toe ek besef Paulette is reg. As hulle die landsgrense sluit, is ek bankrot! Byna al my werk is in Suidwes.”

“Ek bel haar na een by Atterbury Teater en sê ek jaag huis toe om te gaan pak, maar daar is nie tyd om haar wéér te kom groet nie.”

“Ek gaan saam! Die kinders sê ek kan jou nie alleen laat gaan nie! Netnou sit jy ’n maand of dalk twee daar alleen vasgekeer!”

“Dis reeds agt maande later. Kersfees, sal dit meer as nege maande wees. Ek sit steeds in Suidwes. Paulette kon laas maand vir die eerste keer huis toe. Gelukkig kon sy weer terugkom.”

“Ons het die wonderlike vooruitsig dat byna al ons kinders en kleinkinders vir ons hier in Windhoek en Swakopmund gaan kom kuier vir Kersfees 2020!”

“Wie sou dit nou ooit kon dink of raai op 23 Maart, agt of nege maande gelede?”


Cotie Steyn
van Centurion sê die Bronnie is saam met hulle in Desember 2020 om ’n baie moeilike jaar af te sluit en so kon sy gelukkig elke maand met die inperking die Bronnie aanlyn lees, sonder om ’n voet by die deur uit te sit.

Junie 2020 se buiteblad met die pragtige aalwyn op, was vir haar baie spesiaal. ’n Alwyn is sterk en gehard. Sy het uitgesien na haar 80ste verjaarsdag in Junie 2020. Spesiaal op haar verjaarsdag, ’n foto saam met ’n aalwyn. Haar aalwyn-plantjie was besig om dood te gaan. Sy het dit onder haar sorg geneem en siedaar! Dit het haar beloon met ’n pragtige  blom vir haar verjaardag, sê Cotie.

Haar dogter wou graag vir haar die dag spesiaal maak. Familie en vriende was genooi om saam te kuier in hulle pragtige tuin. Die Covid-19 het egter ’n stokkie daarvoor gesteek. “My liewe dogter het gesien hoe teleurgesteld ek was. Sy het my daagliks besoek. Toe die datum al nader kom, besluit sy dat ek darem op my verjaarsdag na haar huis kan gaan. Sy en haar man, wat ook ’n goeie kok is, het moeite gedoen om dit vir my spesiaal te maak. Beter as enige vakansie,” sê Cotie.

“My twee kleindogters met hulle mans en babas was ook daar. Maskers het ons gedra en ’n distansie gehandhaaf. Ek was baie opgewonde om my eerste agterkleindogter te kan sien! Dit was ’n baie eienaardige gevoel om nie eers aan haar te kon raak nie. Die naaste wat ek aan haar was, was toe daar ’n foto van ons geneem is. En dit was so vinnig, ons het skaars gesit, of ons was weer ’n distansie weg van mekaar. Maar dank die Heer, niemand het siek geword nie. Dit net baie geniet.”

Kersdag sal hulle weer bymekaarkom en in die tuin, onder die bome, gesellig saamkuier, terwyl haar identiese-tweeling agterkleinseuns heerlik op die gras kan baljaar. Hulle het onlangs begin loop. En Cotie se agterkleindogter sal sy darem kan vashou. Natuurlik sorg die twee mammas vir voorsorg en die nodige ontsmettingsmiddels, sê Cotie. Hulle handhaaf die ou spreekwoord: “Voorkoming is beter as genesing.” Ons is as familie saam en gelukkig dat ons bymekaar kan wees sonder om vasgedruk te voel en die vars lug te kan inasem.


Louise Du Plessis
van Silverwood-landgoed sê Kersfees is om die draai en vir die eerste keer kan sy haarself nie kondisioneer om haar Kerstyd-beplanning, wat gewoonlik teen dié tyd stewig op dreef is, behoorlik in rat te kry nie.

“Dit voel of die jaar nie uitgeloop het nie, dat ons ’n lang tuisbly-vakansie gehad het met die inperking saam, maar nie uitgerus is met die skielike werksdruk wat daarna gevolg het nie. Tog het ons net ná die provinsiale grense oopgestel is die lekkerte gehad van ’n week se wegbreek na die St Lucia meer en gaan ons middel Desember ’n paar dae Sun City toe voor die groot vakansie stormloop,” sê Louise.

