Dit is weer tyd vir groot feesvier en geesvang by
Willem Prinsloo se geskiedkundige ou plaaswerf.
Elsabé Maré
Op Saterdag, 6 September trek
die mense van vandag weer
saam op die mense van gister
en eergister se plaas tussen
Rayton en Bronkhorstspruit. Dan
word daar met oorgawe gedeel in
tant Miertjie se erfenis as die
Willem Prinsloo Landboumuseum
sy jaarlikse Plaasfees opdis.

Die Stock-trekker is die oudste in die land en word spesiaal vir die Plaasfees uit die museum getrek om
deel van die uitstalling te wees.
Die plaas is nagenoeg 20 km oos
van Pretoria as jy met die N4-snelweg
ry. Die ingang, waar ’n ou
stoomtrekker wagstaan, is langs die
ou Pretoria- Bronkhorstspruitpad.
Hier wag die heerlikheid van die
ou plaasopstal en -werf met sy
masjienerie, plaasdiere en andertydse
atmosfeer op die besoeker.
Die Plaasfees wys jou nie net hoe
daar destyds gelewe, geboer en
makietie gehou is nie, dit laat jou
meedoen in die lekkerte van toeka
se plaaslewe.
Familie, vriende, kunstenaars, oud
en jonk trek dan saam op die plaas
van die destydse raakvat-boer,
Willem (Wragtag) Prinsloo.
Willem het in 1896 die noordelike
deel van die plaas Elandsfontein
van Roelof Minnaar teen £570
gekoop.

Die nuwe Massey Ferguson en die ou Vaaljapie ploeg saam-saam. Die museum het so pas die 200 000ste Vaaljapie wat gebou is van die Universiteit van Pretoria bekom, kompleet met sy ploeggies, nog met die oorspronklike verf.
Die agterkleinseuns van Roelof
Minnaar, vertel hoe die plaas toentertyd
opgemeet is. ’n Twee-uur-teperd-
plaas was in daardie dae die
norm. Die voornemende koper
moes vooraf bepaal waar die
vertrekpunt en middelpunt van die
opmeting sou wees. Die koper en’n regeringsopmeter het dan die
eerste baken by die vertrekpunt
opgerig.
Te perd, vir een uur lank en teen ’n bestendige pas, het hulle in ’n
oos-westelike rigting gery tot oor
die voorafbepaalde middelpunt.
Daar het hulle die tweede baken
opgerig en dieselfde proses in die
noord-suidelike rigting herhaal. En
só het jou twee-uur-te-perd- plaas
sy grense gekry.
Diamante
’n Entrepreneur met die naam van
Thomas Major Cullinan het by
Olifantsfontein ’n fortuin byeen
gebring as ’n bouer wat sy eie
stene vervaardig het. Cullinan se
stokperdjie, om te prospekteer vir
diamante, het hom na die noordwestelike
deel van Elandsfontein
gelok, ongeveer 40 km noordoos
van Pretoria.
Willem Prinsloo het verseg om vir
hom ’n opsie te gee om dié deel te
koop of daarop te prospekteer.
Willem het vroeër twee plase, een
in Modderfontein, afgestaan nadat
prospekteerders minerale daarop
gekry het. Toe hy hom op Elandsfontein
kom vestig was hy mooi
keelvol vir trek en het hy verklaar:“As daar weer ’n prospekteerder
naby my plaas kom, skiet ek vir
hom “wragtag”. Vandaar sy bynaam,
Willem Wragtag.

Thomas en Annie Cullinan en hulle
kinders.
. .
|

Fred Wells, die oppervlakbestuurder van die myn, wat die beroemde
Cullinan Diamant van 3 601 karaat in 1905 nege meter af teen die
klipperige kant van die oopgroefmyn ontdek het, staan by Willem Prinsloo
op die plaas en nooi hom om na die Cullinan Diamant te kom kyk. |
Tom Cullinan was egter nie ’n man
wat maklik bes gegee het nie. Hy
maak toe ’n plan en op ’n mooi
dag vertel hy vir Willem dat een
van sy trekosse na Willem se
grond verdwaal het en dat die
betrokke os die gevreesde en
hoogs aansteeklike miltsiekte
onder lede het.
’n Omgekrapte Willem vrees toe
dat sy eie beeste sal aansteek en
sê dat Tom die dier daar en dan
moet doodskiet en begrawe.
Onnodig om te sê dat die gat
groot genoeg was vir ’n hele paar
osse, en so het Tom toe onder die
niksvermoedende neus van Willem
Wragtag geprospekteer. Tom het
reeds vermoed dat daar op ’n koppie’n ryk vulkaniese pyp kimberliet,
die sogenaamde blou grond,
vol diamante skuil.
Na die Tweede Vryheidsoorlog
kon hy wel dié gedeelte van
Elandspoort koop. Met sy bewyse
dat die vulkaniese pyp bestaan,
word die maatskappy as The Premier
Syndicate Limited in November
1902 geregistreer. Kort daarna
word dit The Premier (Transvaal)
Diamond Mining Company
Limited.
Vandag word die geskiedkundige
plaaswerf, bekend as die Willem
Prinsloo Landboumuseum, en die
diamantmyn, bekend as Cullinan
Diamond Mine (Pty) Limited,
steeds bedryf, en as gerekende
kultuurskatte deur menige
entoesiastiese toeriste besoek.
Bewaar
Die landboumuseum het ontpop
as opvoedkundige inrigting toe
tant Miertjie, ’n kleindogter van
Willem Prinsloo, die deel van die
plaas waarop die ou opstal en
buitegebou staan, vir die nageslag
geskenk het.
Die gewilde opvoedkundige programme
wat hier deur die museum
vir skoliere aangebied word, lok
skoolkinders wat weer hulle ouers
en familie hiernatoe bring. Hier
kan jy nog die bakkiespomp sien
werk as die donkie, genaamd
Marian, met groot humor vernoem
na die kurator van die museum,
haar langsame draaie maak. Jy kan
ook die ganse en eende wat in die
borrelende, skoon leivoor speel,
voer, leer hoe om ’n regte riem te
brei of hoe om die voorslag van ’n
sweep met ’n knal te laat klap

