Missiele op wiele warrel deur mielielande Print
News - Artikels
Wednesday, 16 July 2008 02:00
Untitled Document

Die Rayton-Cullinan-distrik se plaaspaaie, mielielande en selfs die Zonderwater gevangenisterrein is op 21 Junie op horings geneem deur missiele op wiele.

Die Suid-Afrikaanse Motorsportklub (SAM) se vyftigste verjaarsdag is hier met ’n streekstydren gevier. Die Prisma Comms SAM 100-Tydren is in samewerking met De Haven Oost oord en gastehuis aangebied. Volgens ’n segspersoon van die oord se gebeurtenisspan, het 52 renmotors ingeskryf vir die agt roetes oor honderd kilometer.

Ter laaste ure het daar nog 5,3 km gekort om die roete te voltooi, en Nikita van Heerden en Phillip van Vuuren van die gebeurtenisspan het vir Gerhard Kuhn van SAM- organisasie bygestaan om die laaste kilometers op Willow Valley Farms te kry. Van meet af aan was dit ’n miernes van bedrywighede. ’n Reuse biertent waar kunstenaars opgetree het, 80 uitstallers, ponieritte en springkastele het die publiek gelukkig gehou.


Collin Wilson en Geoff Tyrer in goeie luim by die wegspringplek

Schalk Burger teken ’n vinnige tyd aan op die Zonderwaterpad


Danie Stassen van Nelspruit saam met sy navigator, Lirene du Plessis, by die Subaru GT

Vroegoggend moes die karre registreer en hulle odometers op die R104 instel. Daarna het hulle die agt verskillende trajekte aangepak en tussendeur by hulle ondersteuningspanne aangemeld.

Uitkykpunte vir toeskouers is deur ondernemings geborg. ’n Aangename gees van afwagting het by die elf uitkykpunte geheers en die deelnemers is luid toegejuig. Selfs die skielike reëntjie kon nie die opwinding demp nie.

Mense wat nog nie ’n moderne tydrenmotor in aksie gesien het nie, se monde het oop gehang by aanskoue van soveel spoed en die vernuf waarmee die manne dié renmotors hanteer. Veral die viertrek Subaru renmotors, laasjaar se wêreldkampioen, was baie indrukwekkend met hulle spoed deur die mielielande.

Schalk Burger senior en Richard Leeke van die PMC-klub het met hulle Subaru STI om 8:30 vm weggespring en die laaste motor het net na 6 nm ingeklok. Volgens Willie du Plessis, hoofbaanbeampte van die tydren, het 36 van die 52 renmotors klaargemaak en die vinnigste tye is in die gevangenisterrein se mielielande aangeteken.

Die eerste drie plekke was renmotor 75 van Schalk Burger, renmotor 66 van Jose Ferreira en renmotor 273 van Colin Wilson. Willie se mening is dat dit ’n baie suksesvolle funksie was, en dat die tydren waarskynlik weer dieselfde tyd volgende jaar hier aangebied kan word afhangende van Sport SA se kalender. Die volgende tydren vind op 19 November 2008 in die Delmas omgewing plaas.

Verskeie verdienstelike instansies het by die geleentheid gebaat, insluitende Tshepong-sentrum, Refilwe Wees- en Kwesbare Kindersorgsentrum, Qumi Huis, Kleinfontein Sorgsentrum en Paul Jungnickelhuis.


Een van die lang trajekte deur die mielielande van die Legemaatsboerdery buite Rayton

 

 



Nikita van Heerden en Phillip van Vuuren oorhandig kospakkies namens die bestuur van De Haven Oost aan Refilwe Weesen Kwesbare Kindersorgsentrum. Van links na regs staan: Katlego Magolego, Thabo Manne, gemeenskapsontwikkelaar en welstand ko÷rdineerder vir De Beers Cullinan Myn, William Kgabo, Tshepong-sentrum vir mense met gebreke, Khomotso Goodstaff, Tebogo Mogosi, Evelyn Matlala, versorger, Lukas Pelesi, Phillip van Vuuren en Nikita van Heerden.