Daarom het hulle besluit om weer met Jan Tuisbly se karretjie te ry rondom Kersfees. Eerstens oor hulle reeds kon wegbreek en ook oor die Covid-19 gevaar. Tweedens aangesien hulle al in die hoër ouderdom risiko-groep val en derdens om eerder die tyd saam met hulle kinders deur te bring. Die tradisionele Kersete gaan moet plek maak vir ’n gemaklike braai, darem met ’n heerlike skaapboud en die tradisionele koekstruif.

Met kinders wat reeds die huis verlaat het, kan hulle maklik reis en geniet hulle dit om verskeie plekke te besoek en te verken. Die Drakensberge en plekke in die omgewing van die tuinroete in die Wes-Kaap, onder andere Tesen-eiland in Knysna, bly egter van hulle gunsteling vakansiebestemmings.

Dit is ook met verblyf in Plettenberg en Knysna, waar Louise as kind saam met haar ouers onvergeetlike lekker vakansies gehad het. Min plekke in Suid-Afrika bied so ’n wye spektrum van dinge om te doen en te sien, meen sy.

Victoriabaai met sy reuse branders waar hulle verskeie kere omgeslaan is; die prentjie mooi Tsitsikama met sy voetbrûe en groot ronde klippe waaroor die blou-blou seewater spoel; die volstruisplase waar hulle onsuksesvol gepoog het om op die volstruise se rûe te ry; die Kangogrotte waar sy doodbang was om deur die ‘skoorsteen’ te klim; die ry met die Outeniqua Choo Tjoe tussen George en Knysna en soveel meer, is vakansie-ervarings wat sy altyd sal onthou.

’n Vaart aan boord van ’n passasierskip wat aandoen by verskeie hawens bly egter hulle heel gunsteling vakansie. Hulle droom is om, wanneer omstandighede dit toelaat, vanaf Vancouver, Kanada op ’n vaart na die Verre Ooste, wat aandoen by Alaska en Mount Fuji, te vertrek, sê Louise.


Altie Potgieter van die Cullinan-omgewing sê hulle het besluit om vir die eerste keer in baie jare Suidkus toe te gaan vir vakansie. Omdat al drie hulle kinders in die skool is en sy self in die onderwys is, moes hulle maar altyd in skoolvakansies iets doen – as die finansies dit toelaat, sê Altie.

Só het hulle lank voor die tyd bespreek en afbetaal aan ’n lekker vakansie in Uvongo vir Maart 2020. Hulle wou juis in Maart gaan, want dan is dit nie te warm nie en in Junie/Julie is dit weer te koud.

Die vakansie het toe aangebreek en hulle gesinnetjie van vyf is see toe. Altie vertel dat hulle skaars by die see was toe die aankondiging gemaak word dat inperking op Donderdag om middernag begin. Op hulle eerste dag was die strande nog oop en die kinders kon swem. Op dag twee het al die strande toegemaak en “ons kon aanvoel dat daar moeilikheid is”.

Op dag drie het hulle begin pak en die volgende dag in die pad geval sodat hulle voor middernag by die huis kon wees. Hulle was “so hartseer, kwaad en gefrustreerd, want alles was verniet. Die maande se afbetaal. Die petrol, die tolhekke en veral die hele vakansie-gevoel – alles verniet”.


Altie kamp as kind by die viswaters saam met haar pa

Terug by die huis het die inperkingstyd begin. Sy en die kinders was beperk tot die huis, maar haar man se werk is as noodsaaklik beskou en hy het elke dag gaan werk. ’n Bietjie goeie nuus is dat die eienaar van die vakansiewoonstel tegemoetkomend was en hulle genooi het vir ’n week se vakansie sonder enige verdere koste. Hulle beplan om vroeg in Januarie 2021 weer te gaan. Altie sê hulle is baie opgewonde oor die vooruitsig om hulle see-vakansie “oor te hê”.

Die beste vakansie is vir Altie by die see, omdat hulle in die bosveld bly. Die mooi herinneringe van vakansies uit haar kinderjare was ook dié by die see of ’n dam. Altie se pa het ’n groot Mercedes ‘trokwoonwa’ gehad waarmee hulle altyd vakansie gaan hou het. Dit was ingerig met alles wat ’n mens nodig kan hê: Oondjie, yskas, vrieskas, beddens, kaste en selfs ’n toilet.

Haar pa was baie lief vir visvang en die boot was agter die trok-woning gehak. Hulle was vyf kinders en hulle het altyd gekamp. Dit was Altie se beste tye in haar kinderlewe en sy sal dit altyd onthou, sê sy.