Die leidam is so heerlik skoon dat die ngunibees sommer instap om water te drink.
. |

Bekende kunstenaar van Rayton, Ernest Rood, het hier kom kamp en luister saans na die jakkals wat by die dam roep. |
Op die plaasfees kan jy sien hoe ’n
eertydse smidswinkel werk en hoe
vetkerse gemaak word. Jy kan
brood uit ’n buite-oond, of pap-enkaiings
beproef. Sou jy wou, kan jy
dit selfs met perskemampoer uit
die plaas se eie stook-ketel afspoel.
By Tant Miertjie se Kombuis, die
restaurant wat sewe dae per week
oop is, kan jy tradisionele potjiekos
bestel, of tuisgemaakte ‘konserf’ en
gebak vir die spensrak aanskaf.
Jy kan met ‘Friends of the Rail’ se
stoomtrein van Capitalpark af na
Raytonstasie toe en dan per bus
tot by Willem Prinsloo se plaas ry.
En van vervoer gepraat, die
museum spog met die grootste
versameling perd- muil- donkie-, osen
selfs bokgedrewe rytuie in die
suidelike halfrond. Koetse en
perdekarre van beroemdes en
berugtes uit vervloë se dae word
hier bewaar.
 Piekniek onder die bome is baie gewild. Hier vier die familie en vriende van die tweejarige Sheldon Victor sy verjaarsdag.
Almal het ten doel om die kultuurskatte
van die land in werking en
behoue te laat bly. Daarom is die
museum ook die standplaas van
die Hoëveld Veteraan Trekker en
Enjin-klub wat vanaf 1992 bestaan
en lede van Ermelo, Warmbad,
Standerton en selfs Malelane
insluit.
Die span geesdriftige manne het
met die sogenaamde ‘start-up’
dae daarin geslaag om van die
museum se masjiene, enjins en
trekkers weer aan die loop te kry.
By geleenthede soos die plaas- en
mampoerfees kan jy sien hoe die
Farmall M trekker of die McLaren stoomtrekker, wat nou deur
Friends of the Rail gerestoureer
word, Jannie Smuts se dorsmasjien
aandryf en deur die klublede gevoer
word.
Ploeg
Eienaars en geesdriftiges bring
hulle enjins, wat byvoorbeeld ’n
waterpomp laat loop, hul ploeg-,
plant- en oestoerusting en hou
plegtig ’n ploegsessie. By so ’n
ploegsessie het Morné Groenewald,
wat in Pretoria bly, en sy
trekker, ’n Massey Ferguson 35X
wat op sy erf staan, hier kom leer
hoe om daardie draai onder in die
land te vat.
Kom kyk hoe Sagrys Celliers sy
skape skeer - hy bring al die toerusting
wat benodig word vir so ’n
demonstrasie.
Op die Plaasfees kuier almal by die
vlooistalletjies, wat alles en nog
wat verkoop, of benut die heerlike
piekniekgeriewe, maar jy kan ook
met die trekker en sleepwa ry om
by al die besienswaardighede uit
te kom.
Almal wat wil deelneem, uitstal,
demonstreer of
goedere verkoop
kan die museum
skakel vir inligting. Bel vir Lettie by
012-736-2035/6, Petrus by
082-906-1972 of Peter by
072-404-1848.
Toegang is R15 vir volwassenes en
R5 vir kinders. Alle inkomste word
gebruik om toerusting in stand te
hou. Die fees is van 9 vm tot
5 nm.

Ou, onherstelbare trekkers is op die plaaswerf gelos vir die kinders om op te klouter. |

Die kindertjies staar in verwondering as Joseph Mthimunye sy sweep klap vir hul plesier. |
|