Rommel-delwers bespaar die land miljoene Print
News - Artikels
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Informele rommel-sorteerders versamel 80% tot 90% van gebruikte verpakkingsmateriaal en papier wat in Suid-Afrika herwin word. In die proses spaar hulle munisipaliteite jaarliks tot R750 miljoen in stortingsterreine, maar tog ontvang hulle baie min geld vir die herwinbare produkte wat hulle verkoop en word hulle gereeld deur owerhede en omgekrapte huiseienaars weggejaag.

Dié feite het aan die lig gekom by ‘n Nasionale Rommel-sorteerder Integrasie Werkswinkel wat die Departement van Omgewingsake op 9 April in Pretoria gehou het.

Dié departement het riglyne opgestel oor hoe munisipaliteite dié rommel-delwers formeel in hulle rommelbestuurstelsels kan integreer. Die riglyne is by die werkswinkel aan plaaslike munisipaliteite, private maatskappye, burgerlike organisasies, rommel-sorteerder verenigings en akademici oorhandig.


’n Informele sorteringsperseel in die veld langs Hans Strijdomrylaan
Foto: Ron Sibiya

Navorser Melanie Samson het gesê dat die departement riglyne opgetrek het sodat die sleutelrol wat rommel-sorteerders in die herwinningsekonomie speel, erken kan word en om te verseker dat die toestande, inkomste en posisie van dié mense verbeter kan word.

Die departement se rommelbestuur-direkteur, Dumisani Buthelezi het gesê dat die eerste stap is om alle rommel-sorteerders in die land te registreer. Hy sê die departement beplan ook om handhawingsagentskappe, soos die metropolisie, op te lei oor hoe om rommel-sorteerders te hanteer.

Die riglyne dui aan dat rommel-sorteerders vir hulle dienste vergoed moet word en daar word gewerk aan toegang tot hulpbronne, soos om driewielfietse met mandjies vir hulle te kry in plaas van die trollies wat hulle op sypaadjies stoot.


’n Informele rommel-sorteerder met kartonne
Foto: ‘Waste picking in South Africa’

Melanie het gesê dat dit belangrik is om begrip te hê vir dit wat dié mense doen. Hulle is die vermiste skakel wat herwinbare produkte uit die rommelstroom verwyder en aan die herwinningsbedryf verskaf.

Dumisani het gesê dat munisipaliteite met rommel-sorteerders moet saamwerk om stortingsterreine wat toegemaak is, te omskep in terugkoop-sentrums en sorteringsruimte vir rommel-sorteerders.
Die Tshwane metro-munisipaliteit het R9,2 miljoen begroot om herwinningsterreine beskikbaar te stel.

Dit sal deel vorm van die formalisering van informele rommel-sorteerders. Die burgemeester, Steven Mokgalapa, het gesê dat informele herwinners, wat op padreserwes hulle sorteerdery doen, na formele persele geskuif sal word sodat hulle rommel kan sorteer sonder om skade aan die omgewing te doen.


Rommel-sorteerders se trollies gaan met driewielfietse vervang word
Foto: ‘Waste picking in South Africa’

Een só ‘n informele sorteringsperseel is in die veld langs Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) oorkant Waterkloofrif BP vulstasie. Ongeveer 50 mense, insluitend kinders, woon nou daar in tydelike strukture. Sakemense kla dat trekkerlaaiers en ander groot masjinerie gereeld daar aandoen om materiaal op en af te laai.

Die veld waar die mense woon en werk is ‘n provinsiale padreserwe.